
Die naam is Bond, James Bond, maar deesdae hoor jy nie meer dat hy hom so parmantig voorstel nie. Nog minder sien jy hom met lawwe uitvindsels speel. En hoewel sy gunsteling-drankie steeds ’n martini is, gee hy nie ’n duit om of dit geskud of geroer word nie.
Deesdae het die wêreld se beroemdste geheime agent veel belangriker dinge om hom oor te bekommer. Die langverwagte Bond-opvolgfliek, Quantum of Solace, tel die drade op presies ’n uur van waar die vorige een, Casino Royale, geëindig het. Terwyl hy steeds treur oor die dood van sy verraderlike minnares Vesper Lynd, troos hy hom daaraan dat die wêreld steeds vol boewe is wat net wag om mee afgereken te word.
Die rolprent begin waar hy op smal paaie teen die kranse hoog bo ’n Italiaanse meer in ’n Aston Martin DB9 van skurke probeer wegjaag. Van daar af gaan dit net afdraand. Bond word die duiwel in en blaas stoom af deur ’n boel duur goed te verwoes – ’n vloot motors, ’n helikopter, vragvliegtuig en verskeie bote bly in die slag.
Van die 22 Bond-flieks staan dié een uit as die bloedigste. Dit het ’n ouderdomsbeperking van OB13 weens geweld. Om die waarheid te sê, 007 maai so genadeloos onder sy vyande dat sy baas, M (Judi Dench), sy lisensie om dood te maak, intrek.
Maar teen dié tyd is daar nie omdraaikans nie. Bond het agtergekom die organisasie wat Vesper afgepers het en op die ou end haar lewe geëis het, is veel gevaarliker as wat enigiemand gedink het. Die ganse wêreld hang in die weegskaal en hy is al ou wat dit kan red.
Hierdie keer is die skurk wat hy aandurf Dominic Greene, gespeel deur die Franse akteur Mathieu Amalric. Die biljoenêr gebruik sy rol as hoof van die omgewingsgroep Greene Planet om almal te laat dink hy red die reënwoude, maar agter die skerms weef hy ’n sinistere web wat hom in staat sal stel om een van die wêreld se belangrikste natuurlike hulpbronne te beheer.
Lees meer oor die nuutste Bond-avontuur in Huisgenoot van 20 November.