
Dit was amper te wonderlik om waar te wees. Maar toe agt positiewe swangerskaptoetse die een ná die ander daar in die badkamer op die stel van Egoli die laaste bietjie twyfel laat verdamp, het sy gedink die beste dae van haar lewe het eindelik aangebreek.
Michelle Pienaar, Egoli se Audrey, was oorstelp van vreugde en die span was saam met haar bly. Of so het sy gedink . . .
Maar twee weke nadat Michelle (29) op 1 November uitgevind het sy’s swanger, is sy afgedank – en sy moes teen die einde van die maand weg wees. Die vervaardigers wou skielik nie meer hê haar karakter moet swanger wees nie.
“Ek het na my aantrekkamer gegaan en in trane uitgebars,” vertel sy. “Ek kon nie ophou huil nie. Ek het vier of vyf maande tevore by die hoofskrywer toestemming gekry om swanger te raak sodat hulle dit betyds by die storie kon inskryf, en die mede-vervaardiger het my nog gelukgewens toe ek vir hom sê ek is swanger!
“Ek het sewe jaar by Egoli gewerk en altyd my kant gebring, en toe een, twee, drie is alles verby. Hierdie was veronderstel om die gelukkigste tyd van my lewe te wees, maar nou is ek my werk en my inkomste kwyt.”
En hoewel Michelle sedert 2001 elke oggend 7:30 op Egoli se stel was en elke tweede Saterdag gewerk het, het Franz Marx, die vervaardiger, haar nie eens op haar laaste dag gegroet nie.
“Ek het my lewe vir Egoli gegee, maar hy’t nie eens vir my dankie gesê of dat hy jammer is dat hy my laat gaan nie.”
“Ek het ná my laaste toneel die ander akteurs gegroet en al my goedjies in my aantrekkamer gaan oppak. Dit was so hartseer om al my foto’s van die muur af te haal. Toe ek wegry, kon ek die trane nie keer nie.”
Michelle is bitter hartseer omdat haar tyd by Egoli op dié manier afgesluit is, maar sy’s ook woedend vir Franz.
Lees meer oor die afdankingsdrama en Michelle se swangerskap in Huisgenoot van 16 April.