Thursday, 27 November 2008

Heléne Lombard wys haar drie seuns


Wanneer die voëltjies soggens begin fluit, is daar ’n rustigheid in die huis. Pa bring vir Ma ’n koppie tee of ’n skuimende cappuccino in die bed en klim self weer terug onder die komberse. En al drie seuntjies sit op ’n streep tussen hul ouers teen die opgepofte kussings.
Dis ’n vredigheid wat niks kan versteur nie . . .

Maar drie woelwaters onder die ouderdom van vyf kan nie lank gelyk stilsit nie, en wanneer die vrede met sonsopkoms verby is, speel die aktrise Heléne Lombard en haar man, Craig (40), die res van die dag behoorlik aflos. Terwyl Heléne die twee maande oue Ronin borsvoed, sorg Craig, ’n prokureur, dat klein Lucien (4) en Marcel (2) hul melk drink. En wanneer die aktrise haar oudstes aantrek vir kleuterskool, koester Craig die kleintjie teen sy bors.

Hulle vat hier en los daar, maar die beeldskone brunet wat jare lank die rol van die slinkse Sandra Stutterheim in 7de Laan vertolk het, floreer in dié jolige harwar en lyk gelukkiger as ooit tevore.

Kykers gaan Sandra helaas nie binnekort weer in Hillside sien nie. ‘‘Maar ’n mens moet ook nooit sê nooit nie,’’ sê Heléne. Sy vertolk deesdae elke dan en wan die rol van Rachel in die sepie Generations, en sê dis heerlik om weer voor die kameras te wees.

‘‘Ek sal nie sommer weer heeltyds toneelspeel nie, maar ek gaan ook nou weer vir oudisies en sal graag deeltyds wil werk. Ek het gedink ek sal ophou met toneelspel, maar ek het besef ek kan nie, dit bly maar my passie.’’

Haar man en kinders kom deesdae eerste. Maar selfs al speel die kroos deesdae koning in die huis, begin Heléne klaar weer wonder of daar nie plek is vir nog enetjie nie. ‘‘Craig het nou die dag vir my gesê: ‘Ag, ons maak sulke mooi kinders saam!’ Toe sê ek: ‘Maar kom ons maak dan nog enetjie . . .’ Hy’t onmiddellik gesê: ‘Nee!’ ’’

Sy lag en daar is ’n ondeunde vonkel in haar oë. Sy glo immers: Moet nooit sê nooit nie . . .

– Lees in Huisgenoot van 4 Desember meer oor die aktrise Heléne Lombard en haar drie woelwaters.

Boekbonus: Bok Percy praat


Hy het in Augustus die heel eerste Springbok geword wat in honderd toetswedstryde gespeel het. Maar ná vyftig toetse het ’n diep neerslagtige Percy Montgomery doer in Wallis gedink hy sou nooit weer die Groen-en-Goud dra nie.

In ’n onthullende biografie vertel Mark Keohane hoe ons voorste puntemasjien byna nie vir Tasmin Tobitt voor die kansel gekry het nie, en hoe diep gekwets hy was deur die uitjouery van sekere aanhangers. Hier volg ’n uittreksel:

In 1999 was hy deel van die Stormers se Super12-seisoen, die Drienasies- en die Wêreldbeker-toernooi, maar die mees betekenisvolle ding wat met Percy Montgomery gebeur het, het nie rugby behels nie.

Die dag toe hy Tasmin Tobitt gewaar, het hy gedink hy sou met haar trou. Dit was by die Baxter-teater in Kaapstad, waar hulle albei ’n vertoning bygewoon het. Die twee is aan mekaar voorgestel en so het die poging begin om haar hart te wen. Montgomery sê dit was taaier as enige rugbytoets.

‘‘Sy was selfstandig en het haar loopbaan as model gehad. Sy het nie rugby gekyk nie en nie die spelers geken nie. Toe ek haar nommer kry en haar vra om uit te gaan, het sy nee gesê. Maar so maklik sou ek nie tou opgooi nie.

‘‘Ek het vasgestel sy het ’n seun en is ’n paar jaar tevore geskei. Sy was versigtig in die eerste ses maande, wou my nie te naby toelaat nie, en ons was meer vriende as meisie en ou.’’

Tasmin sê sy wou nie haar seun, Nicholas, aan iemand blootstel wat voor die einde van die rugbyseisoen uit haar lewe kon verdwyn nie.

‘‘Ek was destyds huiwerig om ’n verhouding met hom aan te knoop, want ek was bang vir die wêreld waarin hy beweeg het. Daardie omgewing was te intens en te wild na my sin.’’

Wen!
Vyf getekende eksemplare van Monty deur Mark Keohane is te wen. SMS die woord MONTY gevolg deur jou naam, van en adres na 34922. Die sluitingsdatum is 11 Desember. Elke SMS kos R2. Jy kan soveel keer deelneem as wat jy wil.

– Lees in Huisgenoot van 4 Desember die volle uittreksel uit Monty: His Life Story deur Mark Keohane, uitgegee deur Mark Keohane en Highbury Safika Media (Edms.) Bpk.

Jurie, die mooi boer van De Aar


Dis nie aldag dat Smouspoort dié klas opwinding beleef nie. Die aantreklike baas van die plaas buite De Aar pronk mos deesdae op die tiewie. En die plaaswerkers is omtrent in hul noppies dat Jurie van Zyl (29) een van die vier boere is wat in kykNET se werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou verskyn.

Dit het mos alles gebeur nadat die verbaasde jong boer 146 briewe hier op die plaas ontvang het – almal van vroue wat brand om mev. Van Zyl te word. Eers het hy toe tien meisies gekies, en toe is hy vort Kaap toe vir die groot ontmoeting.

Daar het hy drie meisies uit die klomp gekies en so het Sharon Berrington (26), ’n koshuismoeder van Graaff-Reinet, Suné Nel (23), ’n joernalis van Bloemfontein, en Anriëtte Schalkwyk (29), ’n administratiewe bestuurder van Pretoria, almal vir hom op Smouspoort gaan kuier.

Ná ’n week op die plaas het hy Suné uitgestem. ‘‘Sy is ’n oulike meisie en ons sal vriende bly.’’

Sy getroude en verloofde pelle het hom aangepor om vir dié gewilde program in te skryf, vertel Jurie in die ruim plaashuis waar hy en pa Frikkie woon.

Hy was nog geen oomblik spyt oor sy besluit om deel te neem nie, sê die man wat met boerbokke, Afrikaner-beeste en lusern boer. Hy sê hy’s ’n gemaklike ou wat met almal oor die weg kom.

Daarom het hy sommer gou besluit: ‘‘Wees net jouself en leer mekaar so gou moontlik ken. Hoe meer jy kan sien, hoe beter – ek het niks weggesteek nie. Sy moet jou leer ken vir wie en wat jy is.’’

Die mense hier op De Aar ondersteun hom geweldig – tot ma Myrna wat in die Kaap woon, dink die program is ‘‘baie, baie oulik’’.

‘‘Mense vra altyd wat aangaan. Maar dis nie asof ek nou ewe skielik ’n tjopper-pilot is nie.’’

Vertel gerus daai vir die girls.

‘‘Ja, ek kry oproepe uit die bloute,’’ sê hy. ‘‘Maar gelukkig het niemand al ongenooid voor my hek opgedaag nie. Dié wat bel, sê gewoonlik ek is oulik en hulle hou van die program.’’

– Lees in Huisgenoot van 4 Desember meer oor Jurie van Zyl.

Al die finaliste vir Mej. SA


Dis weer tyd vir die Mej. Suid-Afrika-kompetisie en een van dié twaalf finaliste sal by die Sun City Superbowl as die mooiste vrou in die land gekroon word:

Bridgette Maasch (23), gebore in Oranjemund, Namibië. Sy is ’n heeltydse model, het ’n graad in sielkunde en politieke wetenskap en ’n nagraadse diploma in bemarking.

Michelle Gildenhuys (20), gebore in Kaapstad.
Sy is ’n deeltydse model wat ’n kursus in finansiële en sakebestuur volg.

Anja van Zyl (20), gebore in Pretoria.
Sy is ’n heeltydse model en studeer menslikehulpbron-bestuur deur Unisa.

Jodi Balfour (22), gebore in Hermanus, Wes-Kaap.
Sy is ’n derdejaar-dramastudent aan die Universiteit van Kaapstad.

Sarah-Kate Seaward (25), gebore in Durban.
Sy is ’n promosiekoördineerder en het ’n diploma in bemarkingsbestuur. In haar vrye tyd is sy ’n aktrise en model.

Dorah Mtetwa (23), gebore in Soweto.
Sy is ’n rekeningkundestudent aan die Universiteit van Johannesburg.

Cara Burger (20), gebore in Vereeniging.
Sy is ’n heeltydse model en studeer deur Unisa vir ’n B.A.-graad in kommunikasie-wetenskap.

Mpho Sithole (20), gebore in Soweto.
Sy het menslikehulpbron-bestuur studeer en is betrokke by ’n projek om ’n kinderhuis met die naam Heaven on Earth te vestig.

Sian Ryan (22), gebore in Johannesburg.
Sy is ’n derdejaarstudent in bemarking en ’n ondersteuner van die Lambano-kinderhuis in Kensington, Johannesburg.

Tatum Keshwar (24), gebore in Durban.
Sy het ’n graad in sielkunde en is die mede-eienaar van ’n onderneming en ’n deeltydse model.

Buyi Shongwe (24), gebore in Schoemansdal, Mpumalanga.
Sy is mede-aanbieder van die namiddagprogram op die radiostasie MpowerFM in Mpumalanga en studeer vir ’n B.Tech.-graad.

Nthabiseng Marie (22), gebore in Durban.
Sy is ’n deeltydse model en studeer deur Unisa vir ’n honneursgraad in omgewingsbestuur.

WOON DIE KRONING BY!
Ses lesers en hul metgesel kan kaartjies wen na die kroningsplegtigheid op 15 Desember, asook luukse verblyf (ontbyt ingesluit) op 14 en 15 Desember in The Palace by Sun City. Stuur voor 4 Desember ’n SMS met die woorde MEJ. SA, asook jou naam en van, na 34922. SMS’e kos R2 elk. Die prys sluit nie vlugte of vervoer na en van Sun City in nie.

– Huisgenoot van 4 Desember het foto’s van en nog inligting oor die twaalf finaliste vir Mej. SA .

Rod Stewart: Hier kom ek, SA!


Die rocker met die plooigesig gesels met ons uit sy herehuis in ’n koue, nat Essex op die vooraand van sy vierkonsert-toer deur Suid-Afrika en hy kan nie wag om hier te kom nie.

En Suid-Afrika kan nie wag om hom te verwelkom nie – spykerhare, oopgeknoopte hemde, noupassende broek, de lot.

Dis 25 jaar sedert die man wat vir ons Maggie May, Sailing, Da Ya Think I’m Sexy en Forever Young gegee het, by Sun City opgetree het, en al kom hy deesdae in aanmerking vir afslag vir seniors, is die gees nog net so sterk soos destyds.

Die 63-jarige pa van sewe het ’n eenvoudige plan vir sy toer: Kap die treffers uit, sing met gevoel en laat die gehoor se tone krul.

Maar is hy ná veertig jaar van toer en aand ná aand dieselfde liedjies speel, nie siek en sat van dit alles nie?

‘‘Hel, nee, ek is bly ek kan doen wat ek nog altyd gedoen het.’’

Sokker en musiek was die enigste rigtings waarin ’n werkersklaskind van die vyftigs van Noord-Londen ooit belanggestel het.

‘‘Ek het soveel moontlik sokker geoefen en op die ou end by Brentford FC in Wes-Londen ’n leerlingkontrak onderteken.’’

Maar ná ’n paar weke van die eerstespan se stewels skoonmaak en vroegoggend-oefensessies het hy besluit ’n sokkerspeler se lewe is nie vir hom nie.

Hy het ’n paar jaar in Londen dit en dat gedoen voor die Engelse musieklegende Long John Baldry hom ontdek het en hy by sy groep, The Hoochie Coochie Men, aangesluit het.

Hul eerste optrede was in 1964 by die Twisted Wheel in Manchester en Rod was amper lam van vrees. Al manier waarop hy dit kon oorleef, was deur heelaand met sy rug na die gehoor te sing. ‘‘Dit het my kenmerk geword,’’ sê hy en giggel. ‘‘Die mense het gedink ek is koel.’’

Vier dekades, vele treffer-albums en verskeie beeldskone blondines later, en Rod the Mod – soos hy in die sewentigs bekend geraak het – is ’n lewende legende van popmusiek.

En hy het nog baie skop.

– Lees in Huisgenoot van 4 Desember meer oor Rod Stewart se passies.

Friday, 21 November 2008

JOACHIM, DIE GEWILDE TV-BOER.


DIT is eintlik sy ma wat besluit het dit is nou hoog tyd dat haar seun ’n vrou kry.
Dit was een aand laat, die reën het sy piesangbome se blare verfoes en Joachim Prinsloo (28) was sommer net omgesukkel met masjiene wat vassit in die modder op sy plaas naby Hazyview in Mpumalanga.

Bruin besmeer stap hy toe by ma Rita se kombuis in, maak die yskas oop en vra: ‘Wat is hier om te eet?’

‘‘En net daar het my ma besluit genoeg is genoeg. Toe gooi sy die Landbouweekblad voor my neer en sê: ‘Skryf. Soek jou eie vrou.’ ’’ En so het dié vrygesel se televisie-soektog na ’n vrou begin – of hy nou wou of nie . . .

Die drie uitverkorenes, Lurike Fourie (25), ’n mediese dokter van Pongola, Jacqueline Green (24), ’n rekenmeester van Alberton, en Yolandi Posthumus (21), ’n student van Amanzimtoti, het toe op die plaas tussen die avokado-, piesang- en makadamiabome kom kuier.

Sedertdien het kykers gesien hoe Joachim Lurike haar tasse laat pak, maar Yolandi en Jacqueline byt vas. ‘Ek het nie ingeskryf met die hoop om herken te word of famous te wees nie,’ sê hy.

Toe Joachim aan die einde van sy studie as bourekenaar aan die destydse Pretoriase Technikon besluit om ook te boer, het sy pa gesê hulle gaan ‘‘mekaar mal maak op die een plaas’’ en toe nog ’n stuk grond van sowat 250 ha ongeveer 10 km van hul plaas gekoop.

SY DROOMVROU moet ‘‘net spontaan, intelligent, slim en oulik wees’’, want die res van die goed sal hy verander soos hy haar wil hê, skerts Joachim. ‘ ‘Hoe sy fisiek lyk, maak nie saak nie. Sy moet wel mooi versorg wees.’’

Dan bieg hy peinsend: ‘‘Dit sal tog lekker wees as iemand in die aand my rug kan krap of in die dag vir my ’n toebroodjie bring as ek nie tyd het om te eet nie.’’

* Kyk Boer Soek ’n Vrou Dinsdae om 20:00 op kykNET.

MARKO ’N BOK VIR DIE BUITELEWE


DIE wolke pak onheilspellend saam toe Francois Lensley met sy Land Rover Defender op ’n viertrekroete suid van Johannesburg by ons stilhou.

‘‘Wil julle koffie hê?’’ vra die man wat Suid-Afrika nou al vyf jaar as Marko van 7de Laan ken.

En net soos sy karakter altyd ’n plan het en reg is vir enige avontuur, is die donkerkopakteur met die grys oë ’n bok vir enige buitelug-uitdaging. Ook cappuccino’s maak in die wildernis.

OOR twee dinge praat hy nie – sy ouderdom en sy liefdeslewe. Behalwe natuurlik om te sê sy droomvrou moet sy liefde vir die natuur deel.

‘‘En sy moet eerlik wees. Ek gee nie om hoe sy lyk nie, ons moet net lekker kan kuier.’’ En waar wil jy lekkerder kuier as by ’n braaivleis-vuurtjie op Francois se kleinhoewe in Midrand, of dan in die veld?

‘ ‘Ek kampeer al baie lank en het altyd verkies om dit op my eie te doen. Ek gee nie om om dae lank net my eie geselskap te hê nie, maar dit is tog lekker as daar iemand spesiaals saam met jou is.’’

’n Paar maande gelede het hy ’n paar van die 7de Laan-manne opgekommandeer vir ’n stap-en-roei-uitstappie, en hulle het oor twee dae 15 km ver gestap en 12 km op die Vaalrivier geroei. Jacques Blignaut (Vince), Hendrik Cronjé (Lucas) en ’n hele paar van die kameramanne was saam, en dit was groot pret.

‘‘Ek weet Jacques se videokamera het een keer in die water geval, maar hy kon dit darem red. Maar ek weet nie of hulle dit weer sal doen nie,’’ skerts Francois.

Wat is volgende op die aksieman se lys? Skuba-duik. ‘‘En natuurlik sou ek graag ses maande wou af neem en so lank en ver in Afrika opry as wat ek kan,’’ droom hy hardop.

En wie weet, miskien ry sy droomvrou nog saam en wag ’n gestopte filet in sy battery-vrieskas vir die regte kampeerplek . . .
– Lees in Huisgenoot van 27 November meer oor Marko van 7de Laan.