
Hulle is soos David en Victoria Beckham, Tom Cruise en Katie Holmes, en Brangelina. Soveel meer as net ’n glanspaartjie – hulle is ’n handelsmerk.
Is . . . of was? Want ná al die onthullings rondom die voormalige Springbok-kaptein Joost van der Westhuizen en die nou reeds berugte seksvideo, wonder mense of dié handelsmerk se dae nie getel is nie.
Dit gis juis in Pretoriase sakekringe oor Joost en sy sangervrou, Amor Vittone, se geldsake noudat Joost se kontrak as aanbieder by SuperSport voorlopig op ys geplaas is. Van hul rekeninge is agterstallig, word selfs gefluister.
‘‘Daar is baie druk op Joost, en hy het tyd nodig om sy lewe uit te sorteer,’’ sê Clinton van der Berg, SuperSport se woordvoerder. ’n Paar kykers het gekla, maar dit het nie tot SuperSport se besluit bygedra nie, voeg hy by. Joost kry wel nog sy gewone vergoeding.
Intussen blyk dit Amor was so ontsteld nadat sy van die video uitgevind het, dat sy vier dae lank nie in die ateljee kon wees om haar nuwe CD op te neem nie.
‘‘Omdat die ateljees lank vooruit bespreek word, kon ons nie dadelik ’n nuwe datum vir die opname kry nie. Die opname van die CD is daarom met ’n maand uitgestel. Amor gaan dit in Mei opneem, en die CD sal in Junie beskikbaar wees,’’ sê Kosie van Niekerk van Select Musiek, haar platemaatskappy.
Sy het haar ook aan verskeie optredes by die KKNK onttrek, onder meer optredes by Huisgenoot se Musiekplaas, maar sou steeds die aand van 4 April op die Huisgenoot-verhoog verskyn.
Maar al dié ontstuimigheid beteken glo nie die paartjie se tyd is verby nie.
Lees wat ’n bemarkingspesialis oor die Joost-Amor-handelsmerk sê, sowel as oor die gevare van die dwelmmiddel CAT, in Huisgenoot van 9 April.