Friday, 07 November 2008

Lewis Hamilton laat waai


Toe Lewis Hamilton die oggend ná sy kroning as Grand Prix-kampioen wakker word, het hy ’n belofte aan homself gemaak: Dit sal altyd sy passie vir motorsport wees wat hom tot groter glorie aanspoor, en nooit ’n begeerte na roem en rykdom nie.

Kenners voorspel dié jong man, wat op ’n skrale 23 jaar die wêreld se jongste en ook die eerste swart F1-renjaer is wat die Grand Prix-kampioenskapskroon dra, gaan een van die wêreld se mees bemarkbare sportsterre word. En waarskynlik ook een van die rykstes.

Maar ná sy oorwinning op 2 November is die McLaren-jaer vasbeslote om sy voete vas op die grond te hou. Hy het beklemtoon dat geld net die ‘welkome neweproduks’ is van ’n talent wat hom tot supersterstatus verhef het.

Lewis het met sy oorwinning in die Brasiliaanse Grand Prix op dramatiese wyse net-net die titel voor die Brasiliaan Felipe Massa weggeraap en met ’n enkele punt gewen.

Wat sy sege nog merkwaardiger gemaak het, is dat hy maar sowat ’n jaar gelede aan sy eerste F1-wedren deelgeneem het. Nou het hy pas ’n bonus van meer as R46 miljoen van McLaren verdien – en dis maar ’n breukdeel van die skatte wat hy uiteindelik kan versamel.

Lewis het waarskynlik nog minstens ’n dekade oor as professionele renjaer, meer as genoeg tyd om Michael Schumacher se rekord van sewe wêreldkampioenskappe te oortref.

‘Dit het nou maar so uitgewerk dat ek betaal word vir my stokperdjie, vir dit waarvoor ek lief is, en dis lekker om my familie te kan versorg. Dis al wat eintlik saak maak, en daarom is ek gelukkig.’

Met sy historiese oorwinning was sy pa en grootste ondersteuner, Anthony, oudergewoonte langs die renbaan, en natuurlik ook sy mooi sangeres-meisie van die afgelope jaar, Nicole Scherzinger van die groep Pussycat Dolls.

‘Ek het nou ’n mooi blyplek, ’n lekker tromstel en kitare,’ sê die man met die skitterblink toekoms. My beloning is om die wêreldkampioenskap te wen. Wat kan ek meer vra?’
- Lees in Huisgenoot van 13 November meer oor Lewis se merkwaardige opgang in die vinnige wêreld van renmotors.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.