Friday, 29 May 2009

Angie en Brad speel toneel in Cannes


Dit was die oomblik waarop almal op die rooi tapyt by Cannes gewag het: Hollywood se goue paartjie saam ná maande van gerugte dat die liefdesbootjie in woeste waters vaar.

En nuuskieriges by die bekende rolprentfees in die suide van Frankryk was toe nie teleurgesteld nie. Angelina Jolie het asemrowend gelyk in ’n Versace-rok met ’n spleet tot amper by haar heup, terwyl Brad Pitt elegant was in ’n aandpak.

Maar was die verenigde front wat die twee voorgehou het, genoeg om die wêreld te verseker dat hulle nog smoorverlief is?

Hulle het handjies vasgehou, liefdeswoordjies in mekaar se oor gefluister en hul arms om mekaar gesit terwyl die aanhangers gestraal en die kameras geflits het. En later by ’n partytjie het Angie styf teen haar man gesit, met haar hand wat op sy bobeen of skouer rus. Sy was heeltyd aan sy sy.

Brad het vir iemand by die partytjie gesê hy ‘‘is die gelukkigste man wat daar is. Ek is verlief en het die mooiste gesin – wat anders kan ’n ou wil hê?’’

Maar dié wat weet, sê die hele aand was ’n klug. Hul lyftaal op die rooi tapyt lyk meer soos dié van ’n paartjie wat in die moeilikheid is as van twee verliefdes, meen kenners. En die foto’s by die partytjie bewys dit volgens hulle (sien die foto’s regs onder).

Die waarheid is dat Brad (45) en Angie (33) minder as 36 uur saam in Cannes deurgebring het – en hulle kon nie gou genoeg van mekaar af wegkom toe die fees tot ’n einde kom nie.

Lees meer oor Brangelina se wankelrige verhouding in Huisgenoot van 4 Junie.