
Troupraatjies in die feestent
Die sterre raak net so oorweldig deur troukoors soos gewone sterflinge. Lianie May wil ’n troukoördineerder aanstel om al die reëlings te tref vir haar en haar verloofde, Barry Lubbe, se groot dag in Oktober in Pretoria. ‘‘Ek het nie tyd om alles self te reël nie; ek gaan my rok sommer in die verbygaan moet aanpas,’’ het sy by die Huisgenoot-Musiekplaas by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn gespot.
Izak Davel en sy verloofde, Mericke de Wilde, is ewe blinkoog oor hul troue in Maart of April aanstaande jaar. ‘‘Ons het al na trouplekke begin kyk, maar geen plek het ons al aan die hart gegryp nie,’’ sê Mericke.
Ná ’n dekade weer saam
Die musiekgroep Georgia het die gehoor by die Huisgenoot-Musiekplaas by die KKNK in trane gehad toe hulle vir die eerste keer in ’n dekade weer saam opgetree het. Ghapi en sy broer Andries Botha het vir die eerste keer in presies tien jaar saam met kleinboet Conrad opgetree nadat dié op 9 April 1999 so erg in ’n motorfietsongeluk beseer is dat dit die einde van Georgia se optredes was. Maar vanjaar het Conrad sy baskitaar weer behoorlik gelooi
Emo Adams het sy 32ste verjaardag sommer by die Baie Broers-konsert gevier en sy broer, Luqmaan, genooi om saam met hom op te tree.
In die oog van die storm
Robbie Klay wag steeds om te hoor of die staat die sanger Jurie Els gaan vervolg nadat Robbie hom verlede jaar van onsedelike aanranding aangekla het. ‘‘Maar dit gaan goed met my; ek gaan aan met my lewe,’’ het hy gesê. Hy gaan ’n Engelse liedjie opneem wat volgende jaar as juiglied by die Wêreldbeker-rugbytoernooi gespeel sal word. Die liedjie gaan glo in die styl van Shosholoza wees.
Die tonge was los toe Joost van der Westhuizen se eksvrou, Marlene, ook by die Musiekplaas opgemerk is waar sy saam met die sanger GuillaumeUILLAUME gekuier het. Maar die twee is glo net vriende.
Lees Huisgenoot van 23 April vir bladsye propvol foto’s en nog nuus oor die Huisgenoot-Musiekplaas.