
Daar is geen teken van senuwees wat knaag toe die bruidegom en sy ma vroegoggend ’n entjie deur die tuin stap nie.
Ma en seun dwaal hand aan hand tussen die populierbome deur met blare blink in die wintersonnetjie en gesels rustig oor ditjies en datjies terwyl ’n pronkerige pou op die agtergrond na sy maat roep.
Was dit nie vir Izak Davel (26) se snyerspak en die beeldskone ruikers pienk rose en pers pronkertjies, lelies en krismisrose in die tuin by die Memoire Wedding and Function Venue in Muldersdrift nie, sou jy kwalik glo dis dié hartebrekersanger en voormalige Egoli-akteur se troudag. Hy is so rustig soos ’n man wat eintlik lankal in sy hart en kop getroud is.
Maar toe die fyn donkerkop Mericke de Wilde (28) ’n paar uur later in haar asemrowende Bondesio Couture-trourok met sy uitklokromp van 360 m gevoude stof in die kerk se deur verskyn, skiet Izak se oë vol trane.
Hy’s skielik oorweldig deur die grootsheid van die oomblik. ‘‘Ek kon nie anders as om te tjank nie; sy is die mooiste vrou in die land,’’ sê die bruidegom later en lag ’n bietjie vir homself.
Hy erken hy’s self verbaas oor hoe prentjiemooi en perfek alles uitgewerk het – hy en Mericke het immers op die ingewing van die oomblik besluit om hul troudag met ’n jaar te vervroeg, en hulle het die ganse makietie binne net vyf weke gereël. Nie omdat hulle moes nie, maar omdat hulle wóú.
Want hulle het op die harde manier geleer die lewe is kort en broos en belangrike dinge durf nie wag nie.
Kort nadat Mericke en Izak mekaar in Desember 2006 ontmoet het, is kanker by haar gediagnoseer en die aantreklike sanger het haar vanuit die staanspoor bygestaan in haar stryd om oorlewing.
Maar vandag tob hulle nie oor die verlede nie.
‘‘Ons pak nou die lewe van voor af saam!’’ sê Izak terwyl hy na sy beeldskone bruid kyk.
Lees meer oor die troue in Huisgenoot van 6 Augustus.





