
Hier in die Idols-huis in Randburg lyk Lendel Moonsamy so koel soos ’n komkommer. Hy lag innemend en gesels met selfvertroue – op die oog af ongesteur deur die spreekwoordelike aasvoëls wat bo sy kop draai.
‘‘As jy aan Idols deelneem, moet jy maar ’n dik vel hê,’’ sê die 23-jarige deelnemer van Midrand gelate, en leun selfversekerd terug in sy stoel.
Want Lendel is die buiteperd wat teen alle verwagtinge in week ná week die valbyl ontglip het.
Beoordelaars, radiostasies en internet-blogs was dit eens: Hy hoort nie meer in die kompetisie nie. Boonop was daar die rassekwessie – dat sy sukses net te danke is aan sy reuse ondersteuning onder Indiërkykers . . .
‘‘Dit het my seergemaak, maar ook van my ’n sterker mens gemaak,’’ sê hy. “Kyk, ek weet ek het duisende ondersteuners. Wanneer ek met sulke negatiewe kommentaar gekonfronteer word, dink ek net aan hulle om my bes te lewer.
“Al daardie nare dinge op die blogs, en wanneer dit voel of ’n beoordelaar jou verneder, help karakter bou. Dit wat ek nou leer, sal ek eendag positief in my lewe kan aanwend.’’
Hy glo in homself en sy talent, maar erken hy was verras oor sy sukses tot dusver. ‘‘Daar is soveel dinge wat deur ’n mens se kop gaan wanneer jy nog ’n week oorleef – ongeloof, skok, geluk, dankbaarheid. Alles deurmekaar!’’
Dalk is hy volgende week weer op ons skerms, dalk nie. Maar glo dit: Die musiekbedryf het nog nie die laaste van Lendel Moonsamy gesien nie.
EN OM te dink dit het alles maar eintlik nou die dag begin . . .
Dit was eers in sy matriekjaar in 2002 aan die Sekondêre skool Tongaat dat hy homself leer speel het op ’n ou kitaar wat in hul huis rondgelê het. Die gogga het gebyt en Lendel die musikant is gebore.
Lees meer oor Lendel en die Idols-kompetisie in Huisgenoot van 23 April.