Thursday, 14 May 2009

Egoli se Tarien vang ’n droomman


Elf jaar gelede het sy met ’n Afrikaanse aksent, een kussing, ’n faksmasjien en drie tasse op die vliegtuig geklim om geluk en roem in Hollywood te gaan soek. Al het dit beteken dat Egoli se kykers Tarien Naudé vaarwel moes toeroep.

Sedertdien het Christel Smith (39) as oefenfoendi ontpop, onder andere vir die filmster Uma Thurman, en rolle in bekende TV-reekse losgeslaan. Maar die ‘‘kersie op die koek’’ was toe sy twee jaar gelede haar droomman ontmoet het. Verlede maand is hulle in ’n sprokiesplegtigheid op ’n landgoed buite Londen getroud, waarna hulle vir hul wittebrood Suid-Afrika toe gevlieg het.

By die Hotel Grand Roche in die Paarl moet ons twee keer kyk om die petite meisie met lang, blonde lokke te herken. Weg is Tarien se parmantige bob, maar die elegante Christel bekoor steeds met daardie kenmerkende glimlag.

Sy stel haar man, Eddie Durkin (41), ’n finansiële raadgewer van Los Angeles, voor in Amerikaanse Engels. Veral as sy van
‘‘Oddo’’ – haar hond, Otto – praat, is dit duidelik die destydse ‘‘belowendste student’’ aan die Technikon van Pretoria sal nooit weer dieselfde klink nie.

‘‘Dis wonderlik om terug te wees,’’ sê Christel, wat die ‘‘klanke en reuke van Afrika mis’’. Sy praat meestal Engels sodat Eddie ook die gesprek kan volg, maar soms laat waai sy in haar moedertaal asof sy nooit weg was nie.

Eddie kyk na die rye en rye berge voor ons in die pienk skynsel van die sonsondergang en sê ons land is ‘‘ ’n paradys’’.

Hy kan nie uitgepraat raak oor die wildplaas noord van Johannesburg waar hulle die Groot Vyf gesien het of sy nuwe ‘‘hartlike Afrikaanse familie’’ nie.

‘‘Ek is sommer lus en trek môre hierheen!’’ sê hy.

Lees meer oor Christel en haar Amerikaanse man se troue en Suid-Afrikaanse besoek in Huisgenoot van 21 Mei.