
Ons ken haar as die kinderster wat as’t ware voor Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers se oë grootgeword het en met treffers soos Krappies en Krefies en later Kaapse Draai in hul hart gekruip het.
Maar vandag sit ’n goue meisie hier voor ons in die son. Nie net skitter Nádine van kop tot toon met haar goue oogskadu, ’n Louis Vuitton-horlosie aan haar pols en ’n gebreide goue toppie wat netjies by haar ewe goue skoene pas nie, sy is ook reg om haar eerste internasionale album in goud te verander.
This Time I Know is al in November verlede jaar in Suid-Afrika uitgereik en haar aanhangers en resensente is gaande daaroor. En nou wil sy daarmee haar debuut in die internasionale musiekwêreld maak.
Die album word tans aan verskeie Europese lande aangebied en sal in Junie of Julie daar uitgereik word. En as die Europese radiostasies dit eers begin speel, wil sy daar konserte hou.
En met haar nuwe album wys die sanger, wat nou die dag nog die baba van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf genoem is, dat sy haar kinderskoene ontgroei het.
‘‘Ek sal nooit my wortels vergeet nie,’’ sê sy van haar musiek in die beginjare, ‘‘maar as dit by my stem en optredes kom, wil ek nie as die baba bekend wees nie. Ek is ’n kunstenaar wat my skoene kan vol staan tussen al die ander kunstenaars.’’
Sy het op die nuwe CD nie aan haar styl getorring nie, maar wel ’n klemverskuiwing gemaak. Sy wou meer van Nádine die sanger as Nádine die performer vir haar aanhangers wys. Daarvoor het sy stemafrigting gekry, verduidelik sy.
Sy het ook effens aan haar voorkoms geskaaf. ‘‘Ek wil nie meer hê mense moet dink ek is vyftien of sestien nie. Ek het grootgeword.’’ Daarom het sy nou die blink korsette waarin sy altyd opgetree het, uit haar kas gegooi.
‘‘Ek is nie nou anders as wat ek voorheen was nie. ’n Mens is wat jy is. Maar ek wil nie hê mense moet na my kyk en sê: ‘Weet jy, as sy nou eendag groot is, sal ek ook haar CD koop’ nie.’’
Wen ’n CD
Dertig lesers kan elk ’n kopie van Nádine se CD This Time I Know wen. SMS net voor 5 Februarie NADINE na 34922. Elke SMS kos R2.
Lees in Huisgenoot van 29 Januarie meer oor Nádine se toekomsdrome.