Thursday, 25 September 2008

YOU SPECTACULAR


GELUKSGODIN GLIMLAG VIR MICHELLE PIENAAR

Toe die eerste plathand haar in die gesig tref, was sy verwese. Audrey, die beminde bruinoog-sekretaresse van Egoli, kon nie glo haar saggeaarde man sou ooit sy hande vir haar lig nie.
Maar in ’n onverwagte kinkel wat kykers die afgelope twee maande stomverbaas gelaat het, het Shaun Gillian, eens almal se liefling-giminstrukteur, Audrey eers emosioneel en toe ook fisiek mishandel.

Vir Michelle Pienaar, op die kassie in die rol van Audrey aan die ontvangkant van die misbruik, was dit ’n lewensveranderende ondervinding. Sy was so aangegryp daardeur dat sy ’n geldinsamelingsprojek vir mishandelde vroue begin het.

In Egoli het dit alles begin nadat Shaun besluit het om sy werk te bedank en heeltyds met aandele te woeker. Hy het ’n klomp geld verloor en sy vrou emosioneel begin afkraak. In ’n woedebui rand hy haar toe aan.

In die werklike lewe het Michelle (28) self ondervinding van sulke vergrype, maar gelukkig darem nie eerstehands nie. In haar en haar man se huis in Sunninghill, Johannesburg, lyk sy net so gelukkig soos haar karakter aanvanklik saam met Shaun was. Sy en Norvaal Crosson (34) is nou ses maande lank getroud.

Maar die gebeure op stel het aan haar gevat, erken die brunet wat sedert 2001 in die sepie speel. ‘‘Toe die skrywers my vertel hulle gaan dit inwerk, het ek huis toe gegaan en eers mooi daaroor gaan dink. Ek het besef ek moet die rol oortuigend vertolk, anders sou dit nie werk nie.’’

Dit was vir Marlon Roelfze, as Shaun, net so moeilik om die tonele te skiet as vir haar, sê Michelle. ‘‘Ons het ’n instrukteur gehad wat vir ons gewys het hoe om die baklei-tonele te skiet. Elke keer het Marlon agterna vir my gesê hy is jammer. En hy wou heeltyd weet of hy my seergemaak het.’’

Kykers se reaksie op Egoli se webtuiste was baie interessante leesstof. ‘‘Een vrou het geskryf Audrey is pateties, sy moet net loop. Toe skryf ’n ander sy is self daardeur en sy het elke oggend wakker geword en gehoop die aanranding sou daardie dag ophou. Ek verstaan dit nou.’’

– Lees in Huisgenoot van 25 September meer oor Michelle Pienaar se liefdesgeluk.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.