
Vier maande gelede sou niemand hulle op straat herken het nie. Hulle was so doodgewoon soos enige ander Jan Rap. En toe, amper oornag, word hulle sterre.
Met meer as ’n miljoen mense wat gestem het, het die Kaapse nagtegaal Sasha-Lee Davids (18) en die Durbanse rocker Jason Hartman (29) hul plek in die eindronde van die Idols-sangkompetisie losgesing, en toe soos wafferse glanspersoonlikhede op ’n blitstoer deur die land gerits om hul aanhangers te ontmoet.
Met sy stuitige sin vir humor, kuiltjie in die wang en kitaar in die hand is die bruinoog Jason deesdae derduisende meisies se droomkêrel, terwyl Sasha-Lee se suiwer stem oud en jonk betower.
En sekerlik beteken dié kitsroem dat Idols se top-twee vorentoe maar ’n bietjie kan ontspan? As jy volksbesit geword het en almal op straat jou herken, kan jy seker aanvaar jou toekoms in die musiekwêreld lyk rooskleurig?
Moenie glo nie. Want die regte werk begin eintlik eers nadat jy die kompetisie koebaai gewuif het, waarsku diegene wat weet. En kitsroem verdwyn binne ’n oogwink. Kyk maar hoeveel vorige Idols-finaliste deesdae vergete is.
“Idols is ’n droomwêreld, en finaliste skrik wanneer hulle ná die kompetisie met die regte wêreld gekonfronteer word,” sê die musiekpromotor Louis van Wyk. ’n Sanger moet klippe kou om ’n bestaan te maak in die mededingende musiekbedryf, sê Louis.
“Wanneer jy saam met gevestigde kunstenaars op die verhoog staan en met hulle meeding, is dit oorweldigend en intimiderend. Daarom verdwyn soveel Idols-finaliste van die toneel.
Lees meer oor wat Louis en ander oor Sasha-Lee en Jason se toekoms sê in Huisgenoot van 7 Mei.