Thursday, 13 November 2008

Ek kom, SA, ná meer as 30 jaar, sê Lionel Richie


‘‘Hallo, Haaiii-Deeeeee,’’ kom die vriendelike groet oor die telefoonlyn van doer ver uit Amerika.

Is dit hoe ’n ou klink van wie al meer as 100 miljoen CD’s verkoop is? Praat ons nou rêrig met die destydse hoofsanger van die soulgroep The Commodores? Dieselfde ou wat die liedjie We Are the World saam met Michael Jackson ge-skryf het? Baas van ’n hele spul Grammys en ander pryse?
Ja, dit is inderdaad daardie Lionel.

En Lionel Richie, die befaamde Amerikaanse liedjieskrywer en sanger, is eindelik op pad Suid-Afrika toe om vir die eerste keer in sy loopbaan van langer as dertig jaar vir ons te kom sing.

LIONEL (59) erken: Hy is dalk nog meer opgewonde as enigeen van sy aanhangers oor die komende toer van vier konserte.

‘‘Ek was veertien jaar saam met die Commodores en ons was nie EEN KEER in jul land nie,’’ sê hy. (Hy praat so in hoofletters.) ‘‘Maar nou kan ek nie wag nie. Ek sien dit as my tuiskoms – as ek dit vroeër gedoen het, was dit nie so opwindend nie. Dit is vir seker ’n hoogtepunt in my loopbaan.”

Sy liedjies is van die een generasie na die volgende oorgedra, sê hy trots. ‘‘Nou die dag in Jamaika het ’n sewejarige seuntjie vir my gesê sy geliefkoosde liedjie is Easy (Like Sunday Morning). “Daar gaan net een probleem by die konsert wees – die mense sal hom dalk nie hoor nie, spot hy. ‘‘Dit is omdat almal die liedjies so goed ken dat ek dink die gehoor sal harder as ek sing. Dis altyd die geval by die konserte en ek is DOL daaroor.’’

Sy loopbaan het in 1968 vlam gevat toe dié boorling van Tuskegee, Alabama, wat op sy dag ’n kranige tennisspeler was, hoofsanger en saxofoonspeler word van The Commodores. Liedjies soos Three Times a Lady het hierdie groep internasionaal gewild gemaak.

Lees meer oor Lionel Richie en sy komende toer na Suid-Afrika in Huisgenoot van 20 November.