
Sy was altyd een van die mooiste vroue in die Laan, maar toe die gewilde Bertha le Roux in die werklike lewe ma word, het sy hope gewig aangesit en gesukkel om dit af te skud.
Maar toe Emma vroeër vanjaar – nog lekker oorgewig – amper met Jan-Hendrik getrou het, het Bertha besluit: So wil ek nie in ’n trourok gesien word nie!
Dit was die begin van ’n gedaantewisseling wat die afgelope tyd 7de Laan-kykers se oë laat rek. Binne drie maande het Bertha ’n verstommende 20 kg afgeskud. Haar rokgrootte het sowaar met vier groottes gekrimp.
En kyk net hoe lyk Emma nou: skraler, verleideliker en mooier as ooit. En Bertha sê sy voel soos ’n nuwe mens. Die beste van alles is dat sy kon verslank sonder om ’n ongesonde hongerly-dieet te volg.
Sy word in internet-kletskamers met komplimente oorval. En nou gaan die rietskraal Emma kykers nog meer verras: met ’n nuwe, flambojante klerereeks en ’n bypassende persoonlikheid.
Haar nuwe klerekas is deur die nuutste Franse modes geïnspireer. Dit het alles begin nadat die 7de Laan-vervaardiger, Danie Odendaal, aan die begin van die jaar met ’n paar modetydskrifte uit Frankryk teruggekeer het.
Die uitspattige en helderkleurige style het sy oog getref, en hy het dadelik besluit dit sal perfek aan Emma se nuwe, slank lyf pas.
Die 7de Laan-garderobe-span het aan die werk gespring en in die storie is dit Felicity wat die ontwerpe moes doen – met flambojante gevolge!
Natuurlik laat die nuwe, sexy Emma die koppe draai in die Laan. Ná haar groot liefdesteleurstelling met Jan-Hendrik is daar binnekort weer ’n nuwe liefde in haar lewe, laat Bertha die aap uit die mou.
‘‘Die kykers gaan baie verras wees oor dié ontwikkelinge. Die 7de Laan-skrywers het ’n paar baie lekker stories vir die res van die jaar vir Emma.’’
Lees meer oor Bertha se diet in Huisgenoot van 4 Junie.





