Thursday, 29 January 2009

Kate en Leo laat die vonke spat op die groot skerm


Dit was die fliek-romanse van die dekade, ’n liefde wat oor alle grense heen geblom het, net om in die ysige waters van die Atlantiese Oseaan te eindig. Wie het nie ’n traan gestort oor die tragiese afloop van Titanic nie?

Ons wou almal hê Jack en Rose moes saam oud word.
Geen wonder ’n nuwe fliek waarin die sterre van daardie mega-treffer van 1997 in nog ’n liefdesverhaal herenig word, het die wêreld nou gaande nie.

Kate Winslet en Leonardo DiCaprio is ’n getroude paar in die ontstellende nuwe drama Revolutionary Road, wat al benoemings vir verskeie toekennings soos die Satellite-pryse en die Oscars ingeoes het sedert dit op 23 Januarie uitgereik is.

Hulle het Hollywood behoorlik aan die gons – Kate nou ’n slanker en blonder weergawe van haar ou self en Leo, wie se seunsagtige sjarme vir ’n smeulende aantrekkingskrag plek gemaak het.

“Ek en Leo het altyd geweet ons sou weer saam werk,” sê Kate. “Ons het ’n emosionele snelskrif, ’n fisieke gemaklikheid omdat ons mekaar al so lank ken.”

Leo beaam dit: “Oor die jare het ek vir myself gesê: ‘Ek weet nie of ons dit weer moet doen nie.’ En dan het ek gedink: ‘Wat is jy, ’n idioot? Hoekom sou jy nie saam met die beste aktrise van haar geslag wou werk nie?’ ”

En die feit dat Kate se man, Sam Mendes, die regisseur is van die fliek waarin Leo en Kate twee witwarm sekstonele het, maak dinge natuurlik net nog interessanter.

Revolutionary Road gaan oor Frank en April Wheeler, twee mense wat worstel met die verlies van hul drome.

Kate sê die sekstonele wat sy en Leo voor haar man moes skiet, het haar deeglik ontsenu.

“Ek het bly sê: ‘Dit is te vreemd.’ En dan laat hoor Leo: ‘Ag, toe nou.’ En ek sê: ‘Ja, maar onthou, jy is my beste vriend. Hy is my man.’ ”

“Ek het net vir haar gesê: ‘Dit voel nie vir my vreemd nie – dis net toneelspel,’ ” sê Leo. “Dit was vir my iets heel gewoons omdat ek Titanic saam met haar gedoen het.”

Lees in Huisgenoot van 5 Februarie meer oor hoe Kate en Leo ná Titanic geskitter het.