
Toe die grootbase van die Blou Bulle hom vra om Johan Roets se tokse ná dié se uittrede op Loftus Versfeld te kom vol staan, was Zane Kirchner bang – nie vir die Loftus-skare of hul hoë verwagtinge nie, maar vir die lewe in die stad.
Nou, skaars twee jaar later, beskou dié seun van George al Pretoria as sy huis. En nie net het die Bul-ondersteuners hom ten volle aanvaar nie; hulle vertrou elke naweek op hom om vir hulle wedstryde te wen.
Noudat dit lyk asof Zane binnekort as heelagter vir die draers van die Groen-en-Goud gekies gaan word, is hy beslis nie bang nie. Inteendeel, vir die Springbokafrigter, Peter de Villiers, wil hy sê: ‘‘Ek is gereed. Kies my.’’
Week ná week op die laaste vesting vir die Bulls bewys Zane dis regtig so. Hy is vol selfvertroue onder die hoë balle. Hy is ook vernuftiger, en die paar blapse wat hy as onervare Super14-speler verlede jaar aan die begin van sy eerste seisoen begaan het, is lankal vergete. Toe al het die Bulls-afrigter die voormalige Griekwa-speler se potensiaal raakgesien en is hy met die uitsondering van twee wedstryde vir die beginspan gekies. En die twee wedstryde wat hy moes uitsit, was net omdat hy ná ’n onwettige boorvat op ’n Lions-speler ’n rooi kaart gekry en vir twee weke geskors is.
Nog voor hy ’n Blou Bul geword het, is hy in 2007 in die Vodacombeker-kompetisie as speler van die jaar aangewys. Maar die hoogtepunt van sy loopbaan vir hom was aan die einde van sy debuutseisoen by die Bulle toe hy vir die Springbok-oefengroep gekies is.
Saam met die soete smaak van sukses was daar ’n bitter teleurstelling toe hy ná ’n besering vroeg huis toe gestuur is.
Vanjaar maak Zane hom reg om nie net vir die oefengroep aan te meld nie; hy wil die ware Jakob ervaar.
Hy het al drie drieë tot nou toe in die Super14-seisoen gedruk en gesorg dat hy nie weer ’n rooi kaart kry nie. Hy is deesdae net so gewild onder die kritiese Bul-ondersteuners as wat Johan destyds was. En as Peter hom hierdie keer oorslaan, kan hulle dalk net soos met Johan se weglating destyds meen daar word weer teen hul liefling in die no. 15-trui gediskrimineer.
Want soos Zane self sê: Hy ís nou gereed vir groter dinge.
Lees meer oor Zane se Bok-droom in Huisgenoot van 28 Mei.