
Lank, lank gelede, in 1996, het Bafana Bafana soete sukses gesmaak toe hulle die Afrika-Nasiesbeker gewen het. Maar sedertdien, ai . . .
Vandag, sê Bafana se pas aangestelde sportsielkundige, is dit tyd vir ’n nuwe daeraad. En vir dié wat sinies glimlag – julle het nog nie vir Henning Gericke ontmoet nie. Kyk dan net wat het hy met die Springbokke reggekry.
Vir sy eerste sessie saam met Bafana, kort voor die afskop van die Fifa-Konfederasiebekertoernooi, het hy spesiaal vir hulle ’n DVD gemaak. Op die televisieskerm het hul Brasiliaanse afrigter ’n inspirerende toespraak gelewer – in die stem van Al Pacino.
Henning se oë blink. ‘‘Ek wou Al Pacino se toespraak uit die fliek Any Given Sunday gebruik.’’ Hy haal diep asem en dan word Henning Tony D’Amato uit dié fliek: ‘‘All comes down to today, and either we heal as a team, or we’re gonna crumble. Inch by inch, play by play . . . ’’
Toe hy hom by die Bafana-span aansluit, was hy bekommerd oor hul geestelike fiksheid. Hy grinnik en erken ná die eerste ontmoeting het hy ’n heel ander vrees: ‘‘Die span is op ’n high en hulle is hónger. Nou moet ek daaraan werk om hulle koelkop te hou sodat hulle nie uitbrand nie!’’
Nadat hulle na die DVD gekyk het, het hy al die spelers op die vloer laat sit. Kruisbeen in ’n sirkel het hulle ’n Bafana-trui omgestuur. Vertel vir jou spanmaats wat jy vir die trui sal doen, het hy vir hulle gesê.
‘‘Ek sal sterf vir dié span,’’ was die algemeenste antwoord. Terwyl hulle die trui aangegee het, was daar trane in hul oë.
In sy huis in Middelburg, Mpumalanga, wat hy met sy vrou, Hennelie, en vyf kinders deel, vertel Henning opgewonde van die nuwe uitdagings om ons manne in goud weer in kampioene te help omtower. Sy beknopte kantoor is vol aandenkings van sy jare saam met die Springbokke. Hy het vier jaar lank saam met Jake White gewerk en was in Parys toe hulle die Wêreldbeker in 2007 gewen het.
Lees oor Henning se wenplanne vir Bafana Bafana in Huisgenoot van 18 Junie.





