Friday, 20 March 2009

Elma Postma, kupido van die kassie


Al was die muskiete heeltyd agter net háár bloed aan en moes sy boonop ’n verstommende 6 500 km in net twee weke deur die land woerts, kla sy nie.

Ten minste sit sy nie in die spitsverkeer nie, sê Elma Postma. En sy sien liéflike boere . . .

Dié borrelende blondekop-aktrise is weer die aanbieder van die tweede seisoen van kykNET se supergewilde werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou, en sy is sielsgelukkig om ons land se aantreklike alleenloperboere daar doer op die vlakte te help om ’n maatjie te kry.

Verlede jaar het sy saam gelag en duim vasgehou en saam swaargekry elke keer as die boere en hul meisies met die emosies gesukkel het. En nou is dit weer sullke tyd.

Dit is ’n kraakvars meisie wat uit daardie bekende stowwerige liggeel bakkie met die groot Boer Soek ’n Vrou-embleem klim vir ons ontmoeting by die Durbanville Hills-wynlandgoed buite Kaapstad.

Die kykers was gek oor die vorige reeks, en die hele land het daaroor gepraat. En die inskrywings weerspieël dit, sê Elma (30). Vir die tweede reeks was daar briewe van honderde hoopvolle boere – bykans die helfte meer as verlede keer – en dit het kykNET kwaai kopkrap gekos om die tien deelnemers te kies.

Elma het pas twee weke lank saam met die tien boere op hul onderskeie plase uitgespan. ‘‘Een ding, nuus op die platteland versprei soos ’n veldbrand. Dit was amper soos ’n riemtelegram. Ons kom nog aan na die dorp toe, dan weet die plaasmense al voor ons daar aanland.’’

Met die ge-op en ge-af deur die land het sy g’n pyne nie.

‘‘Jy sien die mooiste plekke – Ficksburg in die Vrystaat het my asem weggeslaan, en die Karoo is absoluut pragtig. My pa was ’n kind op De Aar en ek het gaan loer na die huis waarin hy grootgeword het.’’

Benewens een pap band het die span darem nog geen teenspoed op die langpad gekry nie. ‘‘Vir my is die hele program ’n hoogtepunt,’’ sê Elma. ‘‘Ek glo in die liefde, dis die beste ding wat met enigiemand kan gebeur.’’

Lees meer oor hoe Elma haarself midde-in die lief en leed van Boer Soek ’n Vrou leer ken in Huisgenoot van 26 Maart.