Friday, 27 November 2009

Lianie May op die langpad


Beertjie bring elke aand vir haar ’n bierbeker vol Oros in die bed. En hoewel Lianie May nie altyd weet in watter veraf dorp sy môreaand optree en oornag nie, kan sy staatmaak op haar Oros. Want Beertjie, oftewel haar verloofde, Barry Lubbe, wéét sy liefie kan nie slaap as sy nie eers haar glas afgesluk het nie.

Dis immers die enigste stukkie roetine in die sanger se lewe, die enigste patroon waaraan sy kan vasklou in haar lewe op die langpad.

Dit en die ‘‘storietjies’’, die televisiereekse soos Egoli, Getroud met Rugby en heruitsendings van Who’s the Boss, Golden Girls en Love and Marriage waaraan Lianie (33) verslaaf is en waarna sy ure lank kyk wanneer sy wil ontspan.

Want as jy jaarliks sowat 80 000 km van optrede tot optrede aflê en 70 uur per maand op die agterste sitplek in ’n kar deurbring, kan dit jou lewe nogal oorneem.

Daar is min tyd vir die doodgewone, alledaagse dinge wat ander mense doen en nog minder tyd vir die lekker dinge wat gewone sterflinge as vanselfsprekend aanvaar.

‘‘Wanneer ek die dag by ons huis in Pretoria is, pak ek my tas uit en sit die klere in die wasmasjien. Dis wat ek doen wanneer ek rus!’’ vertel die borrelende blonde sanger met ’n laggie.

‘‘Ek en Barry is huismense; ons gaan nooit uit nie. Ons hou nie van klubs nie; ons het ons jolle gejol toe ons jonger was en bly nou eerder by die huis. Barry braai ’n vleisie en ek maak sop. En dan kyk ons storietjies op die televisie. Jis, ek is lief vir my storietjies!’’

Lees onder meer oor Lianie se nuwe CD, Boeremeisie, in Huisgenoot van 3 Desember.

Aktrise Lindie Stander los kokaïen


Op die sitkamervloer lê sy in ’n bondeltjie ineengekrimp. Sy is veronderstel om haar woorde vir die volgende dag te leer, maar nou probeer Lindie Stander net die skoppe en vuishoue afweer wat op haar neerreën.

Vir kykers van Binnelanders is sy Elise Kruger, die sorgelose maltrapsuster vol grappies, maar in die werklike lewe wankel die 33-jarige aktrise op die rand van ’n afgrond.

Lindie is ’n jaar lank reeds ’n volslae kokaïenverslaafde. En op dié Sondagaand, nou net meer as ’n jaar gelede, word haar verslawing, die mishandeling deur haar lewensmaat en die spoke van haar verlede – haar pa se selfmoord, die molestering toe sy klein was, die gemoedsteurnis wat haar emosies jare al laat wipplank ry – net een te veel.

Met die skelwoorde van haar lewensmaat steeds in haar ore – “Jy’s vet! Jy’s lelik! Jy’s dom!” – staan sy op, en in haar benewelde toestand sluk sy elke pil wat sy in die huis kan vind.

Die volgende oggend skrik sy in die Helen Joseph-hospitaal wakker met pype in haar arms. En die dag daarna, twee weke voor sy as solo-speler in die verhoogstuk Groet die Grotvrou op die planke moet stap, verloor sy die rol.

In die bedryf het mense gesien hoe haar lewe ten gronde gaan. “Ek het op my ergste tussen ses en agt gram kokaïen per dag gebruik,” vertel sy vandag terwyl sy die eerste keer openlik praat oor die verslawing wat byna haar loopbaan en haar lewe vernietig het.

Maar dit was eers toe die bom ’n paar dae ná haar selfmoordpoging by Binnelanders bars, dat die werklikheid ingesink het. “Ek is ingeroep en hulle het gesê die bal is nou in my hande; hulle skryf my vir drie maande uit die storie uit. Gaan weg, ruk jou lewe reg en ons sal kyk of ons jou dan sal terugvat.”

Dit was toe dat Lindie eindelik besluit het: Die demone van haar verlede moet finaal hokgeslaan word . . .

Lees meer oor Elise se stryd teen die dwelmduiwel in Huisgenoot van 3 Desember.

Geen bryery vir Retief


Die ding wat vroeg in sy lewe met sy stem gebeur het, het hom laat besef: As jy rêrig wil, kan jy met die regte hulp berge versit.

Die gospelsanger Retief Burger was ses toe sy mangels uitgehaal is. Toe die blonde seuntjie daarna sy oë oopmaak, was sy stem weg. Dit was kompleet asof iemand die volume afgedraai het en hy kon net in ’n fluisterstem praat.

Skielik het sy gebry wat sy ouers tevore vergeefs met oefeninge probeer regdokter het, baie nietig gelyk . . .

Met die hulp van ’n spraakterapeut is die probleem uiteindelik opgelos en hy kon ná ses maande weer normaal praat.

En toe hy jare later as voornemende gospelsanger besef sy bryery gaan sy sangloopbaan pootjie, het hy weer ’n plan gemaak. En vandag spog dié gewilde sanger al met twee albums met goue status. Sy derde, Luidkeels Oorgegee, is nou op die winkelrakke.

Dit was die vrou van sy mede-gospelsanger Louis Brittz wat Retief destyds met sy bryery gehelp het. Hettie Brittz is ’n spraakterapeut en sy het sy tong losgemaak met tientalle tongoefeninge.

En hier waar ons vandag by die 30-jarige Retief se ouerhuis in Waterkloof, Pretoria, kuier, is daar geen teken van ’n bry nie.

Die lang, lenige man is deesdae ’n baie gewilde Afrikaanse gospelsanger en waar ’n mens ook al in Afrikaanse kerke kom, sing die gemeente sy liedjies geesdriftig.

Net ’n paar dae voor ons kuiertjie in sy ma, Ina, se lowergroen tuin, het byna 6 000 van sy aanhangers by die NG gemeente in Moreletapark saamgetrek om deel te wees van die opname van Retief se DVD van Luidkeels Oorgegee.

Maar dit was nie vir hom dat hulle daar was nie, skerm die nederige sanger vinnig. Nee, dis omdat hulle almal dieselfde doel voor oë het: om die Here te verheerlik deur musiek.

Lees meer oor Retief in Huisgenoot van 3 Desember.

Ou bekende in Villa Rosa


Vir Suzie Bruwer was die lewe ’n bittersoet drankie. En vandag, 20 jaar nadat kykers die rooikop se lief en leed in die beroemde TV-reeks Agter Elke Man gevolg het, kan die vrou agter Suzie self sê: Ja, die lewe is waarlik soms bittersoet . . .

As die meisie van die onderdorp wat haar hart op ’n rykmanskind verloor, swanger geraak en in ’n maalkolk van moord, hofsake en leuens betrokke geraak het, het Sulette Thompson kykers se harte aangegryp. En nou, twee dekades later, is die talentvolle aktrise eindelik weer terug op ons skerms, dié keer as die geheimsinnige Retha Swart in die kykNET-sepie Villa Rosa.

Die rooikop van die Suzie-dae is deesdae blond, maar Sulette (50) is nog net so fyngebou, haar blik nog net so intens as destyds.

Maar intussen het die lewe ’n paar pynlike draaie met haar geloop.

In 2004 moes sy eers haar ma, Margaret, en toe twee jaar later ook haar broer, Carlouw, aan ’n uitgerekte kankerdood afstaan. En verlede jaar is die siekte toe ook by haar man, Hennie Cronjé, gediagnoseer.

Sulette was gebroke en depressief, en sy het die swartste plek in haar lewe bereik toe hy ’n jaar gelede dood is.

“Ná sy dood het dit gevoel asof my brein gaan staan het en asof ’n mat onder my uitgepluk is,’’ vertel sy, en haar groen oë skiet vol trane. ‘‘Dit was baie moeilik om weer my kop bymekaar te kry. Ek is baie dankbaar vir die rol van Retha. Dit het my gehelp om alles te heg wat besig was om uitmekaar te val.’’

Lees meer oor Retha se soet ná die bitter in Huisgenoot van 3 Desember.

Heino, die man agter die paaltjies


Praat van bankvas agter jou kleinboet staan . . . Toe die paaltjiewagter Heino Kuhn op 15 November sy debuut vir die Proteas teen Engeland maak, was ouboet Werner ook daar – al moes hy sy wittebrood met ’n dag uitstel om vir Heino te kom skree.

Werner is die vorige dag in Muldersdrift buite Johannesburg met Tracy getroud, en Heino was net-net betyds ná ’n spanvergadering om sy broer se toespraak by die onthaal te hoor.

“Ek was ongelukkig te laat vir die seremonie, maar wat kon ek doen?’’ sê hy. “Ek kon nie my eerste spanvergadering misloop nie. Dit is mos darem nie aldag dat jy vir die Proteas gekies word nie . . .”

Die familie het ook so gevoel, en man en muis was op SuperSportpark in Centurion toe Heino op die veld loop. “Ek kon die baniere sien wat hulle gemaak en by die losie opgehang het van waar hulle gekyk het. Een was ‘Just Married’ en nog een ‘Couldn’t pick a better player’. Dit was vir my baie spesiaal. Dis baie lekker as jou familie trots is op jou.”

Sy ouers, Gunther en Petro, asook sy broer Louis en suster, Michelle, was saam met Werner-hulle daar toe Heino deur die lug seil en met ’n duikslag die bal vang om Jonathan Trott van die veld af te stuur. “Dit was ’n ongelooflike gevoel,” vertel die 25-jarige.

Die raakvat-vangskoot het net weer gewys hoekom kenners meen Heino is net die regte mens om die handskoene by die veteraanpaaltjiewagter Mark Boucher oor te neem.

Maar hieroor lag hy net skaam. “Dis my droom, maar my spel groei nog. Ek kan maar net hoop ek sal wel eendag ook in eendagwedstryde én toetsreekse vir die Proteas kan speel.”

Leer Heino beter ken in Huisgenoot van 3 Desember.

Thursday, 19 November 2009

Emo Adams wys sy meisie


Hulle noem mekaar Babba; soms sê sy vir hom Babes.

Sy krul van die lag vir sy lawwigheid en hy kan nie ophou soentjies op haar voorkop plant nie.

Ons kuier by ’n blinkoog- Emo Adams (31) en sy donkerkop-modelmeisie, Michelle Gildenhuys (22).

Vandag gesels dié baie privaat sanger, akteur en teaterman die heel eerste keer openhartig oor die vrou wat sy voete sommer behoorlik onder hom uitgeskop het.

Die twee is vol pret ten spyte van die donker wolk wat oor Emo se kop hang.

Sy gewese bestuurder, Mia Breet, het hom hof toe gesleep nadat hul sakeverhouding versuur het.

Sy eis dat die sanger belet word om vir eie gewin op te tree tot hy hom onttrek het aan die beslote korporasie D’Six Entertainment wat hulle drie jaar gelede saam gestig het.

Intussen het ’n liefdesbrief van haar aan hom in die hofstukke bekend geword, so ook bewerings van jaloesie en dreigemente.

Die saak sleep nou voort tot 12 Mei aanstaande jaar, wanneer dit weer in die hof voorkom. Maar die gees hier in die knus nessie in Kraaifontein buite Kaapstad waar die duifies al die afgelope jaar woon, bly onblusbaar hoog.

Dis ’n gesellige blyplek. Kiekies van die paartjie begroet jou al met die intrapslag. Teen die kombuismuur pronk ’n Huisgenoot-Tempo-voorblad van Emo en modelfoto’s van Michelle, ’n gewese Mej. Suid-Afrika-finalis, en op die kombuistoonbank staan die lekkerste eetgoedjies uitgestal.

En kyk jy vir Emo, vang jy hom telkens dat hy hom skoon vergaap aan die mooi vrou hier langs hom . . .

Lees meer oor Emo en Michelle se liefde in Huisgenoot van 26 November.

SA aktrise se droomrol in 1995-fliek


In haar dagboek van 14 jaar gelede, onder die datum 24 Junie 1995, staan daar in die klein, amper onleesbare kinderhandskrif: ‘‘Bokke wen Nieu-Zeeland 15-12!!!! Grootste dag ooit vir ons!’’

Die 13-jarige Marguerite Wheatley het vroeër dié dag op die mat voor die televisie in haar ouerhuis op Yzerfontein aan die Weskus gesit en haar oë styf toegeknyp toe die Springbok-losskakel Joel Stransky pale toe mik. As sy nie kyk nie, het sy geglo, sou die skepskop oor wees . . .

Eers toe haar ouers en die kuiermense in die vol voorkamer begin gil, het Marguerite haar oë oopgemaak en besef: Die Springbokke het die Wêreldbeker-rugbytoernooi sowaar gewen!

Kort daarna het oudpres. Nelson Mandela met ’n Springbok-rugbytrui op die veld gestap en die trofee aan ’n oorstelpte Francois Pienaar oorhandig – en nooit, ooit in haar wildste drome sou Marguerite kon dink sy gaan nog eendag, ver in die toekoms, die rol van dié Bok-kaptein se vrou in ’n fliek oor die einste triomfdag speel nie.

En as ’n toekomsvoorspeller die fanatiese jong rugby-ondersteuner toe moes meedeel sy gaan in die geselskap van beroemde Hollywood-akteurs soos Morgan Freeman en Matt Damon optree, met die legendariese Clint Eastwood as regisseur, sou sy gedink het dis sommer koorsdrome . . .

Want selfs noudat Invictus klaar geskiet is en binnekort wêreldwyd begin draai, kan Marguerite (28) steeds nie glo sy is deel van die verhaal oor hoe Madiba glo die Bokke destyds gevra het om die toernooi te wen sodat Suid-Afrikaners daardeur verenig kan word nie.

Lees oor Marguerite se tyd op die stel van Invictus in Huisgenoot van 26 November.

Mooiste All Blacks – uit SA!


Hulle is so Suid-Afrikaans soos braaivleis en biltong, al is sy al 13 jaar en hy sewe jaar gelede landuit. Maar Magdalena Schoeman (19) en Arnold du Toit (25) hou ons land se naam hoog oorsee – dié twee gebore Suid-Afrikaners is vanjaar as Mnr. en Mej. Nieu-Seeland gekroon.

Magdalena is in Bellville buite Kaapstad gebore. Van haar familie woon nog in Suid-Afrika en is geweldig trots op haar.

‘‘Ek kry baie ondersteuning van hulle. Omdat dit so ver en duur is, kan ek ongelukkig nie gereeld kom kuier nie, maar my titel as Mej. Nieu-Seeland het my gelukkig die kans gegee om in een jaar twee keer na Suid-Afrika te kom!’’

Sy was in Junie hier om Nieu-Seeland by die Fifa-Konfederasiebeker-sokkertoernooi te verteenwoordig en is binnekort weer hier vir die Mej. Wêreld-kompetisie op 12 Desember in Johannesburg. ‘‘Ek mis die warm klimaat en die passievolle, heerlike Afrika-ritme.’’

Die pragtige brunet het selfs twee Suid-Afrikaanse borge – die Kaapse ontwerper Lalesso het vir haar ses rokke geleen en Aninka Harms van Stellenbosch leen vir haar juwele.

Sy was ses jaar oud toe sy saam met haar ouers, Fanie en Riana Schoeman, na Nieu-Seeland is. Avontuurlus en ’n kans om nuwe geleenthede na te jaag het die Schoeman-gesin destyds laat trek, en 13 jaar later woon hulle steeds in Christchurch.

Arnold woon nou sewe jaar in Cambridge nadat sy gesin in 2002 besluit het om ’n bietjie hul vlerke te sprei. Hulle sou aanvanklik net in Nieu-Seeland bly vir sendingwerk, maar het uiteindelik daar nesgeskop.

‘‘Ek is in Nelspruit gebore in die mooi ou Oos-Transvaal,’’ vertel hy. ‘‘Al ons familie woon nog in Suid-Afrika, van die Kaap tot in die Noorde, en almal is werklik opgewonde oor my titel. Hulle ondersteun my ten volle.’’

Lees meer oor Magdalena en Arnold in Huisgenoot van 26 November.

Alviro wil sy pad oopspeel


Nog effe rooi van die stort draf Alviro Peterson by die trap van sy huis in Centurion af. Die son stroom deur die vensters in die woonkamer, maar hy stap deur tot in sy spesiale koninkryk. Die ekstra woonvertrek is eenvoudig ingerig met ’n rusbank, ’n TV en ’n stel tuinmeubels, die tafel gedek vir ’n formele dinee vir vier.

‘‘Ja, ek het dit gedoen. Ek dink dit gee die vertrek ’n bietjie kleur,’’ sê die volbloed-krieketspeler ongeërg.

Alviro, aanvangskolwer vir die Highveld Lions, het tevore al teen die liggewigspanne van Zimbabwe en Bangladesj gespeel, maar pas is hy opgeroep vir die grootste uitdaging nog sedert hy die Protea-hemp die eerste keer oor sy kop getrek het – hy is gekies om teen Engeland te kolf op hul toer deur Suid-Afrika.

En hy het reeds sy visier op ’n hoër teiken. ‘‘Dis maar net die eerste stap,’’ sê hy. “Om ’n permanente lid van die span te word is die volgende.’’

Samantha, sy bruinhaarvrou, sit ’n skinkbord met koeldrank neer en vlei haar langs hom op die rusbank neer. Sy geraamde Protea- en Lion-trui hang bo die bank. Die armband met hul name daarop gegraveer gly teen haar arm af. ‘‘Dis die eerste Kersgeskenk wat ek by Alviro gekry het,’’ vertel sy. “Ons het toe nog net ’n maand uitgegaan, maar ek het geweet dit was ernstig.’’

Hy druk sy hand in Samantha s’n en gesels weer krieket. ‘‘Daar is ’n paar uitstekende Suid-Afrikaanse krieketspelers, maar tegnies is ek beter as die meeste,’’ sê hy sonder omhaal. Dan praat hy verder in sy rustige stem: ‘‘Dis ’n groot eer om die een te wees wat ’n speler vervang wat so goed soos Herschelle Gibbs is. En ’n uitdaging!’’

Sy selfvertroue sal dié somer getoets word met die Proteas wat die Engelse nou plaaslik aanvat en Alviro wat die vyfde plek op die kolflys beklee.

Leer Alviro beter ken in Huisgenoot van 26 November.

Daar is nog ritme in Gert se lyf


Sy been klop liggies saam op die maat van die musiek. Die beweging is nie meer so rats ná die heupvervanging ’n paar jaar gelede nie, maar dat daar nog ritme in sy lyf is, dié is duidelik.

Oor die luidsprekers dreun die bekende klanke wat oor die jare in soveel voorkamers gehoor is. Dis alles nog daar: die kenmerkende rol van die “r”, die gewilde lirieke, die musiek wat al deel van die Afrikaanse klankskatkis geword het.
Dis dieselfde, maar tog ook anders.

‘‘Hoor hoe lekker is dié een,’’ sê Gert van Tonder. Met die druk van ’n knoppie spring hy na die volgende snit. ‘‘Dis Snotkop. Hy rap vir jou Die Padda dat jy dit nie kan gló nie.’’

En wraggies, daar is dit toe ook so. Die Padda teen ’n blitsige tempo: Toe padda die vuurvlieg se lampie wou leen, ah-ham-hey-hey!, het hy hierdie ontstellende nuus verneem, Eskom het gesê dis jóú probleem, ah-ham-ah-ham-ah-ham!

Met ’n sagte glimlag en ’n veraf kyk in sy groen oë sit Gert op die punt van die rusbank in die musiekkamer van sy huis in Midrand, Johannesburg, en herleef die musiek van Groep 2 – nuut verwerk, en nou ook met nuwe stemme in die plek van dié van wyle Sias Reynecke, sy ou sangmaat van weleer.

Dis meer as 40 jaar sedert hy en Sias die een Afrikaanse liedjie ná die ander uitgeryg en tot op die treffersparade gesing het. En nou het die 68-jarige sanger saam met van die topkunstenaars in die land dié treffers afgestof, verwerk en Groep 2 se musiek vir ’n nuwe geslag opgeneem en laat voortleef.

‘‘Dit was ’n verskriklike lekker projek,’’ vertel Gert. Kunstenaars soos Juanita du Plessis, Eden, Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan en Richard van der Westhuizen is onder dié wat saam met hom sing op die CD, Herleef Groep 2 met Gert van Tonder en Vriende.

Lees wat Gert oor die nuwe CD sê in Huisgenoot van 26 November.

Friday, 13 November 2009

Waarom Minki skei


Dit was ’n sprokiesverhaal wat net op een manier sou eindig – dat hulle vir ewig en altyd gelukkig saam sou lewe. Of so het almal destyds gedink . . .

Ja, op hul troudag twee jaar gelede daar tussen die wynplase op Stellenbosch het die beeldskone Minki van der Westhuizen die asem weggeslaan, nie net met daardie beroemde glimlag en haar rok van R50 000 nie, maar omdat sy so duidelik dolverlief was.

Die prins in die Fabiani-pak in dié verhaal, Constant Visser, het self oorgeloop van vreugde. Hoe anders dan, met die “volmaakte vrou’’ aan sy sy?

In die NG Moederkerk op Stellenbosch het die 25-jarige model en haar 39-jarige sakeman voor 220 gaste ’n gewyde nagmaal gebruik en toe die huweliksregister plegtig geteken.

Maar nou is alles tussen hulle verby en die gesin waarmee Constant voor sy 40ste verjaardag wou begin het, sal maar eers moet wag.

Daar is een groot rede vir dit alles, sê mense na aan Minki: Haar liefde vir die Protea-krieketkaptein, Graeme Smith, het nooit getaan nie.

Hul romanse het groot opslae gemaak in die lente van 2003 toe koerante berig het die 22-jarige krieketheld is verlief op die 19-jarige tienermodel wie se sexy plakkaatfoto op Amerikaanse tenks duisende soldate in Irak opgebeur het.

Die jaar daarna het die manstydskrif FHM Minki as Suid-Afrika se sexyste vrou aangewys. Sy was reeds ’n suksesvolle model, maar met Graeme nou ook op die toneel, het die hele Suid-Afrika skielik geweet wie Minki is.

Die glanspaartjie het almal aan die praat gehou – ook toe Graeme die verhouding meer as een keer wou beëindig. Toe sy by geleentheid inderhaas van Kaapstad na Johannesburg gevlieg het om hul verhouding te probeer red, was dit voorbladnuus.

Toe dit teen 2006 finaal verby was, het sy ’n paar maande met die sanger Pieter Smith uitgegaan, maar weke voor haar troue was dit steeds Graeme wat mense na aan haar bekommerd gehad het. Want hulle het geglo sy is nog lief vir die krieketkaptein . . .

Nou blyk dit die Vissers se huwelikslewe by hul huis in Paradyskloof op Stellenbosch was vanjaar nie heeltemal die paradys wat hulle nog dapper probeer voorhou het nie.

Lees meer oor die redes vir Minki se egskeiding in Huisgenoot van 19 November.

TV-dokter wat kan swem


Gee hom die water en hy is tuis soos ’n vis. Gee hom die lug en hy is tuis soos ’n voël. Hy het al die Suid-Afrikaanse swemspan op ’n internasionale byeenkoms aangevoer en hy kan die stuurstang van ’n ligte vliegtuig met gesag hanteer. En nou kan jy hom ook dokter noem – al is dit net op televisie.

In sy doktersjas en met ’n stetoskoop om die nek maak die Engelse dokter Nathan Richards die verpleegsters se knieë lam in die Binneland-kliniek. En Karl Thaning sukkel nie om sy lyf dokter te hou in die M-Net-sepie Binnelanders nie – hy kom immers uit ’n gesin vol mediese mense.

Pa Otto is ’n hartchirurg, ma Ann ’n fisioterapeut en sy suster, Kirsten, praktiseer as ’n dokter in Londen. Maar Karl (32) het altyd geweet hy sou nooit self in ’n teater staan nie.

‘‘Dit is nie omdat ek sku is vir bloed nie; ek het trouens in 2002 gesien hoe my pa ’n hartoorplanting doen. Dit was baie koel, maar vir my was die hoogtepunt die vlug in die privaat straler toe ons die hart na die hospitaal geneem het,’’ vertel hy.

Nadat hy James Bond as agtjarige tjokkertjie by die fliek ontdek het, was hy vas oortuig hy sou eendag ’n spioen word, en dis ’n droom wat nogal ’n hele paar jaar bly klou het.

‘‘Ek kan nie onthou hoe oud ek was toe ek ontdek het James Bond is net ’n karakter nie,’’ vertel hy nou. Die gewilde regsdrama LA Law was die ander TV-reeks wat hom vasgevang voor die kassie gehou het, en toe hy begin grootword en besef ’n mens moet ’n regte werk hê, het LA Law die antwoord gebied: Hy sou prokureur word!

Aan Bishops College in Kaapstad waar hy op skool was, was Karl lid van die dramaklub, en hy het ook self kort toneelstukke geskryf. Maar destyds het hy nog nie sy roeping besef nie en het hy regte aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer.

Leer Karl beter ken in Huisgenoot van 19 November.

Bok-kaptein oor prys van roem

In sy outobiografie wat pas verskyn het, vertel die Springbok-kaptein, John Smit, van sy groot liefde vir sy nommereen-ondersteuner, sy vrou, Roxy, wat hy al sedert hul laerskooldae ken. In hierdie uittreksel uit Captain in the Cauldron onthul John ook hoe “groupies” rugbysterre probeer verlei en hoe aanhangers glo die spelers behoort aan hulle.

Ek moes nog twee matriekvakke skryf toe ’n vriend my oortuig ons moet ’n bietjie ontspan en by die plaaslike Spur ’n paar biere gaan drink. Hy het ’n paar mense genooi en my st. 4-liefde was een van hulle.

Ek en Roxane Rech het daardie aand uitstekend klaargekom. Ek het haar huis toe geneem en was baie ongemaklik terwyl ek gewik en geweeg het of ek haar moet soen. Ek het daarteen besluit en haar vir koffie die volgende aand genooi, al het ek nie koffie gedrink nie. Dit was al waaraan ek kon dink.

Ná koffie die tweede aand het ek haar nommer by haar koshuis gekry en ’n paar dae later die moed bymekaargeskraap om te bel. Ons het lank gesels, mekaar in die volgende week bly bel en besluit ons gaan die einde van matriek saam vier. Roxy was in Potchefstroom Girls High en die Potch-kinders het gewoonlik deur Johannesburg gery. Daarom het ek voorgestel sy moet aanry tot in Pretoria.

Ek en Roxy het nie eintlik geweet wat ons doen nie, maar ons het net gekliek. Ons het besluit om saam te gaan vakansie hou, tot die ontsteltenis van een van my beste vriende. Ek en hy het ’n wilde vakansie by Plettenbergbaai beplan en nou wil ek ’n meisie saambring!

Roxy het nie veel van my geweet nie. Sy het nie eens geweet ek speel rugby Bok-kaptein oor prys van roem

In sy outobiografie wat pas verskyn het, vertel die Springbok-kaptein, John Smit, van sy groot liefde vir sy nommereen-ondersteuner, sy vrou, Roxy, wat hy al sedert hul laerskooldae ken. In hierdie uittreksel uit Captain in the Cauldron onthul John ook hoe “groupies” rugbysterre probeer verlei en hoe aanhangers glo die spelers behoort aan hulle.

Ek moes nog twee matriekvakke skryf toe ’n vriend my oortuig ons moet ’n bietjie ontspan en by die plaaslike Spur ’n paar biere gaan drink. Hy het ’n paar mense genooi en my st. 4-liefde was een van hulle.

Ek en Roxane Rech het daardie aand uitstekend klaargekom. Ek het haar huis toe geneem en was baie ongemaklik terwyl ek gewik en geweeg het of ek haar moet soen. Ek het daarteen besluit en haar vir koffie die volgende aand genooi, al het ek nie koffie gedrink nie. Dit was al waaraan ek kon dink.

Ná koffie die tweede aand het ek haar nommer by haar koshuis gekry en ’n paar dae later die moed bymekaargeskraap om te bel. Ons het lank gesels, mekaar in die volgende week bly bel en besluit ons gaan die einde van matriek saam vier. Roxy was in Potchefstroom Girls High en die Potch-kinders het gewoonlik deur Johannesburg gery. Daarom het ek voorgestel sy moet aanry tot in Pretoria.

Ek en Roxy het nie eintlik geweet wat ons doen nie, maar ons het net gekliek. Ons het besluit om saam te gaan vakansie hou, tot die ontsteltenis van een van my beste vriende. Ek en hy het ’n wilde vakansie by Plettenbergbaai beplan en nou wil ek ’n meisie saambring!

Roxy het nie veel van my geweet nie. Sy het nie eens geweet ek speel rugby nie. In daardie tyd het ek vir haar gesê ek gaan vir twee weke oorsee en sy het gesê: ‘‘Dis lekker.’’ Sy het seker gedink ek is ’n bedorwe brokkie, maar ek sou saam met Natal se o.21-span in Wallis gaan toer.

Lees die res van die uittreksel in Huisgenoot van 26 November.
nie. In daardie tyd het ek vir haar gesê ek gaan vir twee weke oorsee en sy het gesê: ‘‘Dis lekker.’’ Sy het seker gedink ek is ’n bedorwe brokkie, maar ek sou saam met Natal se o.21-span in Wallis gaan toer.

Lees die res van die uittreksel in Huisgenoot van 26 November.

Zola in Yankeeland


Min mense herken die vasberade vrou wat elke dag – en soms twee keer per dag – by hulle verbywoerts op haar 16 km-drafsessie op die platteland van Suid-Carolina. Sy dink nie haar bure het ’n benul wie sy is of presies hoe sy bekend geword het nie.

‘‘Ek gaan dit beslis nie opper nie!’’ sê Zola Budd-Pieterse, wat sedert verlede jaar in Amerika woon, oor die dag nou al 25 jaar gelede toe sy eensklaps die mees gehate tieneratleet in Amerika geword het.

Zola het in die apartheidsjare kaalvoet vir Brittanje gehardloop in die Olimpiese Spele van 1984 in Los Angeles, met die Amerikaanse goue meisie Mary Decker as haar vernaamste teenstander. Toe tref Mary se voet Zola se kuit in die laaste ronde van die 3 000 m en Mary val huilend na die kant van die baan.

Sy was uit die wedren en die skare van 85 000 Decker-aanhangers het luidkeels gejou. Zola het agterna selfs doodsdreigemente gekry.

Maar nou is sy terug en die Amerikaanse media is skoon verlief op haar. Eers het die New York Times ’n vleiende berig geplaas toe sy die New York-marathon pak, toe het die Los Angeles Times by haar gaan kuier, en toe stuur die TV-sportkanaal ESPN ’n filmspan uit vir ’n onderhoud.

Die tydskrif Runner’s World het in ’n artikel van 12 bladsye vertel hoe ’n middeljarige Zola haar veel jonger teenstanders in ’n landloop van 5 000 m in die Blue Ridge-berge onder die stof geloop het.

Hulle skryf ook: ‘‘Trouens, sy wil Amerikaanse agterente behoorlik kom skop. Nie dat sy dit ooit sal sê nie. Sy is dalk skaam en sensitief, en mense verstaan haar nie en sy het die gesig van ’n engel en so aan. Maar sy bly ’n kampioen.’’

Lees meer oor Zola se lewe in die VSA in Huisgenoot van 26 November.

Jay nou pa van twee


Net ’n jaar gelede was hy nog een van Eden se hubare jong manne wat met sy passies op die verhoog die meisies tot raserny gedryf het. En nou is Jay du Plessis nie net ’n getroude man nie, maar boonop pa van twee en doodgelukkig in dié rol.

Dít kan jy hoor wanneer hy van die koms van sy en Mia se klein Samuel vertel.

“Natuurlik is ’n mens maar lekker senuagtig voor die tyd,’’ sê die nuwe pa. ‘‘Maar as alles eers verby is, wanneer jy weet jou kind en vrou is gesond en daar is geen komplikasies nie, is dit ’n gevoel waarvoor ek nie woorde het nie. Verligting, dankbaarheid, trots, opgewondenheid – sommer alles deurmekaar!’’

Nie net is hy nou die trotse pa van ’n babaseun nie, maar Jay speel ook pa vir Aidan (3), Mia se eersteling uit ’n vorige verhouding.

Die kleinman kom klouter juis nou op Jay se skoot en gooi sy arms om sy nek. ‘‘Daddy, daddy! ’’ roep hy.

Hy is ewe opgewonde oor sy kleinboet se koms. Toe Jay hom die baba wys, het hy sy arms uitgesteek en heeltyd gesê: ‘‘My Samuel, my Samuel!”

Dit was geensins moeilik om binne ’n enkele jaar van die rol van vrygesel na dié van pa van twee te verwissel nie, vertel die 32-jarige sanger.

‘‘Ek hou van kinders. Daar is baie kinders in my familie en baie van my vriende het ook al kinders. Ek is mal oor hulle almal,’’ gesels hy langs die swembad by hul huis in Erasmuskloof, Pretoria.

Hy is die laaste lid van Eden wat die strop om die nek gekry het, en die dae is lank verby toe twee hotelkamers genoeg was vir die hele groep wanneer hulle gaan toer het.

‘‘Ons moet nou vyf kamers bespreek, want almal se gesinne gaan meestal saam. Dis een groot en lekker familie wanneer ons op pad is.

‘‘Ja, so verander die tye,’’ lag Jay en jy kan sien hy verlang glad nie na sy losloperdae van nie so lank gelede nie.

Lees meer oor Jay se besige jaar en sy planne vir aanstaande jaar in Huisgenoot van 19 November.

Friday, 06 November 2009

Die waarheid: Huilende Joost bieg


Dit is net ná agtuur op ’n Dinsdagoggend en hy sit in sy motor voor hul huis in Dainfern, Johannesburg. Joost van der Westhuizen het pas sy kinders by die skool afgelaai, en nou luister hy oor sy motorradio na wat vir sy vrou, Amor Vittone, ’n baie moeilike onderhoud moet wees.

Hy is te skaam om in die huis te gaan luister. Hy is bang hul huiswerkers sien hoe hy huil.

Amor probeer dapper klink, maar ’n mens kan hoor sy sluk haar trane. Joost het immers nou eindelik voor die hele wêreld gebieg hy het haar met ’n ontkleedanseres verkul, dwelms gebruik én toe vir haar en die wêreld daaroor gelieg.

Dan sê Amor in die onderhoud met 94.2 Jacaranda FM die woorde wat Joost die diepste tref: “Ek is lief vir hom. Jy sal nie in ’n huwelik wees as jy nie is nie. En mmm . . . watter soort keuses maak jy, hoe hanteer jy so iets en hoe beskerm jy jou kinders?”

“Ek het soos ’n kind gehuil,” vertel hy later die dag toe ons hom ontmoet vir ’n onderhoud. Sy oë is vol trane. “Dan vra jy: Hoe kon jy? Daardie drie woorde. Dat ek wragtig vergeet het wie ek was, waar ek vandaan kom! Die klein seuntjie van die Moot.”

Die boorling van dié tipiese middelklasgebied in Pretoria vertel toe die radio-onderhoud met Amor klaarmaak, kon hy hoor sy is weer in trane. Sy foon het gelui – dit was Amor wat wou weet of dit oukei was. Maar hy het so gehuil dat hy nie ’n woord kon uitkry nie.

Twyfel Amor dan steeds? Want dié oggend het sy in die onderhoud gesê: “Ek wil net die eerlike waarheid weet. Ek moet besonderhede hê. Ek moet verduidelikings kry . . .’’

’n Paar uur later laat gly Joost sy nuwe biografie driftig oor die blink hout van sy prokureur se konferensietafel in Hatfield, Pretoria. “Dit wat in hierdie boek staan,” sê hy, “is die waarheid.”

Lees wat Joost sê oor onder meer sy baie verbintenisse met vroue, die dwelms en sy drankmisbruik in Huisgenoot van 12 November.

Eksklusief: Ons het vir Amor gelieg


Die enigste ding waaroor Charmaine Gale Weavers skuldiger voel as haar buite-egtelike verhouding met Joost van der Westhuizen, is dat sy geswig het toe hy haar onlangs glo gemanipuleer het om vir sy vrou daaroor te jok.

Want selfs al worstel Charmaine (45) al maande met die vraag hoekom haar gewese minnaar nie oop kaarte speel met sy sanger-vrou, Amor Vittone, nie, het sy sélf gejok nadat ’n desperate Joost haar geva het om hom te help om sy huwelik te red.

Niemand hoef vir Charmaine te sê sy het ’n oordeelsfout begaan toe sy Amor so drie maande gelede laat verstaan het sy was nié die vrou wat anoniem aan Huisgenoot beken het sy het in 2004 en 2007 by Joost geslaap nie – sy wéét dit. (Dit was die artikel Minnares praat: Joost hét Amor verkul, 19 Maart). Sy sal haarself altyd daaroor verwyt.

‘‘Dis soos iets uit ’n rillerverhaal,’’ sê die aantreklike vrou met die donkerbruin oë en skud haar kop. ‘‘Ek wou dinge net probeer beter maak. Joost was ’n vriend wat in die moeilikheid was en ek wou net help.

“Maar ek besef nou hoe manipulerend Joost was. Hy het my en Amor albei ’n rat voor die oë gedraai. Hy het my sy vuil werk laat doen; ek moes om sy onthalwe lieg. En ek het saamgespeel omdat ek gevoel het ek is dit aan hom verskuldig . . .’’

Haar stem raak weg. Die selfversekerde vrou het die afgelope paar maande deur ’n hel van selfvertwyfeling en skuldgevoelens gegaan. Want nadat sy anoniem oor haar verhouding met Joost gebieg het, het talle kennisse gevra: ‘‘Hoe kón jy dit aan hom doen?’’

En dis hoekom sy ingestem het om hom uit die knyp te help toe hy haar in Augustus ná ’n stilswye van meer as twee jaar bel en vra: ‘‘Praat asseblief met Amor . . .’’

Lees hoe Charmaine Joost gehelp het om Amor ’n rat voor die oë te draai in Huisgenoot van 12 November.

Skok: Bles Agassi was op tik!


Met sy wilde hare, uitspattige klere en ondeunde seuntjieglimlag was hy die liefling van die tenniswêreld – die oulike outjie wat selfs Barbra Streisand se hart verower het.

Hy was supertalentvol, aantreklik, elke ma se droom vir haar dogter. Maar nou het Andre Agassi sy eie beeld aan skerwe laat spat met die skok-onthulling dat hy dwelms gebruik het terwyl hy gespeel het.

En net om verdere sout in die wonde te vryf, bieg hy dat hy tennis haat met ’n “diep en geheime passie”. En dat daardie wonderlike, woeste hare eintlik ’n pruik was . . .

Dit is geen wonder die 39-jarige tennisliefling wat op sy dag agt Grand Slam-titels gewen het, het die tenniswêreld nou behoorlik op hol nie.

Andre het onlangs erken hy het in 1997 metamfetamien, plaaslik bekend as tik, begin gebruik toe sy tennis agteruit begin gaan het. En toe hy met ’n opkikkertoets uitgevang word, het hy vir die ATP, die gesagsliggaam vir manstennis, gelieg om skorsing vry te spring, onthul hy in sy outobiografie, Open: An Autobiography.

Die hare-onthulling is nog ’n skok . . .

“Elke oggend sou ek opstaan en nog ’n stuk van my identiteit op die kussing, in die wasbak, in die prop se gat kry,” skryf hy. “Ek het myself gevra: Wil jy ’n pruik dra? Op die baan?”

Die antwoord was toe ja, want hy was te skaam om op 20 met ’n bles voor miljoene pare oë te verskyn.

Die aand voor die Franse Ope in 1990 het hy onder die stort gestaan toe sy pruik uitmekaar begin val.

Hy het dadelik sy broer, Phillip, laat kom en saam het hulle dit met haarknippies aanmekaargeflans.

Die volgende dag het hy sy eerste Grand Slam-titel verloor omdat hy heeltyd moes keer dat sy haarstuk afval, vertel Andre. Sy eksvrou, die aktrise Brooke Shields, het hom later oorreed om sy hare af te skeer.

Maar dis vanselfsprekend die dwelmonthulling wat die tenniswêreld nou werklik ruk . . .

Lees meer oor Andre se onthullings en wat die wêreld daaroor sê in Huisgenoot van 12 November.

Juan: Nuwe Bok-blits uit die WP


Hy het “hart” – dit sê al die Bolanders oor Juan de Jongh, almal van sy eie mense tot sy afrigters en die onnies by sy ou skool.

En ons nuwe sentertalent moes bepaald moed hê om hom ten spyte van terugslae met skitterende Curriebekerrugby in die Boktoergroep in te speel.

Die 21-jarige WP-ster glimlag breed hier by sy Wellingtonse ouerhuis kort voor sy buiging in die toer se openingswedstryd teen Leicester, die Engelse Premierligakampioen. Vorentoe wag Frankryk, Saracens, Italië, Ierland en wie weet watter kanse nog dalk vir die jong Juan.

“Ek’t so half in die lug opgespring toe my naam vir die toer uitgelees word,” grinnik hy.

“En dit was net op TV, toe lui die foon non-stop.”

Hulle is die laaste ruk kort-kort deur mense voorgekeer wat reken hy verdien ’n plek in die Bokgroep, sê sy meisie, Magon Matthyse. Hy het verlede jaar in Stellenbosch met dié 22-jarige finalejaarstudent in internasionale studie begin uitgaan.

Hulle het dit half verwag, maar dit was nietemin ietwat van “ ’n skok”, glimlag ma Margi, ’n rots in dié hegte, gelowige gesin wat Juan deur donker beseringstye ondersteun het. Pa Johann vat almal se gevoelens saam: “Trots. Baie trots . . . diep uit die hart.”

Dis ’n geweldige eer, meen Juan. “My eerste doelwit is om in die weekspan te wees, my bes te doen en my byvoorbeeld in die span teen Italië te probeer inspeel.”

Ontleders reken hy was vanjaar ’n “openbaring” op buite- sowel as binnesenter. Maar net verlede jaar nog het Juan met ’n heupbesering aan ’n bed vasgegord gelê. En hy was ná baie maande skaars terug op die veld toe die teëspoed hom weer tref. Des te merkwaardiger dus is sy blitsopgang in Curriebekerkringe.

Leer Juan beter ken in Huisgenoot van 12 November.

Heinrich speel dalk vir die Haaie


Met soveel spelers wat tussen die Curriebeker- en Super14-seisoen van span verander, doen gerugte nou die ronde dat die Cheetah-voorspeler Heinrich Brüssow Bloemfontein vir Durban wil verruil. Die SA Jong Speler en Provinsiale Speler van die Jaar het ook nie juis die gerugte nek omgedraai by die jaarlikse SA Rugby-toekenningsaand wat onlangs by Vodaworld in Midrand gehou is nie. “Ek kan miskien na Durban verhuis, maar dit sal nie voor volgende seisoen wees nie,” het hy gesê. Natalie du Toit het ’n hele paar handtekeninge sommer op ’n servet versamel. Met dié in die hand het die inspirerende swemmer geglimlag en gesê: “Ek weet nie hoekom ek genooi is nie, maar ek moes net ja sê. Die servet is my spesiale herinnering aan vanaand. Ek gaan dit laat raam!”

Sien foto’s van die bekendes by die toekenningsaand in Huisgenoot van 12 November. Lees ook die jongste oor onder andere Jo-Ann Strauss, Derek van Dam en Kurt Darren.