Friday, 13 March 2009

Ons kuier by Jackie en Vera Nagtegaal


Die boom op die sypaadjie is spierwit geverf en ’n kiertsregop winkelpop met ’n windmakerige serp om haar nek begroet jou in die voortuin. As jy by die Nagtegaals van Melkbosstrand kom kuier, sien jy sommer met die intrapslag: Hier bly interessante mense.

Die vrolike stemme wat van onder die sambreel in die tuin opklink, behoort aan Jackie (25) en Vera (30) Nagtegaal en hul seuntjie van sestien maande, Dirk. Die drie is doenig met middagete – die blonde Vera met haar vietse lyfie en die donkerkop Jackie wat die ene kuiltjies oor hul seuntjie koer.

Sewe jaar gelede het Jackie, toe maar sewentien jaar oud, behoorlik opslae gemaak toe sy, net 17 jaar oud, ’n boek geskryf het wat met sy tema van ’n eiewys tiener en die loslit-taalgebruik ’n hele herrie veroorsaak het.

Daar’s Vis in die Punch het toe twee letterkundige pryse losgeslaan, en die naam Jackie Nagtegaal was op almal se lippe. Des te meer toe die volk hoor sy bly in haar eie woonstel in Stellenbosch waar sy skoolgaan, en naweke – toe pas agttien – ry sy in haar eie sportmotortjie huis toe na ma en pa aan die Weskus.

Nou, sewe jaar later, het Jackie pas haar tweede boek klaar. In Limbo is haar en haar skrywer-ma, Reinet, se gesamentlike werk. Dit gaan oor ’n skatryk ma en dogter wat met ’n donker geheim saamleef en al hoe dieper in die bottel kyk, en daar is groot belangstellling in die nuwe pennevrug.

Gewoon was dié meisiekind met haar baanbreker-boek op 17 jaar allermins, en drie jaar gelede was dit weer baanbreker-tyd toe sy en Vera een van die eerste paartjies in die land geword het wat getrou het nadat gay-huwelike gewettig is. Jackie was 19 en Vera 25 toe hulle mekaar ontmoet het en dit was liefde met die eerste oogopslag.

Lees meer oor wat Jackie en Vera sê oor hul verhouding, gay-wees en ouers-wees in Huisgenoot van 19 Maart.

Dieter, Pasella se spiertier


Jy is nog nie eens by die voordeur in nie of die ketel word aangesit. Dieter Voigt bederf altyd sy kuiermense met sy beroemde koffie, sy eie spesiale resep natuurlik, en vandag is dit ons beurt.

Dis moeilik om te glo die spiertier is al dertig jaar oud. ‘‘Ja wat, ’n mens is mos maar net so oud soos jy voel,’’ sê die man met die innemende geaardheid wat deesdae heeltyds aanbieder is op die leefstyl-TV-program Pasella.

Hy moes hard werk om te kom waar hy vandag is, maar uiteindelik het sy lewenspad na al die plekkies gekronkel waarna sy hart sedert sy kinderjare al hunker, vertel hy.
Vyf jaar lank het hy een van sy grootste passies uitgeleef: om onderwyser te wees – maar juis daar by die Laerskool Mikro in Kuilsrivier buite Kaapstad het sy drome hom in ’n nuwe rigting gestuur.

‘‘Ek het eendag vir my gr. 7-klas ’n motiveringspraatjie gegee oor hoe om jou drome voluit te leef, en ek het skielik tot die besef gekom: Hoe kan ek vir ander preek as ek nog nie eens begin het om al my eie drome te verwesenlik nie?’’

Hy het op die plek besluit om twee van sy grootste wense te vervul – en dit was ook nie geringe droompies nie. Hy wou Mnr. Suid-Afrika word, en hy wou nog eendag gesig wys op Pasella.

En soos die geluksgodin dit wou hê, slaan hy toe sommer twee vlieë met een klap dood en albei sy drome word waar.

In 2007 is hy as die mooiste man in die land aangewys. En daar besoek Pasella toe sowaar sy skool om ’n insetsel oor die mooie onnie te doen, en die res is natuurlik geskiedenis . . .

Lees meer oor die Pasella-hartebreker se dolle dagboek in Huisgenoot van 19 Maart.

Friday, 06 March 2009

Paul Rothmann wys sy boheemse huis


Hy slaap op die solder. Nie omdat hy moet nie, omdat hy wil.

Paul Rothmann is dalk een van die gewildste persoonlikhede op die kassie, maar hy doen dinge beslis nie soos ander glansmense nie. So het hy amper twee jaar lank in ’n kliphuis so groot soos ’n pophuis gewoon. En toe hy verlede jaar besluit om ’n reuse oopplanvertrek aan te bou, was hy nie te grênd om sy hande vuil te maak nie.

Hy’t toe sommer self die swaar houtvoordeur wat hy destyds op sy wittebrood in Indië gekoop het, ingemessel. Nie een van die mure in die huis op ’n kleinhoewe in die ooste van Pretoria loop reguit nie, en daar’s nie ’n enkele hoek wat teen ’n perfekte 90 grade gebou is nie, sê die Pasella-aanbieder met ’n laggie.

Maar dit skeel Paul (31) min, want dis sy droomhuis – ’n huis waar dinge aards eerder as aansitterig is. ‘‘Dis asof die huis vir ons gesê het wat moet gebeur; dit het met ons gepraat,’’ sê hy.

‘‘Die huis het ’n boheemse, Oosterse, aardse gevoel,’’ sê Monique (31), die huisontwerper en eienaar van twee gastehuise met wie Paul twee jaar gelede getroud is. ‘‘Maar tog werk dit. Dis omdat elke ding ’n storie vertel, en omdat ons lief is vir alles.’’

Jy kan nie anders nie as om diep jaloers te wees op die lewe wat die twee hier op ’n koppie ver van die harwar van die stad geskep het. Buite, in die reuse tuin wat Paul self aangeplant het, dwaal bokke en twee varkies genaamd Brad en Angelina tussen die blomme rond. Die varkies loer af en toe by die huis in, en Brad val steunend op sy sy neer toe Paul hom agter die ore kielie.

Die kolliehonde, Sally, Frank en Pieter, lê en slaap op die reuse stoep waar hul voetspore nou vir ewig in die sement bly sit nadat hulle met die bouery daarop getrap het, en ’n dragtige donkie bulk in die kampie oorkant die huis.

Lees meer oor Paul se mooi blyplek in Huisgenoot van 12 Maart.

Model tem Lions-flank Ernst


Toe haar vriendin haar een oggend vroeg in Phoenix, Amerika, wakker bel om te sê sy het die perfekte man vir haar in Johannesburg opgespoor, het Jenna Pietersen gesê sy’s gans te besig as internasionale model om nog êrens ’n kêrel in te pas.

Toe die vriendin boonop laat hoor meneer is ’n rugbyspeler, het die 22-jarige Jenna baie beslis nee dankie gesê, want sy wil tog nie met een van daardie vrouejagters uitgaan nie.

Maar tou opgooi was min en kort daarna het die Kaapse model – toe byna op pad terug huis toe – ’n SMS van dieselfde vriendin gekry: ‘‘Kom ontmoet hom net. Ek het in elk geval reeds jou vliegkaartjie van Kaapstad na Johannesburg bespreek.’’

Met haar aankoms in Johannesburg in Maart verlede jaar het Jenna en die vriendin, die rugbyspeler Joe van Niekerk se vriendin, Dominique Piek, eers na die manne se rugbywedstryd uit ’n losie gekyk. Uit die hoogtes van die paviljoen kon sy nie juis die spelers uitken nie. Maar toe sy die Lions-flank Ernst Joubert in sy heldergeel oefenklere agterna saam met die ander ouens by die stadion sien uitstap, het haar hart onverklaarbaar wild begin klop.

Sy het dadelik na haar vriendin gedraai en gesê sy hoop dit is die man aan wie sy haar wil voorstel. En dit was toe so.

’n Paar spelers en hul metgeselle is daardie aand na ’n nagklub, en toe Ernst en Jenna eers aan die praat is, was daar geen einde nie.

Vir Jenna was dit liefde met die eerste oogopslag. Ernst (29) onthou hy het lekker met die slanke meisie met die bruin oë gesels, maar hy wou haar eers heelwat beter leer ken, want dit is ‘‘tog so maklik om op ’n mooi model verlief te raak’’.

En nie lank daarna nie het die twee se paadjies weer gekruis – danksy ’n rugbybesering. Ernst het kort ná hul ontmoeting en nog vroeg in die Super14-reeks sy linkerskouerligamente in ’n wedstryd teen die Reds geskeur. Sy skouer is geopereer en hy het ’n maand lank by sy ouers se huis in die Strand gaan aansterk.

Lees meer oor hoe Ernst en Jenna in Huisgenoot van 12 Maart.

Matt Damon skiet fliek in SA


Talle mense draf in die skilderagtige strate langs die Atlantiese Oseaan in Kaapstad. Maar inwoners wat mooi na die twee drawwers op die sypaadjie gekyk het, sou dink hul oë bedrieg hulle: Die een was sowaar die rugbylegende Francois Pienaar en die ander niemand anders nie as die Amerikaanse Oscar-wenner Matt Damon.

Terselfdertyd het Clint Eastwood ’n paar kilometer daarvandaan in Milnerton bevele uitgedeel op ’n rolprentstel langs die strandmeer. En in ’n woonwa daar naby het Morgan Freeman ontspan terwyl hy op sy volgende toneel wag . . .

Dele van Kaapstad is in ’n Hollywood in die kleine om-skep vir die skiet van ’n multimiljoendollar-rolprent wat met ’n groot oomblik in Suid-Afrika se geskiedenis sal eindig.

Dit is op die joernalis John Carlin se boek Playing the Enemy: Nelson Mandela and the Game That Made a Nation gegrond, waarvan ’n uittreksel al in Huisgenoot (Simbool van versoening & vrede, 2 Oktober 2008) verskyn het. Dit beeld die aanloop tot Suid-Afrika se emosionele oorwinning in die Wêreldbeker-rugbytoernooi van 1995 uit. Clint behartig die regie, Morgan vertolk Madiba en Matt is Francois.

Sedert Matt (38) se aankoms het hy met breiershulp leer rug-by speel. Nie net moet hy die grondbeginsels ken nie, maar ook ’n wêreldklas-flank soos Francois (42) oortuigend speel.

Matt is daarvoor bekend dat hy hom met hart en siel in elke rol werp. Maar een ding sal hy nooit kan naboots nie: Francois se grootte. Hy is meer as twee meter lank en Matt is . . . wel, heelwat korter. En ja, hy stap op die sypaadjie langs die man wat hy gaan speel, en nie in die voortjie nie . . .

Lees meer oor die bekendes en die rolprent in Huisgenoot van 12 Maart.

Gifsjokolademan lê nie snags wakker


Die verstommendste van Chris Taylor is dat hy nie snags wakker lê nie. Of liewer, nie oor wat aan hom gedoen is nie.

Die man met die hande wat moeilik vat kry en die hinkepink-stappie word wel nog elke paar uur snags wakker weens die ongemak in sy bene nadat hy twintig jaar gelede met ’n reuse dosis arseen vergiftig is. Maar bitter of wraakgierig is Chris nie.

Die tragedie wat sy lewe onherroeplik verander het, het die land in 1988 aan die praat gehad, veral toe ’n liefdesintrige in die hof ter sprake kom.

Die afgelope tien jaar het Chris aan ’n boek oor sy lewe gewerk, en nou is dit uiteindelik klaar. Met die hulp van die skrywer Evelyn Mundell het Stand Up and Walk nou die lig gesien.

Dit was vir hom belangrik om sy ervarings “netjies in ’n pakkie’’ op rekord te plaas, sê Chris. ‘‘Ek voel tevrede daarmee.’’

Die slag wat die lewe hom toegedien het, het hom nog nooit gestuit nie. Chris het trouens in die afgelope jare ’n gewilde motiveringspreker geword.

En ná ’n pynlike egskeiding is hy weer verlief en verloof aan Christine du Toit, die vrou van sy drome.

CHRIS was ’n suksesvolle jong prokureur, sportief en lewenslustig, toe hy een van die hoofspelers in die ‘‘gifsjokoladesaak’’ geword het.

Op 10 Augustus 1988 het hy ’n koevert in die pos ontvang met sjokolade wat hy kwansuis vir marknavorsing moes proe. Hy het ’n hap gevat en vir sy swanger sekretaresse, Jeanette de Jonge, ook aangebied.

Minute later was hulle dodelik siek en dokters moes ’n week lank spook om hul lewe te red voor hulle besef het Chris en Jeanette is met arseen vergiftig. Jeanette het haar baba weens die gif verloor.

Lees meer oor Chris se pad na herstel en die verloop van die hofsaak in Huisgenoot van 12 Maart.

Terence Bridgett se eenmensstuk


Ons het geweet hy speel goed toneel, maar ons was aangenaam verras toe ons agterkom TERENCE BRIDGETT is ook ’n sanger van formaat.

Die Isidingo-akteur (Chico) was kaatjie van die baan by die opening van sy nuwe eenmensvertoning, All Soaped Up. Hy voer die skreeusnaakse outobiografiese kabaret elke tweede week by die restaurant Cité in Dunkeld, Johannesburg, op.

“Mense vra my nou al jare lank: ‘Hoekom doen jy nie ’n eenmensstuk nie?’ ” vertel die 33-jarige Terence. “Ek het die teks self geskryf – dit het 33 jaar lank geneem!”

Die restaurant het van die sterre gewemel, want al sy akteursvriende het hom kom ondersteun. Isidingo se Karin van der Laag (Maggie) was ook daar en het vertel sy is weer enkellopend, want sy het onlangs met haar kêrel, Quinton Pretorius, uitgemaak.

Isidingo se Kim Cloete (Bianca) en Kevin Smith (Frank) was daar, asook Binnelanders se Phillip Henn (Chris) en Paul du Toit (Malan). Fiona Ramsay en Villa Rosa se Chantelle Stander (Isabel) het ook ’n draai daar gemaak.

Lees ook meer in Huisgenoot van 12 Maart se Local is Lekker hoe Ryk Neethling en ander bekendes die aarde help red, hoe Juanita du Plessis huis toe verlang het en die pret wat van Villa Rosa se akteurs op ’n skip gehad het.