
Sy is net 12 jaar oud en lyk al nes haar beroemde ma. Trouens, al wat Lourdes nie van haar Material Girl-ma geërf het nie, is haar groen oë. Die res is alles daar – van die welige bos bruin hare tot die dik wenkbroue.
Die ouderdom het Madge ingehaal, maar op haar dag was die 50-jarige popster ook nes haar dogter ’n varsgesig-brunet. En terwyl Lourdes eintlik nog pure kind is, is sy reeds propvol smeulende belofte.
As die twee besluit hulle wil die dag klere uitruil, sukkel jy om ma en dogter van mekaar te onderskei, want nes Madonna is Lourdes ook ’n regte verkleurmannetjie.
En danksy Madonna se streng daaglikse joga- en oefenroetine lyk haar lyf wel nog twee dekades jonger as haar eie vyf.
Mense met ’n oog vir glans voorspel klaar dat Madonna se eersteling nog eendag haar ma se skoene gaan vol staan. En haar ma dink blykbaar self so: Sy het eenkeer gesê Lourdes ‘‘stap by ’n vertrek in en eis almal se aandag op’’.
Deesdae kan steelfotograwe nie genoeg kry van Lourdes nie. Binnekort sal Madonna nie net met ander popsterre moet meeding nie, maar ook met haar eie dogter . . .
Lourdes was nog altyd baie na aan haar pa, Carlos Leon. Hy is ’n fiksheidsinstrukteur wat Madonna in September 1994 in Central Park, New York, ontmoet het.
Twee jaar later het die paartjie Lourdes Maria Ciccone Leon in die lewe verwelkom.
Lees meer oor Madonna se glansryke dogter in Huisgenoot van 14 Mei.