
As sy die dag gefrustreerd of hartseer is, gaan Christina Bergh gim toe of gaan draf lang ente op die strand. Maar die afgelope paar maande het gebeure haar na ’n kruispad gelei van waar sy nie meer wil weghardloop nie.
‘‘Dit was ’n ontsettend moeilike besluit, maar hier is ek nou,’’ sê die 32-jarige donkerkop vasberade. Dan volg die skok-onthulling: ‘‘Ek het net soos Janine van der Vyver en baie ander vroue ’n verhouding met Steve Hofmeyr gehad. Veertien jaar lank het my hart en my lyf aan hom behoort, maar nou is dit verby.’’
Die verhouding tussen hulle het begin toe sy nog maar ’n kind van 18 was – nog voor hy Janine of sy toekomstige vrou, Natasha Sutherland, ontmoet het. En dit het langer geduur as enige van daardie twee. Sy het bly glo sy is, soos hy op ’n keer aan haar gesê het, sy “toekoms’’. Toe klap hy die deur in haar gesig toe . . .
Dit was ’n geheim wat Christina, ’n eiendomsagent, gedink het sy sal met haar graf toe neem. Dit het lank geneem voor sy besef het die geheimhouding van haar affair is in niemand se belang nie, allermins haar eie.
Toe sy verlede week se Huisgenoot oopslaan en lees van Janine se ervaring oor hoe Steve haar en hul verhouding in die vieslikste taal op sy blog verkleineer, het haar eie dwaasheid haar soos ’n voorhamerhou getref. ‘‘Met elke storie wat die afgelope jare uitgekom het, het iets in my binneste doodgegaan.
‘‘Ek was ’n dwaas om te dink dat ek die enigste skelmpie is. Ek was naïef en het my blind gestaar teen die moontlikheid dat ons bymekaar sou uitkom as sy huwelik op die rotse is.’’
Toe sy destyds gelees het van sy verhouding met Janine, het Christina se wêreld tot stilstand gekom. ‘‘Ek het die tydskrif emosieloos oopgemaak, daarna gekyk en weer toegemaak. Daardie nag toe ek alleen was, het ek op my knieë gegaan en gehuil.’’
Kort daarna het sy begin nagmerries kry. “Toe ek Steve vra hoekom hy my nooit van Janine vertel het nie, het hy gesê dit het niks met my te doen gehad nie en wat sou dit my gebaat het om te weet van haar?’’
Christina wys haar foto’s van haar en Steve in Huisgenoot van 30 Julie.