
Dis nie aldag dat Smouspoort dié klas opwinding beleef nie. Die aantreklike baas van die plaas buite De Aar pronk mos deesdae op die tiewie. En die plaaswerkers is omtrent in hul noppies dat Jurie van Zyl (29) een van die vier boere is wat in kykNET se werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou verskyn.
Dit het mos alles gebeur nadat die verbaasde jong boer 146 briewe hier op die plaas ontvang het – almal van vroue wat brand om mev. Van Zyl te word. Eers het hy toe tien meisies gekies, en toe is hy vort Kaap toe vir die groot ontmoeting.
Daar het hy drie meisies uit die klomp gekies en so het Sharon Berrington (26), ’n koshuismoeder van Graaff-Reinet, Suné Nel (23), ’n joernalis van Bloemfontein, en Anriëtte Schalkwyk (29), ’n administratiewe bestuurder van Pretoria, almal vir hom op Smouspoort gaan kuier.
Ná ’n week op die plaas het hy Suné uitgestem. ‘‘Sy is ’n oulike meisie en ons sal vriende bly.’’
Sy getroude en verloofde pelle het hom aangepor om vir dié gewilde program in te skryf, vertel Jurie in die ruim plaashuis waar hy en pa Frikkie woon.
Hy was nog geen oomblik spyt oor sy besluit om deel te neem nie, sê die man wat met boerbokke, Afrikaner-beeste en lusern boer. Hy sê hy’s ’n gemaklike ou wat met almal oor die weg kom.
Daarom het hy sommer gou besluit: ‘‘Wees net jouself en leer mekaar so gou moontlik ken. Hoe meer jy kan sien, hoe beter – ek het niks weggesteek nie. Sy moet jou leer ken vir wie en wat jy is.’’
Die mense hier op De Aar ondersteun hom geweldig – tot ma Myrna wat in die Kaap woon, dink die program is ‘‘baie, baie oulik’’.
‘‘Mense vra altyd wat aangaan. Maar dis nie asof ek nou ewe skielik ’n tjopper-pilot is nie.’’
Vertel gerus daai vir die girls.
‘‘Ja, ek kry oproepe uit die bloute,’’ sê hy. ‘‘Maar gelukkig het niemand al ongenooid voor my hek opgedaag nie. Dié wat bel, sê gewoonlik ek is oulik en hulle hou van die program.’’
– Lees in Huisgenoot van 4 Desember meer oor Jurie van Zyl.