
Die paartjie stap al geselsend op die voetpaadjies in die botaniese tuin in Roodepoort. Hulle stop kort-kort om na tjilpende voëls in die bome te kyk. Van die blare is reeds goudbruin verkleur; die omgewing rustig. Dan kom hulle op ’n stil plekkie af. Hy gooi ’n kombers oop en sy pak die piekniekmandjie uit.
Toe die aktrise Jana Strydom (28) die Saterdagoggend die gordyne ooptrek en die warm dag buite sien, het sy dadelik vir manlief Hannes Kruger (32) gesê dit is ideaal vir ’n piekniek. Hy het saamgestem en die mandjie is met vrugte, broodjies en sap gepak.
Hulle is natuurmense wat graag uit die stad wegkom. ‘‘Ek en Hannes het albei ’n baie besige en uitputtende werkprogram,’’ sê Jana, op die oomblik weer op die kassie in die dramareeks Erfsondes 2.
Kykers het aan die einde van die eerste reeks van Erfsondes ’n sug van verligting geslaak toe dit lyk asof haar karakter, die weeskind Kate Ferreira, uiteintlik huweliksgeluk vind. Sy is met die groot liefde in haar lewe, die skatryk Chris Spencer, getroud.
Kate se tweeling is gebore om die prentjie van ’n gelukkige gesin te voltooi – maar die lewe is ongelukkig nie altyd so eenvoudig nie. Want Chris se tweelingsuster, Sam (Catriona Andrew), wil wraak neem, en Kate weet niks van moederskap af nie. Later gebeur daar boonop iets met die tweeling wat kykers behoorlik op die randjie van die rusbank gaan hou.
Kate se tweeling is deur twee stelle akteurs gespeel: eers babas en toe twee driejarige akteurtjies.
Jana, wat self nog nie kinders het nie, vertel dit was nogal intimiderend om op stel met die piepklein babas te werk. ‘‘ ’n Mens is amper bang jy breek hulle!’’
Lees wat Jana oor die moontlikheid van haar eie kinders sê in Huisgenoot van 21 Mei.