Friday, 31 July 2009

Mickey, man agter Proteas se sukses


Die lug is onheilspellend donker en kinders haas hulle huis toe voor dit begin reën. Hulle spring oor plasse buite die hoë mure van Mickey Arthur se huis in die spogbuurt Nahoon in Oos-Londen. Afgeëts teen die lig in die voordeur wag die Proteas se afrigter met ’n gul glimlag. ‘‘Ons was met vakansie. Drie weke in Umhlanga, louter genot.’’

Die afrigter van die nasionale krieketspan lei ons deur die huis wat hy met Yvette en hul dogters, Brook-Leigh (16), Kristin (14) en Ashton (11), deel, verby die tafel besaai met die meisies se huiswerk na die bastion van manlikheid in dié huis vol vroue: sy kroeg in die woonkamer. Op ’n ereplek staan ’n houtstandbeeld van ’n krieketspeler met sy kolf gereed en sy oë op die bal. ‘‘Dis my kosbaarste besitting,’’ sê Mickey van die geskenk wat Yvette hom gegee het.

‘‘Ek het dit 12 jaar gelede in Kimberley gekry,’’ sê sy en kyk trots na haar man van 18 jaar. ‘‘Ek het dit gesien en gedink Mickey sal altyd dol wees daaroor.’’

Die Proteas het ’n uitsonderlike jaar agter die rug: hul toetsoorwinnings oor die Engelse en die Australiërs, en die hoogtepunt om die seisoen af te sluit as die nommereen-eendagtoetsspan en die naasbeste toetsspan.

‘‘As Engeland en Australië nou net gelykop wil speel in die toets om die As, kan ons nommer een wees,’’ mymer Mickey.

Die werk aan dié hoogtepunt het al 18 maande gelede begin. ‘‘Ek en Graeme (Smith) het gaan sit en beplan en toe in die rigting van ’n paar groot doelwitte begin werk.’’

Hy kyk na die medaljes en pryse om hom en spog: ‘‘Ons speel met die selfvertroue wat kom van voorbereiding vir die groot oomblikke. Die oorwinnings in Engeland en Australië het die span met ’n oorweldigende gevoel van prestasie vervul.’’

Lees wat Mickey oor die Protea-sterre te sê het in Huisgenoot van 6 Augustus.