
Al was ma Sonia Raciti-Oshry, die hoofbeoordelaar van Mej. SA, die laaste dag van die skoolvakansie ’n bietjie tranerig, kon die sesjarige Keaton nie wag om vir die eerste keer skool toe te gaan nie. ‘‘Hy’s vreeslik opgewonde. Maar dis vir my oorweldigend om te dink hy begin vanjaar met sy formele skoolopleiding – dit voel asof hy nou grootword en klaar die huis verlaat,’’ sê die voormalige Mej. Suid-Afrika. Haar eersteling is vanjaar in gr. R aan die Laerskool Bryandale in Bryanston.
Ons het die glansma Michelle McLean en haar negejarige seun Luke in Claremont, Kaapstad, raakgeloop waar hulle skryfbehoeftes vir die skooljaar gaan koop het. En die mannetjie kon nie wag om terug te keer na die skoolbanke nie. ‘‘Ek gaan beslis rugby speel,’’ het hy skaam gesê. Luke begin vanjaar by ’n nuwe skool, vertel sy ma. ‘‘Hy is nou in gr. 4 by SACS in Nuweland waar ons woon.’’
Die Mr Bones 2-aktrise Leeanda Reddy se huis was in rep en roer op die vooraand van die nuwe skooljaar toe haar sesjarige seun, Yorke, alles vir sy eerste skooldag reggekry het. ‘‘Hy het tot laat wakker gebly om sy naam op al sy goed te skryf.’’ Hy is vanjaar ’n graad-eentjie by Reddam House in Bedfordview, en hy het eers ’n bietjie benoud begin voel toe Ma hom by sy klas groet. Maar Leeanda was nog meer aangedaan as hy. ‘‘Ek dink die eerste skooldag is selfs meer spannend vir die ouers,’’ sê sy.
Zane Meas se kroos het behoorlik geskarrel toe die laaste aand van die skoolvakansie aanbreek. ‘‘Hulle was tot laataand besig om hul boeke oor te trek en hul skoene skoon te maak,’’ vertel 7de Laan se Neville. Campbell is vanjaar in gr. 10 by The Kings School West Rand in Ruimsig aan die Wesrand en Connor is in gr. 7.
Patricia Lewis kan dit net nie oor haar hart kry om Max se blonde lokke te knip nie. Gelukkig mag die vierjarige knapie met hare en al na sy speelgroep in Ballito, KwaZulu-Natal, gaan. ‘‘Hy’s mal daaroor om met die ander kinders te speel,’’ vertel die sangeres.