Friday, 16 January 2009

Oud-Bok Theuns nog vol moed


Toe die pyne in sy bene begin, het hy gedink dis maar die ou rugbybeserings wat hom nou hier in sy vyftigerjare laat les opsê. Op sy dag het Theuns Stofberg immers meer as sy deel aan stampe en stote op die rugbyveld beleef.

Maar toe die gewese Springbok-kaptein in November op pad Londen toe vir ’n toets tussen Suid-Afrika en Engeland skielik sulke ondraaglike pyn beleef dat sy vrou gedink het hy gaan sterf, het hy besef hier is groot fout.

In Londen aangekom, het hy nog dapper op sy tande gebyt. Maar teen middernag was die pyn so onuithoudbaar dat sy familie met hom hospitaal toe gejaag het.

Die volgende dag kom die diagnose: Hy ly aan die seldsame Churg-Strauss-sindroom. Theuns (53) is self ’n fisioterapeut, maar het nog nooit daarvan gehoor nie, en die dokters moes verduidelik dis ’n toestand wat ontsteking van die slagare veroorsaak en ernstige orgaanskade tot gevolg kan hê.

Hy was ’n week in die hospitaal en kon toe darem daarna op televisie na die toets kyk. Maar terug in Suid-Afrika was hy verplig om sy praktyk op Stellenbosch te sluit.

‘‘Ek moes maar,’’ sê Theuns in sy huis buite die dorp. ‘‘Ek kan nie in my toestand met mense werk wat self hulp nodig het nie. Ek kan ook nie so lank op my bene staan nie. Die gevoel is weg en ek het geen reflekse of balans nie en ek dra ’n voetstut.’’

Die geluk by die ongeluk is dat die situasie veel erger kon gewees het. In sommige gevalle tas die siekte pasiënte se organe en selfs breinfunksie aan. Daar is reeds getoets of Theuns se lewer, niere, hart en longe aangetas is, maar alles is gelukkig in orde.

En noudat Theuns goed op sy medikasie reageer, het hy selfs ’n nuwe stokperdjie.

‘‘Ek was onlangs met vakansie in Stilbaai en het saam met ’n vriend in sy dubbelkano gaan vaar. Toe besef ek ek het nie my bene nodig om te roei nie.

‘‘As ek ’n borg kan kry,’’ spot hy, ‘‘neem ek dalk nog deel aan die Bergrivier-marathon!’’

Lees in Huisgenoot van 22 Januarie meer oor Theuns en die seldsame outo-immuun-siekte Churg-Strauss-sindroom.