Friday, 27 March 2009

Cindy Nell se troue


Hulle hou van tradisie en van die nuwe – hulle is immers Christelik én spiritueel – maar sommige gebruike is sommer laf. En watse onsin is dit dat jy teëspoed oor jouself kan bring?

So het Cindy Nell (27) en haar aanstaande, Clive Roberts (37), vroeg vanoggend al die gewone gebruik oorboord gegooi en intiem saam ontbyt geëet hier in die weelderige Lythwood Lodge in die Natalse Middelland waar hulle vandag trou. Toe het hulle in die woud gaan stap.

En nou voer hulle dit nog ’n stappie verder: Die gelukkige paartjie sien mekaar drie uur voor die plegtigheid vir die eerste keer in hul kraakvars, spierwit trou-uitrustings.

‘‘Wat dink jy van my rok, liefie?’’ vra die 27-jarige Pasella-aanbieder en gewese Mej. Suid-Afrika vir Clive.

Haar sakeman-bruidegom is feitlik sprakeloos. Hulle soen mekaar en vryf hul neuse teen mekaar. ‘‘Ek het jou lief,’’ sê hy dan. ‘‘Ek het jou ook lief,’’ antwoord sy sag. Haar wimpers fladder en ’n skamerige glimlaggie sprei oor daardie lieflike gesig.

Die trourok, ’n oopskouer- tweestuk, het ’n ooprug-korset in die Victoriaanse styl en ’n feetjie-romp met ’n sleep wat 3 meter lank is.

‘‘Dis nie jou tipiese rok nie,’’ sê Cindy toe ons haar en Clive eenkant toe neem vir ’n vinnige geselsie.

‘‘Ek het die keuse gehad om ’n rok van Roberto Cavalli (’n Italiaanse ontwerper) oor wie ek gek is, te dra, maar dit was vir my belangrik om trots Suid-Afrikaans te kies.’’

Cindy gaan trouens vandag drie rokke dra – eers die tradisionele wit rok, dan ’n koffiekleurige Gatsby-rok met meer as 800 000 krale vir die onthaal, en laastens die trourok se korset by ’n kort mini vir die dans.

Dennis Lloyd, ’n vriend wat vandag die plegtigheid lei, is ’n ontwerper van Pretoria en het al drie die rokke ontwerp.

“Sy het presies geweet wat sy wil hê,’’ vertel Clive. Die resultaat is ’n asemrowende trourok van chiffon en kant met honderde varswater-pêrels en Swarovski-kristalle daarop, met ’n prys-etiket van R100 000. Die ouwêreldse glans word met balletskoene, kort, wit handskoene en ’n orgidee in haar hare afgerond.

Lees meer oor Cindy se groot dag en kyk na die pragtige foto’s in Huisgenoot van 2 April.