
Die Garforth-Venters het Maandagaande ’n afspraak – net met mekaar. Dan is dit gehaltetyd, weg van die eise van hul onderskeie beroepe, en dit is so te sê dood-sake vir die TV-aanbieders Riaan en Michelle.
Die ewig luiende selfone word weggepak, die skootrekenaars afgeskakel en ’n yskoue bottel vonkelwyn staan reg. Hulle berei ’n ete voor met groente en kruie uit hul organiese tuin en ontspan dan voor die televisie terwyl hulle na Idols en Grey’s Anatomy kyk.
Daarna is dit tyd vir ’n borrelbad met kerse vir ’n romantiese atmosfeer. ‘‘Riaan is ongelooflik liefderik en passievol,’’ koer Michelle (38), terwyl sy hand hare sagkens omvou. ‘‘Hy bring dikwels vir my blomme met ’n glimlag op sy gesig en ’n soen.’’
‘‘Ek hou daarvan om romanties te wees,’’ laat hoor Riaan. Hy sê hy glo ’n mens is soos ’n petroltenk. ‘‘Dit berus by albei partye in ’n verhouding om mekaar se tenk vol te hou.’’
Dis duidelik nog baie liefie-diefie in die huis van die paartjie wat net meer as ’n jaar gelede onder groot omstredenheid getrou het (Huisgenoot, 24 April 2008). Daar was allerlei gerugte – een dat Riaan eintlik gay is, en ’n ander dat hy Petra, sy gewese vrou en die ma van sy twee dogters, San-Marie (17) en Margot (13), vir Michelle gelos het.
Hulle is moeg van gerugte ontken, sê die Garforth-Venters, en om die waarheid te sê, gee hulle nie om wat mense van hulle dink nie. Hulle is dolgelukkig in hul ‘‘groen’’ meenthuis in Bryanston, Sandton – om die waarheid te sê, so gelukkig dat hulle werk aan ’n nuwe toevoeging tot die gesin.
Lees meer oor Riaan en Michelle se omgewingsvriendelike huis en baba-planne in Huisgenoot van 14 Mei.