
Hy is een van die grootste punk-rockers in die land. Dan het hy nog ’n rits sexy meisies aan sy sy wat hul lyfies so op die verhoog wikkel dat vroue groen van jaloesie raak en die manne na hul asem hyg.
En nou kan die Moederstad regmaak om Snotkop in al sy glorie te leer ken wanneer dié gewilde sanger in Maart sy Skouspel-debuut op die SkouspelPlus-verhoog maak.
‘Om vir enige Skouspel-konsert genooi te word, is amper soos om gevra te word om in die Royal Albert Hall in Londen op te tree,’ vertel Snotkop opgewonde.
SkouspelPlus – die nuwe naam vir Huisgenoot en ons sustertydskrif YOU se Kaapse Jol – gaan die GrandWest-casino op 14 Maart tot stilstand laat kom wanneer van die land se top-musiektalent hier op die splinternuwe Grand Arena toesak vir die grootste opskop van die jaar. Daar is ’n middag- en aandvertoning, om drieuur en agtuur.
Theuns Jordaan, Juanita du Plessis, Robbie Wessels, Laurika Rauch en Nicholis Louw is van die groot trekpleisters, om nie te praat nie van Brandon October, Jennifer Jones, Bobby van Jaarsveld, Karen Zoid, Eden, Broers, Jannie Moolman en Andriette Norman. Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes sal die sterre begelei.
Veral Kaapse Huisgenoot-lesers is opgewonde oor die kans om die skouspelagtige vertoning hier te beleef. Anneke Visser van Kuilsrivier was vanjaar vir die derde keer by Skouspel in Sun City, en sy en haar gesin kan nie wag om nou ook SkouspelPlus te ervaar nie. Dit is dan sommer hier in hul geweste.
‘Ons is weer daar,’ verseker sy ons. Haar kroos het vanjaar se Skouspel baie geniet en lekker saamgesing en -gedans, vertel hul ma. ‘Die kinders geniet dit altyd vreeslik baie, want daar is iets vir oud en jonk.’
Ja nee, trek sommer ’n groot rooi kring om 14 Maart op jou kalender. As jy dié jol misloop, sal jy lekker spyt wees, want die gelukkige ouens wat daar was, gaan nog lank daarna daaroor praat . . .
- Lees meer oor al die SkouspelPlus-kunstenaars en al die opwinding in die jonste uitgawe van 13 November.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.