
Hy was ’n japsnoet van twaalf toe die vreemdeling met die gawe oë en die gul glimlag by sy tannie se huis in Bloemfontein kom kuier het.
Die man het belangstellend oor sy lewe uitgevra en vir hom ’n paar blink muntstukke gegee voor hy weer vort is. ‘‘Jis, daai was ’n gawe oom,’’ het die seuntjie gedink voor hy die man in sy herinneringe gebêre het.
Maurice Carpede (41) se tannie sou eers jare later vir hom sê dié ‘‘gawe oom’’ was sy pa. En amper twee dekades nadat hy pa Mike vir die eerste en laaste keer gesien het, het hy besluit om na hom te gaan soek.
‘‘Dit was so sewe of agt jaar gelede. Ek het nie lank daaroor gewroeg nie. Ek het net op ’n dag besluit ek wil my pa ontmoet,’’ vertel die aanbieder van die gewilde SABC2-musiekprogram Sweepslag en Jacaranda 94.2 se oggendprogram met ’n veraf kyk in sy oë.
‘‘Ek het by ’n vriendin van my ma gehoor wat my pa se adres was en by sy huis in Bloemfontein gaan aanklop. ’n Meisie het die deur oopgemaak, ‘hallo’ gesê en toe weggestap. ’n Paar sekondes later het sy teruggekom en gesê: ‘Skuus, ek dog jy’s my broer.’ ’’
Tsholofelo Magau was tereg verward, want Maurice het op ’n haar nes haar ouboet, Seabelo, gelyk. Hulle was immers halfbroers. Daardie dag het Maurice sy familie vir die eerste keer leer ken.
‘‘Toe ek en my pa begin gesels, was dit nie eens ongemaklik nie. Hy’t vir my gevra of ek wil weet hoekom dinge tussen hom en my ma skeefgeloop het en ek het gesê dis die verlede, dis hul sake.
“Ek wou net by hom hoor of hy bereid sou wees om my as sy seun te aanvaar en of ek hom as my pa kon aanvaar.’’
Sy glimlag is sag. ‘‘Die jare het nie die ooreenkomste tussen ons uitgevee nie. Ek lyk en is nes my pa – my hande, my stap . . .’’
Lees in Huisgenoot van 29 Januarie meer oor Maurice Carpede se sorgelose kinderjare.