
Omtrent elke sokkerster het sy eie manier om ’n doel te vier. Van rondhol soos ’n werfhaan, duik dat die gras waai en dans met die hoekvlag tot bolmakiesie slaan.
Party doen dit met sommer ’n rits selfbehaaglike toertjies. Soos Cristiano Ronaldo, daardie megaster wat eenkeer ná ’n allemintige elmbooghou in sy beroemde gesig laat hoor het: ‘‘Toe maar, ek sal gou weer net so mooi wees soos altyd.’’
Kaká, wat die afgelope ruk in allerlei soorte reklame vir die Fifa-Konfederasiebeker 2009 by ons opgeduik het, het sy eie ritueel. Maar dit gaan allermins oor homself, al is hy die meester vir wie die grootste klubs die meeste wil betaal.
Kaká sal tipies sy oë opslaan en sy handpalms na bo draai, of met ’n vinger in die lug wys. En as dit vir jou lyk asof dié voorste doelskepper ná elk van sy eie gereelde doele bid, is jy dalk reg.
So het hy dankie gesê en selfs ’n Jesus-T-hemp onder sy sokkertrui onthul ná Brasilië se eindstrydtriomf in die 2002-Fifa-Wêreldbekersokkertoernooi. En weer toe hy AC Milan die Kampioeneliga teen Liverpool help wen het in ’n toernooi waarin hy ook die meeste doele aangeteken het. Dit was in 2007, dieselfde jaar waarin hy op 25 as die wêreld se allerbeste sokkerspeler aangewys is.
Eintlik bid Kaká al jare lank – ook die slag toe dokters ná ’n ongeluk getwyfel het of hy ooit weer behoorlik sou kon loop.
Soos vroeër vanjaar, toe Manchester City hom vir ’n wêreldrekordbedrag wou koop en glo ’n waansinnige salaris wou betaal, het Kaká hom na bo gewend toe hy op 18 deur verlamming in die gesig gestaar is.
Lees oor Kaká se merkwaardige genesing in Huisgenoot van 14 Mei.