Friday, 21 November 2008

MARKO ’N BOK VIR DIE BUITELEWE


DIE wolke pak onheilspellend saam toe Francois Lensley met sy Land Rover Defender op ’n viertrekroete suid van Johannesburg by ons stilhou.

‘‘Wil julle koffie hê?’’ vra die man wat Suid-Afrika nou al vyf jaar as Marko van 7de Laan ken.

En net soos sy karakter altyd ’n plan het en reg is vir enige avontuur, is die donkerkopakteur met die grys oë ’n bok vir enige buitelug-uitdaging. Ook cappuccino’s maak in die wildernis.

OOR twee dinge praat hy nie – sy ouderdom en sy liefdeslewe. Behalwe natuurlik om te sê sy droomvrou moet sy liefde vir die natuur deel.

‘‘En sy moet eerlik wees. Ek gee nie om hoe sy lyk nie, ons moet net lekker kan kuier.’’ En waar wil jy lekkerder kuier as by ’n braaivleis-vuurtjie op Francois se kleinhoewe in Midrand, of dan in die veld?

‘ ‘Ek kampeer al baie lank en het altyd verkies om dit op my eie te doen. Ek gee nie om om dae lank net my eie geselskap te hê nie, maar dit is tog lekker as daar iemand spesiaals saam met jou is.’’

’n Paar maande gelede het hy ’n paar van die 7de Laan-manne opgekommandeer vir ’n stap-en-roei-uitstappie, en hulle het oor twee dae 15 km ver gestap en 12 km op die Vaalrivier geroei. Jacques Blignaut (Vince), Hendrik Cronjé (Lucas) en ’n hele paar van die kameramanne was saam, en dit was groot pret.

‘‘Ek weet Jacques se videokamera het een keer in die water geval, maar hy kon dit darem red. Maar ek weet nie of hulle dit weer sal doen nie,’’ skerts Francois.

Wat is volgende op die aksieman se lys? Skuba-duik. ‘‘En natuurlik sou ek graag ses maande wou af neem en so lank en ver in Afrika opry as wat ek kan,’’ droom hy hardop.

En wie weet, miskien ry sy droomvrou nog saam en wag ’n gestopte filet in sy battery-vrieskas vir die regte kampeerplek . . .
– Lees in Huisgenoot van 27 November meer oor Marko van 7de Laan.

SKOUSPEL 2009


Onthou jy nog hoe die doemprofete swarigheid gesien het met die aanbreek van die nuwe millennium in 2000 en blikkieskos en batterye opgegaar het vir die vale? Maar hier by Huisgenoot het ons besluit dis pure bog en daardie jaar die beste Afrikaanse sangers nader getrek vir ’n konsert wat die dak van Sun City se Superbowl gelig het.

Sedertdien het dit ’n jaarlikse instelling geword en het die enkele konsert tot ’n sewetal uitgebrei wat oor twee naweke gehou word. En elke keer lig daardie dak weer . . .
Nou is die tiende Skouspel op hande en net soos die afgelope nege jaar beloof dit om weer een van die grootste gebeurtenisse op ons land se vermaak-kalender te wees. Net soos vir ons derduisende lojale lesers en ondersteuners, lê musiek ons na aan die hart – of dit nou ruk-en-rol of rap, ballades of boere-musiek is.

Vir Skouspel se tiende verjaardag maak ons groot planne. Hou Huisgenoot maar in die volgende paar maande dop. Maak seker dat jy een van die geluk-kiges is en bespreek betyds jou kaartjie en verblyf vir een van die twee Skouspelnaweke van aanstaande jaar.

Teken solank hierdie datums in jou dagboek aan vir volgende jaar:
Saterdag 3 Oktober Middagvertoning: 14:00
Saterdag 3 Oktober Aandvertoning: 20:00
Sondag 4 Oktober Middagvertoning: 12:00
Vrydag 9 Oktober Aandvertoning: 20:00
Saterdag 10 Oktober Middagvertoning: 13:00
Saterdag 10 Oktober Aandvertoning: 19:00
Sondag 11 Oktober Middagvertoning: 12:00

En moenie van SkouspelPlus in Kaapstad vergeet nie!
Op Saterdag 14 Maart 2009 kry Kapenaars ’n kans om ons Skouspelsterre in die suide in aksie te sien wanneer Huisgenoot-SkouspelPlus by die GrandWest Arena van die GrandWest Casino buite Kaapstad gehou word. Groot name soos Juanita du Plessis, Theuns Jordaan, Laurika Rauch, Jannie Moolman, Karen Zoid, Brandon October, Jennifer Jones, Nicholis Louw en Robbie Wessels sal daar wees.

Maak gou! Daar is plek vir net 5 000 mense by elk van die twee konserte, een om 15:00 en een om 20:00. Kaartjiepryse wissel van R160 tot R300. Bel Computicket by 083-915-8000 of gaan na jou naaste Computicket-tak. Jy kan ook oor die internet by www.computicket.com bespreek..

ROMANZ SING HUL PAD OOP


DIS skuins ná elf in die oggend by Aardklop – nog bitter vroeg vir verlede nag se jolytmakers hier op die feesterrein in Potchefstroom. ’n Paar doutrappers snuffel deur die vlooimarkstalletjies.

Net enkele stoere musiekmense skuifel die musieklokaal binne om die nuwelinge wat vroeg in die dag op die verhoog is, te kom ondersteun.

Agter die Huisgenoot-verhoog maak vier aantreklike jong mans senuagtig reg vir hul heel eerste openbare vertoning. Die splinternuwe Afrikaanse sanggroep Romanz maak ’n kringetjie en bid – iets wat hulle voortaan voor en ná elke vertoning sal doen.

Maar toe maak André Venter (28), Louis Loock (27), Adam Barnard (23) en Burgerd Botha (21) hul monde oop en die klanke van die twee tenoor- en twee baritonstemme verweef tot ’n geheel wat ’n mens onwillekeurig aan die fluitspeler van Hameln laat dink.

Nuuskierige feesgangers begin die tent binnestroom agter die betowerende klanke aan. En voor die laaste refrein van Romanz se minneliedere wegsterf, sit die tent tjokvol.

DIS minder as twee maande later en in die musiekwêreld gons dit behoorlik oor dié viermanskap se eerste CD, My Hele Hart. soos vier manne wat ses maande gelede nog nooit van mekaar gehoor het nie. Maar hulle het wel baie gemeen: hulle luister na dieselfde musiek – Il Divo, Josh Groban, Michael Bublé en Katherine Jenkins – en almal is regte fliekvlooie.

‘Ons het dieselfde waardes en ons al vier kom uit ’n Afrikaanse huis. Ons was van die begin af op dieselfde golflengte,’ sê André.

Hul vriendskap het begin die dag toe hulle gekies is uit meer as vyfhonderd hoopvolle deelnemers aan die platemaatskappy Select Musiek se soektog na Suid-Afrika se eie Il Divo.

Net soos Il Divo is Romanz se styl ’n mengsel van die Drie Tenore en ‘‘ ’n ligter Westlife-element’’. En dis nie asof hulle net kan sing nie; die manne lyk boonop soos modelle.

Die sexy manne van Romanz sal maar net aan die aandag gewoond moet raak, want wil of nie wil nie, daardie klanke betower behoorlik.
Lees meer oor Romans in die uitgawe van 27 November.

Suid-Afrikaanse styl-toekenningsgeleentheid.


ALLE oë was op Nicola Breytenbach toe sy onlangs drie keer van vere verwissel het by die twaalfde jaarlikse Suid-Afrikaanse Styl-toekenningsgeleentheid by Nelson Mandela Square in Sandton.

Die beeldskone model het een nommertjie vir die rooi tapyt gekies, een vir die toekenningseremonie en een vir die makietie agterna. Nicola het verklap haar parfuumreeks sal binnekort op die rakke wees. ‘Ons wou dit al vanjaar bekendstel, maar met die ekonomiese insinking duur dinge nou ’n bietjie langer.’

Oscar Pistorius en sy meisie, Jenna Edkins, het ook die glansgeleentheid bygewoon, en het net oë vir mekaar gehad.

Die voormalige Mej. Suid-Afrika Cindy Nell gaan nie ’n huisvrou word noudat sy op trou staan nie – sy het pas ’n splinternuwe spa, Rapid Slimming Spa, in Sandton geopen. Hierdie Strictly Come Dancing-deelnemer het wraggies nie net vlindervoete nie; sy’s duidelik ook ’n skoonheid met sakevernuf!

Thursday, 13 November 2008

Tot siens, Mama Afrika – Ons groet Miriam Makeba


Ons het grootgeword met Pata Pata, daardie liedjie wat die voete so laat jeuk het. Sommige van ons kon selfs lomperig saam kliek met The Click Song in die advertensie vir Bic-penne op TV. Maar hoeveel van ons het geweet die stem agter die liedjies behoort aan Miriam Makeba?

Meer nog: Hoeveel het geweet wie die vrou agter die naam is? Want Miriam was vir die meeste wit Suid-Afrikaners ’n vae skim, iemand wat, so het hulle dalk gehoor, as uitgewekene iewers in Amerika gewoon het.

Selfs nadat sy vyftien jaar gelede na haar geliefde geboorteland teruggekeer het om haar in Johannesburg te vestig, het sy meestal maar oorsee gaan optree, waar sy en haar musiek al die afgelope vyftig jaar gevier word.

En so is ’n Suid-Afrikaanse musieklegende nou die dag op 76 jaar oorlede – steeds eintlik maar ’n vreemdeling vir soveel van haar landgenote.

Des te hartseerder is die feit dat sy drie dekades van daardie gevierde lewe in die buiteland moes deurbring nadat sy haar burgerskap ontneem is toe sy haar teen apartheid uitgespreek het.

Die vrou wie se paspoort deur haar eie land ingetrek is, het eindelik nege ander gehad, en elke land wou haar as ereburger hê. Eers ná 1994 kon sy terugkeer om volledig Mama Afrika te word.

Ten spyte van haar persoonlike ontberings – ballingskap, kanker, talle egskeidings en die dood van haar enigste kind – het sy mense aanhou inspireer.

Sy word beskou as die belangrikste Suid-Afrikaanse sangeres wat nog die wêreld se verhoë betree het. Sy was immers die heel eerste Suid-Afrikaner en Afrika-sangeres wat ’n gesogte Grammy gewen het toe sy in 1966 saam met Harry Belafonte met dié Amerikaanse prys bekroon is vir hul dubbelalbum, An Evening with Belafonte/Makeba.

Tot op die laaste was die wêreld haar gehoor. Haar voorlaaste optrede was in Amsterdam, en die aand van haar dood het sy nog naby Napels gesing op ’n konsert ter ere van ’n joernalis wat onverskrokke oor die Italiaanse mafia berig het – net soos Miriam vroeër teen apartheid opgestaan het.

Lees meer oor ons huldiging van Miriam Makeba in Huisgenoot van 20 November.

Kaap, maak reg vir ’n jol!


Sy is die Vrystaatse boeremeisie wat die land aan die brand sing, en die manne kan net nie genoeg kry van die smeulende blondekop met die goue stem nie.

Ja-nee, Lianie May is beslis iets vir die oor én die oog. En as jy nog nie van haar gehoor het nie, kan jy jou maar regmaak vir ’n heerlike verrassing.

Dié gewilde sanger het vanjaar soveel besprekings gehad dat sy Huisgenoot-Skouspel by Sun City moes misloop. Maar moenie bekommerd wees nie: Sy het laat weet sy is beslis op 14 Maart in Kaapstad op die SkouspelPlus-verhoog. En ons kan nie wag nie . . .

Die herdoopte Kaapse Jol, nou SkouspelPlus, word saam deur Huisgenoot en ons susterstydskrif YOU aangebied. Daar is twee konserte – om 15:00 en 20:00 – met plek vir 5 000 by elkeen in die swierige Grand Arena by die GrandWest Casino. Wikkel dus vinnig as jy nog nie ’n kaartjie vir dié glansgeleentheid het nie!

Lianie sal dié dag vir die eerste keer onder die Skouspel-vaandel optree en sê sy is reg om die dak te laat lig. ‘‘Die kunstenaars tree saam op, sing saam liedjies en dit is absoluut wonderlik dat ek genooi is om op te tree.’’

Dié super-gewilde sanger het vanjaar twee Huisgenoot-Tempo-musiektoekennings verower, vir die beste nuweling en vir beste popalbum van die jaar. En sy gaan sorg dat die Moederstad sien hoekom sy die een prys ná die ander inryg. Bowendien kuier sy altyd lekker in die Kaap.

‘‘Ek het net goeie herinneringe van al my optredes in Kaapstad,’’ vertel Lianie. ‘‘Ek kry ook nog gereeld e-posse van mense wat vra wanneer kom ek Kaap toe. Nou kan hulle my by SkouspelPlus sien.’

Lees meer oor wat SkouspelPlus gaan bied in Huisgenoot van 20 November en bespreek sommer nou jou kaartjies!

Dis Bond, breker Bond


Die naam is Bond, James Bond, maar deesdae hoor jy nie meer dat hy hom so parmantig voorstel nie. Nog minder sien jy hom met lawwe uitvindsels speel. En hoewel sy gunsteling-drankie steeds ’n martini is, gee hy nie ’n duit om of dit geskud of geroer word nie.

Deesdae het die wêreld se beroemdste geheime agent veel belangriker dinge om hom oor te bekommer. Die langverwagte Bond-opvolgfliek, Quantum of Solace, tel die drade op presies ’n uur van waar die vorige een, Casino Royale, geëindig het. Terwyl hy steeds treur oor die dood van sy verraderlike minnares Vesper Lynd, troos hy hom daaraan dat die wêreld steeds vol boewe is wat net wag om mee afgereken te word.

Die rolprent begin waar hy op smal paaie teen die kranse hoog bo ’n Italiaanse meer in ’n Aston Martin DB9 van skurke probeer wegjaag. Van daar af gaan dit net afdraand. Bond word die duiwel in en blaas stoom af deur ’n boel duur goed te verwoes – ’n vloot motors, ’n helikopter, vragvliegtuig en verskeie bote bly in die slag.

Van die 22 Bond-flieks staan dié een uit as die bloedigste. Dit het ’n ouderdomsbeperking van OB13 weens geweld. Om die waarheid te sê, 007 maai so genadeloos onder sy vyande dat sy baas, M (Judi Dench), sy lisensie om dood te maak, intrek.

Maar teen dié tyd is daar nie omdraaikans nie. Bond het agtergekom die organisasie wat Vesper afgepers het en op die ou end haar lewe geëis het, is veel gevaarliker as wat enigiemand gedink het. Die ganse wêreld hang in die weegskaal en hy is al ou wat dit kan red.

Hierdie keer is die skurk wat hy aandurf Dominic Greene, gespeel deur die Franse akteur Mathieu Amalric. Die biljoenêr gebruik sy rol as hoof van die omgewingsgroep Greene Planet om almal te laat dink hy red die reënwoude, maar agter die skerms weef hy ’n sinistere web wat hom in staat sal stel om een van die wêreld se belangrikste natuurlike hulpbronne te beheer.

Lees meer oor die nuutste Bond-avontuur in Huisgenoot van 20 November.