
Vele superbegaafde sokkerspelers is deur die dekades al as ‘‘die nuwe Pelé’’ geloof. Maar as die befaamde Pelé self die dag sulke dinge kwytraak, spits alle sokkerliefhebbers hul ore.
En dis presies wat een van die briljantste sokkerspelers nog sê van die jong Robson de Souza, oftewel Brasilië se Robinho, die man vir wie die stinkryk Manchester City verlede jaar die grootste bedrag nog in Britse sokker betaal het.
En in Suid-Afrikaanse sokkerkringe gons dit al sedert vroeg vanjaar oor die vooruitsig dat dié vlugvoetige doelskieter hier in vanjaar se Fifa-Konfederasiebekertoernooi kan kom speel.
Robinho (25) het die grootste kompliment denkbaar vir ’n sokkerspeler gekry kort ná hy as 17-jarige knaap in São Paulo vir die Santos-klub begin speel het. As bestuurder van Santos se jeugspan het Pelé hom toe al vyf jaar vroeër begin dophou.
Die jong Robinho, die seun van ’n rioolwerker en ’n skoonmaker, het toe weliswaar soos in hul Pelé-jare weer van Santos kampioene help maak. Nog voor Manchester City hom opgeraap het, het hy al op 21 by die Spaanse topklub Real Madrid ’n kleedkamer met David Beckham en Zinédine Zidane gedeel.
Ja, sokkerfoendi’s volg al ’n geruime tyd die loopbaan van dié sokkerwonder van São Paulo, deur die hoogtepunte, maar ook die laagtepunte.
Soms lyk dit asof Robinho beslis baat sou vind by die selfdissipline van ’n Tiger Woods. Maar dan skielik is hy weer pure Pelé-paljas.
Lees meer oor Robinho in Huisgenoot van 28 Mei.