
Net ’n klipgooi van die Magaliesberge en ’n minuut se ry van die skilderagtige Hartbeespoortdam staan ’n dubbelverdieping-grasdakhuis. Sebras en wildsbokke dwaal buite rond en twee boerbokke blêr rustig aan die onderpunt van die tuin.
‘‘Dis my paradys,’’ sê Darren Scott, wat sedert 2002 hier woon. ‘‘Ek wou van kleins af in die bos bly.’’
Die vredigheid hier by die vierslaapkamerhuis is in skrille kontras met die gewone gejaagde lewenstyl van die 45-jarige radio-en-televisiepersoonlikheid. Wanneer die meeste van ons nog slaap, is hy al uit die vere, en hy kom eers sononder weer hier by die huis wat hy met sy verloofde, die model, aspirant-aktrise en onlangse Mej. SA-finalis Sarah-Kate Seaward (25) deel.
Hy slaan ’n koppie koffie weg voor hy koers kry na Jacaranda 94.2 se ateljee in Midrand. Daar bied hy die afgelope twee jaar die program Just Plain Breakfast aan. In die namiddag is hy die aanbieder van die Just Plain Show vir die Durbanse stasie East Coast Radio. Dan werk hy ook nog twee keer per week as vryskutaanbieder by M-Net se SuperSport.
‘‘Ek is ’n werkslaaf,’’ bely hy. ‘‘Gister het ek tot twee-uur die oggend op kantoor aan ’n voorstel gewerk.’’
Maar dit gaan nie ongesiens verby nie: Hy is onlangs by die Suid-Afrikaanse Radio-toekenningsaand as die platejoggie van die jaar en sy ontbytprogram as die mees innoverende program van die jaar aangewys.
‘‘Dit was ’n eer,’’ sê hy. ‘‘Ek het op my dek in Harties gesit toe my programbestuurder my bel om te sê ons het gewen. Hy was daar – ek is nie genooi nie. Ek het glad vergeet die prysuitdeling is daardie naweek.’’
Dan lag hy. ‘‘Ek hoor daar was ook internasionale beoordelaars op die paneel. Dit verklaar waarskynlik waarom ek goeie punte gekry het – hulle kon nie my Afrikaans verstaan nie. Nie eens Afrikaanse mense kan my Afrikaans verstaan nie!’’
Darren pendel elke dag minstens twee uur lank werk toe en terug, maar dis ’n klein opoffering vir die voorreg om in sy droomhuis te woon, sê hy.
In Huisgenoot van 22 Januarie wys Darren Scott van radio en TV sy paradys.