
Heidelberg in die Kaap bars uit sy nate van trots, en met rede. Twee van die dorpskinders is deesdae bekende sepiesterre, en vandag stap ons saam met hulle in die strate van hul grootword-plek rond. So plat op die aarde is hulle dat jy skaars kan glo Christo Davids (Errol van 7de Laan) en Theodore Jantjies (Xander, ook van die Laan) se gesigte pronk elke aand op die mense hier in Heidelberg se TV-stelle.
Christo se TV-loopbaan het op elf begin as die jong Dial September in die dramareeks Onder Engele. En toe word hy die jongste mens wat al ooit vir ’n Artes-prys as beste akteur benoem is. Kort daarna het hy in die dramareeks Meeulanders gesig gewys, en daarna was daar verskeie verhoogrolle. Vandag spog die man met ’n rits pryse, onder meer die ATKV se prys vir die beste akteur in 1999 vir die verhoogstuk Kontiki.
Sy liefde vir die verhoog het hy te danke aan sy oupa Goliath Davids, ’n ou TV-gesig en op sy dag Seling in Fiela se kind. ‘‘Al het my ouers nie gedink drama is ’n regte werk nie, het my oupa my alles geleer wat ek vandag van toneelspel weet,’’ vertel hy.
En Theo? Die aantreklike donkerkop vertel hy was sy lewe lank nog ’n dromer – maar klaarblyklik een met ’n avontuurlike streep. ‘‘Ek het my lyf MacGyver gehou en wou altyd polisieman, brandweerman of die een of ander held word.’’ Hy het om die beurt by ma Petronella en ouma Nellie Geswindt gewoon. As die een hom kwaad gemaak het, vertel hy, het hy koers gekies na die ander. ‘‘Ek was vreeslik hardekwas.’’
Petronella, ’n veearts-assistent, stem saam. ‘‘Maar hy was nogal selfstandig en het nie een keer uit die skool gebly nie, al was hy siek,’’ vertel sy. ‘‘Hy het altyd gedroom hy sal eendag op TV wees; dan het ek altyd gedink: Wat praat die kind, sulke goed sal tog nooit gebeur nie.’’
Maar sedert hy ’n paar jaar gelede by 7de Laan ingeval het, loop sy nie een episode mis nie, vertel Petronella.
Lees in Huisgenoot van 2 Oktober meer oor Christo Davids en Theodore Jantjies se pad na Sewende Laan.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.





