Friday, 03 April 2009

Idol Thembi se stem amper stil


Op 10 jaar was sy glo nie goed genoeg vir die laerskoolkoor nie. Hoe bloos daardie juffrou seker nou . . .

Want op negentien is Thembi Nkosi nou een van die top-aanspraakmakers op vanjaar se Idols-kroon.

Die gehore is gek oor haar, die beoordelaars het net lof vir haar – en om te dink ná daardie laerskool-vernedering wou sy nooit weer sing nie!

Sy gee haar kenmerkende skaam laggie. ‘‘Toe ek by die koor opdaag en die oudisie doen, sê hulle ek kan nie sing nie.

“Dit het seergemaak. Jy weet, dit voel mos asof iemand jou slegmaak as hulle dit van jou sê. Toe het ek alle belangstelling in sang verloor.

“Dit was eers toe ek in gr. 10 na die National School of the Arts in Johannesburg is, dat ek weer die lekker van sang ontdek het!’’

Maar dit was so ampertjies of die episode destyds met die skoolkoor het hom hier in die vyfde seisoen van M-Net se immergewilde werklikheidsreeks herhaal. Dave Thompson het vertel hy en die ander beoordelaars het vroeër in die kompetisie lank daaroor getob of Thembi wel in die topspan hoort.

‘‘Maar nou is ons halfpad deur die reeks en jy is ’n aanspraakmaker op die titel, ’’ het hy laat hoor.

En met sulke soet woorde in haar ore kan ’n meisie sommer maklik haar laerskooljuffrou vergewe . . .

Lees meer oor Thembi en haar toekomsdrome in Huisgenoot van 9 April.