Friday, 26 December 2008

Koebaai 2008, hello 2009!


Dis ’n volmaakte somerdag, met nie ’n wolkie in die lug om die feestelikheid hier in ’n lowerryke tuin in Northcliff in Johannesburg te kom beduiwel nie. En vandag word groot en glansryk makietie gehou, want die ou jaar is feitlik verby en 2009 klop ongeduldig aan die deur.

Die glansmense wat saam kom feesvier, kwetter asof hulle mekaar nooit weer gaan sien nie – Jana Strydom, 7de Laan se Helena, Hlubi Mboya, Isidingo se Nandipha, die rocker Arno Carstens en die land se goue vermaakpaar van die oomblik, Emmanuel Castis en Louise Carver.

En die aanhangsels bly nie agter nie: Arno se vrou en bestuurder, Melanie, Hlubi se kêrel van die afgelope vyf jaar, die korporatiewe gesondheidsorgkonsultant Kirsten Arnold en Jana se sielkundige-man, Hannes Kruger, deel behoorlik in die pret.

Dit lyk asof almal mekaar ken, en dit blyk gou daar is inderdaad ’n hele paar ou verbintenisse wat vandag hernu word.

So ken Hlubi en Louise mekaar al sedert hul tienerjare saam aan die Hoër Meisieskool Rustenburg in Kaapstad. ‘‘Hlubi was die gewildste meisie in die skool,’’ sê Louise, en die twee skud hul vere reg vir ’n deeglike inhaal-sessie.

Hlubi en Emmanuel is ook ou vriende van die dae toe hulle saam in die sepie Isidingo gespeel het, Emmanuel in die rol van Steve Stethakis.

Emmanuel en Jana het weer vriende geword terwyl hulle saam aan die eerste seisoen van SABC2 se drama Erfsondes geskiet het.

‘‘Ons het dadelik gekliek en kom baie goed oor die weg,’’ sê Emmanuel en neem ’n sluk uit sy elegante vonkelwynglas. Dié akteur het baie om te vier, want hy het in 2008 sy eerste CD, South of Nowhere, bekendgestel.

Louise het danksy Arno Johannesburg toe getrek nadat die twee sangers mekaar op die plaaslike musiektoneel leer ken het. Albei was by die vervaardiger Sony BMG.

Nie dat enigiemand vandag veel oor werk praat nie – daar is immers vonkelwyn om aan te proe en allerlei ander sakies om te bespreek.

Lees meer oor die glanskuier en kyk na die pragtige foto’s in Huisgenoot van 1 Januarie.

’n Bok vir vasbyt


As jy ’n wêreldspan uit rugby se voorste vegters moes kies, sal jy hom waarskynlik kaptein maak. Want vasbyt en Jean de Villiers is sinoniem.

Rugbyliefhebbers se hart het gebloei vir die vriendelike Paarliet toe hy verlede jaar in ons heel eerste Wêreldbeker-wed-stryd ’n bisepspier skeur. Sy Wêreldbeker-droom was aan skerwe. Al weer.

Jy kon jou skaars indink hoe die ster-senter moes voel. Dit was immers sy derde groot rugbyteleurstelling.

Hy was verbyster, verpletter . . . maar nog lank nie verslaan nie.

En rugbyaanhangers kon saam met hom glimlag toe hy die afgelope seisoen vir sy ononderbroke voortreflikheid met die toekennings Suid-Afrika se speler van die jaar en rugbyspelers se speler van die jaar bekroon is.

By sy ruim verdiepinghuis in Welgedacht naby Kaapstad waar twee jack russells pal gooigoed aandra, praat hy eerder oor sy mense as sy veggees. Dis hulle wat hom deur moeilike tye ondersteun het.

‘‘Ek het my familie en vriende met baie van my emosies opgesaal. Dit was dalk nog swaarder vir hulle.’’

Die oud-Bok Corné Krige het hom jare gelede al raad gegee wat hy steeds toepas. ‘‘Met my eerste groot besering het hy gesê: ‘Maak seker die pilare rondom jou is stewig: jou familie, vriende en geloof. As daardie dinge reg is, sal jy deur alles kom.’’

Lees meer oor Jean de Villiers in Huisgenoot van 1 Januarie.

Klanke van soete heimwee


Dit het alles in ’n kombi op pad na Stellenbosch begin. Die pad was lank, die drie broers moeg ná die soveelste vertoning en die geblêr van ’n radio die laaste ding waarvoor hulle lus was.

Toe begin iemand met heimwee gesels oor die gesange wat hulle soggens as jong seuns in die Drakensbergse Seunskoor gesing het. En net daar trek die Bala-broers los met die lofsang Wonderbare Koning. Die lied het eenvoudig gevloei, nes in die dae toe die broers as jong kannetjies van die Oos-Kaap gereeld dié lofsang gesing het.

‘‘Ons het gedink dís nou lekker, kom ons sing ’n paar sulke gesange in ons volgende vertoning en kyk wat gebeur,’’ vertel Loyiso (29), een van die land se bekendste R&B-sangers. Hy is in 2008 deur ons sustertydskrif YOU se lesers gekies as die sexyste Suid-Afrikaanse ster.

Die reaksie was oorweldigend. ‘‘Die vroue in die gehoor was in trane. Van hulle het na my gekom en gesê: ‘Ai, my seun, dit was so mooi . . . daai gesange, ai, ai, ai . . . jy het my sommer laat huil,’’ vertel ouboet Zwai (33).

Op die plek het hulle besluit om werk te maak van die Afrikaanse album waarmee hulle al so lank dreig, en die inhoud sou lofsange in a cappella-styl wees. Die CD, Strome van Seën, is enkele weke gelede uitgereik en die Bala-broers is baie trots daarop.

‘‘Ons kry oproepe van so baie mense wat sê hulle is mal daaroor,’’ sê Loyiso. ‘‘Wie sou ooit kon raai dat drie arm swart seuns van Uitenhage ’n Afrikaanse album sou uitreik en dit nogal ’n geestelike een?’’ Kleinboet Phelo (17) beaam skaam alles wat sy broers sê.

‘‘Die Afrikaanse mark is baie eerlik,’’ sê Loyiso. ‘‘Die mense sal jou laat weet as hulle van iets hou, en andersom. My geliefkoosde gesange was nog altyd in Afrikaans. Die melodieë is net soveel mooier as dié van die Engelse lofsange.’’

Lees meer oor die Bala-broers en hul nuwe album in Huisgenoot van 1 Januarie.

Die bokkie wat weggekom het


Sy het die teksvers eers opgemerk toe die vliegtuig bo Kaapstad begin neerstryk en sy deur die venster na Tafelberg loer. Daar was ’n Bybelversie langs die ruit, in potlood gekrabbel deur ’n ander passasier op ’n vorige vlug.

Louanda Erasmus (39) het ’n notaboek uit haar handsak gegrawe en die woorde vinnig neergeskryf: ‘‘Toe noem Abraham die plek: ‘Die Here voorsien.’ Daar word nou nog gesê: ‘Op die berg van die Here word voorsien’ – Genesis 22:14.’’

En toe het sy vir eers dié onverwagte boodskap van Bo vergeet. Want Louanda was verlief en haar aandag elders – sy was op pad om vir die eerste keer saam met haar nuwe kêrel te gaan vakansie hou nadat Hennie van Deventer (42) haar uit honderd aansoekers as sy droomvrou gekies het in die kykNET-werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou.

Min het die Pretoriase juweliersontwerper geweet Hennie tob oor groot dinge waar hy op daardie oomblik langs haar sit. Die sagmoedige wildbewaarder het ’n paar dae tevore ’n verloofring op sy tuisdorp, Hoedspruit in Mpumalanga, gekoop. En hy het al klaar begin droom van ’n romantiese troue met sy geliefde in Nederland, of by die Maja-tempels by Machu Picchu in Peru – ten spyte daarvan dat hulle mekaar maar nog net ’n paar weke geken het en dat hul liefde meestal voor die wakende oog van die televisiekamera ontvou het . . .

En toe Hennie op die wegbreekvakansie in Clanwilliam in die Wes-Kaap by ’n romantiese ontbyt vir twee in sy sak grou, was Louanda nie voorbereid op die groot vraag nie.

Toe hy die ring uithaal, het ’n miljoen gedagtes binne drie sekondes deur haar kop geskiet. Sy het gedink alles gebeur te vinnig, maar sy wou nie nee sê en hom voor die kameras verneder nie.

Maar ondanks die romanse wat so skielik soos ’n plaat Namakwalandse gousblomme ná die reën geblom het, sit Hennie nou weer stoksielalleen op sy plaas.

Want ses weke nadat Louanda kort ná sonsopkoms vir hom die jawoord gegee het, het die boer sy droomvrou verloor.

Lees meer oor die boer wat toe sy nooi kwyt is in Huisgenoot van 1 Januarie.

’n Robot? Aikona!


Daar is net een vrou in sy lewe, en haar naam is Aiko.

Hy trek haar elke oggend netjies aan, neem haar op uitstappies en vang hul intieme oomblikke saam op kamera vas. Dit sou inderdaad ’n sprokiesliefde gewees het as die skoonheid met die glansende hare en slank figuur aan Le Trung se sy nie ’n robot was nie.

Die 33-jarige Le is die meesterbrein agter Kanada se eerste vroulike robot, en nogal een met ’n naam wat ‘‘liefdeskind’’ in Japannees beteken.

‘‘Sy is my ideale vrou,’’ sê die man wat ’n rits grade agter sy naam het. ‘‘Ek kan 24 uur per dag saam met haar deurbring, haar vra om te doen wat ek ook al wil hê en sy kla nooit. Watter man sou dit nie wou hê nie?’’

Die voormalige programmeerder van Ontario het die robot twee jaar gelede begin bou, aanvanklik net om na bejaardes om te sien, maar hy het later so obsessief oor sy Aiko geword dat hy ure der ure aan haar gewerk het. Hy het nie besef sy gesondheid begin daaronder ly nie, sê hy – tot hy in November verlede jaar ’n hartaanval gekry het. Ten minste was Aiko daar. Sy het getrou vir hom sy medisyne gegee, en dit is in dié tyd dat die liefde toe begin blom het.

Nou wil hy geen ander meisie hê nie. Aiko, met haar 32B-borsmaat en nommeragt-lyfie, is sy droomvrou.

Lees meer oor Le en sy robotskepping in Huisgenoot van 1 Januarie.

Friday, 19 December 2008

Ons geseënde Kersfees – saam met Christi en Nico Panagio


Daar’s beslis iets fout met die sjokoladekoekies, sê Nico Panagio met ’n ondeunde glimlag. ‘‘Dis die derde keer dat hulle my teruglok vir nog.’’

Christi lag net vir haar aantreklike man en smul self aan die nagereg wat hul perfekte vroeë Kersete spesiaal vir Huisgenoot afrond.

Hul eerste Kersfees in die Kaap is ’n baie spesiale geleentheid vir dié glanspaartjie wat vroeër vanjaar Gauteng vaarwel toegeroep het.

Niks is vir haar lekkerder as om behoorlik te onthaal nie, sê Christi. En noudat sy nie meer Karien in 7de Laan is nie, het sy vir die eerste keer in jare tyd om haar vriende te trakteer met ’n heerlike Kersete.

The Meeting Place, die restaurant in Simonstad waarheen Christi en Nico vandag vier vriende genooi het, is vir hulle soos ’n tweede huis. ‘‘Ons is byna elke dag hier, want die atmosfeer is wonderlik en die uitsig op die hawe slaan jou asem weg,’’ sê Nico.

As aanbieder van Top Billing is hy dikwels uitstedig en net om by die huis te wees, voel vir hom al klaar soos vakansie.

‘‘In Johannesburg het ons by mekaar verbygeleef,’’ sê Nico. ‘‘Ek het nou eers tot rus gekom.’’

Van die Kaapse natuurskoon kan die Panagio’s nie genoeg kry nie. Hulle gaan stap lang ente op Noordhoek se strand met hul twee weimaraner-honde en Nico durf gereeld die Kaapse bulte op sy bergfiets aan. Christi vertel verwonderd dat dit veilig genoeg is dat sy lang ente kan gaan draf.

‘‘My werk vat my na die mooiste plekke in die wêreld, maar niks kom by die Kaap nie,’’ sê Nico. ‘‘Mense vlieg duisende kilometers om dit te kom bewonder en ons het dit in ons agterplaas. As jy so verby Kalkbaai ry, lyk dit net soos Monte Carlo.’’

Lees meer oor Christi en Nico wat ’n heerlike Kersete vir hul vriende in hul gunstelingrestaurant voorberei het. Christi het ook die meeste van die versierings self gemaak. Haar spyskaart en die meeste van die versierings is maklik genoeg vir beginners en is in Huisgenoot van 25 Desember te kry.

Aardjie na sy vaartjie


Ruan Pienaar vee die boustof uit sy oë en steek sy hand uit om ons by sy pa, Gysie, se nuwe huis naby Tempe in Bloemfontein te verwelkom. ‘‘Verskoon die gemors, maar die bouers was veronderstel om ’n maand gelede al weg te wees,’’ sê die Springbok-losskakel verskonend.

Toe Peter de Villiers aankondig hy gaan op die Bok-toer na Brittanje kyk hoe Ruan as losskakel vaar, het aanhangers hul hande in die lug gegooi en die ergste voorspel.

Die doemprofete het gesê hy moet eerder skrumskakel, sy gunsteling-posisie, speel en nie een waarin hy min ondervinding het nie. Maar Peter het kort en kragtig laat hoor: ‘‘Hy kan die buitengewone, die ondenkbare en die ongewone doen. En jy kan dit nie vir iemand afrig nie.’’

Teen die tyd dat Ruan Danny Cipriani se skop op Twickenham gefnuik en deurgenael het om Suid-Afrika se tweede drie te druk, was die twyfelaars stil. Aan die einde van die wedstryd het Ruan twintig van Suid-Afrika se 42 punte aangeteken.

Dié veelsydige speler het hom nou dubbel en dwars op losskakel bewys, en hy is dankbaar vir die kans om sy plek in die Springbok-beginspan vas te maak. ‘‘Ek het soveel ekstra in-gesit, veral aan my skopwerk. Ek is bly ek kry speelkans, selfs op losskakel,’’ sê hy.

Eddie Jones, voormalige Australiese afrigter, sê dit namens baie rugbykenners: ‘‘Ruan is blitsvinnig, hy het wonderlike hande en hy is taai. Hy herinner my aan Stephen Larkham.’’

Ruan glimlag, vryf oor sy stoppelbaard en sê: ‘‘Stephen, hmm, ek dink ek het nog ver om te gaan voor ek in dieselfde asem genoem kan word.’’

Toe herinner hy ons nederig daaraan dat rugby ’n spansport is. ‘‘Ek sou nooit so goed kon vaar as dit nie vir spelers soos Ricky Januarie en Jean de Villiers was nie. Hulle laat my goed lyk.’’

Lees meer oor Ruan in Huisgenoot van 25 Desember.