
Oor enkele weke word die nuwe Mej. Heelal gekies, en vir dié wat al begin wonder het wat ons eie Tatum Keshwar gaan dra wanneer sy kragte meet teen die wêreld se mooistes – vandag is jul gelukkige dag!
Ons gee julle vandag ’n eksklusiewe kykie na twee van haar belangrikste uitrustings: die nasionale kostuum en die rok wat sy vir die laaste ronde van die beoordeling sal aantrek.
Dit was Reginald Molamu en Paledi Segapo van RjKay Creations se taak om die langbeen-skoonheid se nasionale kostuum te skep. Hulle het ’n hedendaagse Zoeloe-bruidsuitrusting as tema gekies.
‘‘Dis ’n gesofistikeerde, elegante en moderne weergawe van die tradisionele bruidsrok,’’ sê Reginald van die pragtige rok van R25 000. “Tatum kom van KwaZulu-Natal, dus pas die Zoeloe-tema haar perfek.’’
Die romp bestaan uit meer as 90 stroke kunsleer wat met die hand aan lae middernagblou tulle vasgewerk is en aan die onderkant met kralewerk afgerond is. Die fokuspunt is die diervelmotief-korset met ’n mantel van sy-chiffon. Vir bykomstighede het die span van RjKay landelike Zoeloe-vroue gevra om vir haar juwele, ’n isicholo (trouhoed) en ’n bruidstok van krale te maak.
Die Zoeloe-bruid-konsep was deels haar idee, sê Tatum. ‘‘Ons wou iets kreatiefs en oorspronkliks hê, maar omdat dit ’n kostuum is, moes dit ook spoggerig en teatraal wees. Boonop is die Zoeloe-kultuur internasionaal herkenbaar as Suid-Afrikaans.
As ek dit in een woord moes beskryf, sou ek sê dis koninklik.’’
Lees meer oor Tatum se uitrustings en haar wen-kanse in Huisgenoot van 16 Julie.





