Friday, 29 May 2009

Skraler Emma sprankel in die Laan


Sy was altyd een van die mooiste vroue in die Laan, maar toe die gewilde Bertha le Roux in die werklike lewe ma word, het sy hope gewig aangesit en gesukkel om dit af te skud.

Maar toe Emma vroeër vanjaar – nog lekker oorgewig – amper met Jan-Hendrik getrou het, het Bertha besluit: So wil ek nie in ’n trourok gesien word nie!

Dit was die begin van ’n gedaantewisseling wat die afgelope tyd 7de Laan-kykers se oë laat rek. Binne drie maande het Bertha ’n verstommende 20 kg afgeskud. Haar rokgrootte het sowaar met vier groottes gekrimp.

En kyk net hoe lyk Emma nou: skraler, verleideliker en mooier as ooit. En Bertha sê sy voel soos ’n nuwe mens. Die beste van alles is dat sy kon verslank sonder om ’n ongesonde hongerly-dieet te volg.

Sy word in internet-kletskamers met komplimente oorval. En nou gaan die rietskraal Emma kykers nog meer verras: met ’n nuwe, flambojante klerereeks en ’n bypassende persoonlikheid.

Haar nuwe klerekas is deur die nuutste Franse modes geïnspireer. Dit het alles begin nadat die 7de Laan-vervaardiger, Danie Odendaal, aan die begin van die jaar met ’n paar modetydskrifte uit Frankryk teruggekeer het.

Die uitspattige en helderkleurige style het sy oog getref, en hy het dadelik besluit dit sal perfek aan Emma se nuwe, slank lyf pas.

Die 7de Laan-garderobe-span het aan die werk gespring en in die storie is dit Felicity wat die ontwerpe moes doen – met flambojante gevolge!

Natuurlik laat die nuwe, sexy Emma die koppe draai in die Laan. Ná haar groot liefdesteleurstelling met Jan-Hendrik is daar binnekort weer ’n nuwe liefde in haar lewe, laat Bertha die aap uit die mou.

‘‘Die kykers gaan baie verras wees oor dié ontwikkelinge. Die 7de Laan-skrywers het ’n paar baie lekker stories vir die res van die jaar vir Emma.’’

Lees meer oor Bertha se diet in Huisgenoot van 4 Junie.

Leeu-kaptein ’n Tawwe Tienie


Rugbygeesdriftiges versprei graag ’n videogreep van hom in die kleedkamer voor ’n toets teen Frankryk in Februarie 2007. Hy’s die plaas-vervanger-kaptein vir die Ierse span, hy’t ’n rekverband om sy rooi borselkop, en terwyl hy soos ’n leeu in ’n hok heen en weer stap, skets hy in kleurryke taal die taak wat wag:
“Luister na my! Ek wil hê hulle moet terugstaan en dink wat de *** het hier gebeur!’’ bulder hy in ’n rasperstem.

“Nie vir die eerste vyf minute nie, vir elke *** minuut van die wedstryd . . . *** maniese aggressie . . . het jy iemand bang gespeel, het jy *** die heilige vrees by hom ingedreun?!’’

Vrees.

Of minstens ’n goeie skoot intimidasie.

Dis moontlik waarna hul afrigter, Ian McGeechan, gemik het toe die monster van Munster as die kaptein van die Britse en Ierse Leeus aangewys is.

“Monster”, selfs “gemmer-monster” – so is Paul O’Connell, die gedugte granietgesig-slot,
al genoem. Dit was ook die geval in 2004 toe hy ’n vurige wedstryd teen Engeland treffend afgesluit het met ’n duikslag op die Engelse kaptein Lawrence Dallaglio wat dwarsoor Twickenham weerklink het.

Dié ysterman wou in die 79ste minuut bo-oor die Iere hardloop om ’n nederlaag af te weer. Maar sekondes later het hy, soos ’n rugbyskrywer dit later gestel het, soos ’n garnaal op die gras gelê en spartel. Daar voor die verslae Twickenham-toeskouers, oftewel die garnaal-toebroodjie-brigade soos Brian O’Driscoll, die Ierse kaptein en superster-senter, hulle in die voorafgaande sielkun-dige oorlog genoem het.

O’Driscoll, wie se aanhangers hom graag “God” noem, sou ook die Leeus in hul rampspoedige Nieu-Seeland-toer in 2005 aanvoer, maar sy toer-ideale is toe vroeg in die openingswedstryd deur ’n boorvat verpletter.

Maar danksy sy skitterspel vanjaar, onder meer in die Sesnasies waarin Ierland vir die eerste keer sedert 1948 skoonskip gemaak het deur al vyf die ander lande te klop, was die wedloop om Leeu-leierskap toe tussen hom en O’Connell.

Suid-Afrikaanse toestande verg egter iemand soos die 29-jarige O’Connell, reken Ian, wat as afrigter ook verras het met Martin Johnson as kaptein van die Leeus wat ons in 1997 met
2-1 kom troef het.

Lees meer oor Paul in Huisgenoot van 4 Junie.

Guillaume se gay lewe verby


Hy was ’n tiener toe hy die eerste keer van sy ‘‘gemengde gevoelens’’ bewus geword het. Ja, hy het na meisies geloer, maar ook na mans . . .

Guillaume Willemse gesels op die voorstoep van sy ouers se plaashuis in Henley-on-Klip buite Vereeniging. Vir die eerste keer sedert die gewilde sanger midde-in ’n storm beland het toe ’n koerant vertel het hy was in gay verhoudings, maak hy sy hart oop.

Ma Mariekie dra tee en vrugtebrood aan en die worshonde, Sméagol en Fifi, speel om sy voete terwyl hy vertel die koerantberig was ‘‘harde woorde’’ – nie ’n saak waaroor hy maklik praat nie.

Daarom verkies die 34-jarige sanger om eerder deur middel van uittreksels uit ’n ope brief aan sy vele aanhangers sy diepste gevoelens te deel oor iets wat hy eintlik nooit as geheim beskou het nie.

Hy het die brief drie keer oorgeskryf, elke woord geweeg, want die boodskap daarin is belangrik.

Die dinge van destyds het hy nog nooit weggesteek nie, sê hy oor die poniekoerant se ‘‘onthulling’’. Mense na aan hom het geweet; hy’t nooit gevoel dis nodig om dit aan te kondig nie.

‘‘Is dit dan ’n leuen as ek niks sê nie?’’ vra hy in die brief.

Maar hy weet ook die publiek het ’n reg op die waarheid, en ná wat die koerant goedgedink het om te doen, glo hy die mens wat bevraagteken word, is verplig om die waarheid te vertel.

Gaan diegene wat altyd so lustig saamgesing het as hy op ’n verhoog losgetrek het met Da-idi, ná dese sy albums in die vullisblik gooi? Dit is wel die waagstuk.

‘‘Vandag is ek nie Guillaume die sanger nie, ek is kaal, oopgekrap tot op die been, eerlik, opreg,’’ begin sy brief.

En terwyl die woorde begin vloei, staal hy homself teen die klippe wat dalk na sy kant gaan kom. Maar hy het vrede in sy hart oor die weg wat hy gekies het.

Lees meer oor Guillaume se stryd met sy seksualiteit in Huisgenoot van 4 Junie.

Morné, Loftus se nuwe liefling


Net meer as 20 minute het verloop in die eerste helfte van die Super14-halfeind-stryd en die Bulls is reeds agter met 20-7. Die see van blou op die paviljoen por hul span luidrugtig aan, maar niks help nie.

Die skare raak ál stiller, en ’n paar stoere ondersteuners begin selfs beledigings na hul eie span slinger. Nie eens ’n pragdrie deur Akona Ndungane paai hulle nie, want die puntestand lyk steeds beroerd.

Maar dan verander die stemming binne ’n oogwink toe die generaal van Loftus Versfeld die leiding neem. Die swartkop tree ’n paar treë terug agter die losskrum, roep vir die bal, vang, skop – en dis oor!

Die skare is in vervoering, en minute later swymel hulle feitlik toe hul 24-jarige losskakel, Morné Steyn, weer so maak.

Voor die einde van die wedstryd stuur Morné nog twee skepdoele deur die pale en met vier suksesvolle skepskoppe word hy die rekordhouer vir die meeste skepdoele nog in ’n Super14-wedstryd.

En sy span steek aan en druk nog ’n drie. Die Bulls wen maklik met 36-23.

“Toe ons 20-7 agter was en ná drie of vier fases nog steeds nie deur die voordeellyn gebreek het nie, het ek besef dis tyd om te skepskop,” vertel Morné.

Maar hy was nie nog altyd ’n skopkoning nie. Dit was eers in 2003 toe hy sy Curriebeker-debuut gemaak het dat die Bulls se skopafrigter, Vlok Cilliers, hom onder hande geneem en van hom ’n formidabele skopper gemaak het, vertel hy.

Lees meer oor Suid-Afrika se nuwe skepskop-koning in Huisgenoot van 4 Junie.

Angie en Brad speel toneel in Cannes


Dit was die oomblik waarop almal op die rooi tapyt by Cannes gewag het: Hollywood se goue paartjie saam ná maande van gerugte dat die liefdesbootjie in woeste waters vaar.

En nuuskieriges by die bekende rolprentfees in die suide van Frankryk was toe nie teleurgesteld nie. Angelina Jolie het asemrowend gelyk in ’n Versace-rok met ’n spleet tot amper by haar heup, terwyl Brad Pitt elegant was in ’n aandpak.

Maar was die verenigde front wat die twee voorgehou het, genoeg om die wêreld te verseker dat hulle nog smoorverlief is?

Hulle het handjies vasgehou, liefdeswoordjies in mekaar se oor gefluister en hul arms om mekaar gesit terwyl die aanhangers gestraal en die kameras geflits het. En later by ’n partytjie het Angie styf teen haar man gesit, met haar hand wat op sy bobeen of skouer rus. Sy was heeltyd aan sy sy.

Brad het vir iemand by die partytjie gesê hy ‘‘is die gelukkigste man wat daar is. Ek is verlief en het die mooiste gesin – wat anders kan ’n ou wil hê?’’

Maar dié wat weet, sê die hele aand was ’n klug. Hul lyftaal op die rooi tapyt lyk meer soos dié van ’n paartjie wat in die moeilikheid is as van twee verliefdes, meen kenners. En die foto’s by die partytjie bewys dit volgens hulle (sien die foto’s regs onder).

Die waarheid is dat Brad (45) en Angie (33) minder as 36 uur saam in Cannes deurgebring het – en hulle kon nie gou genoeg van mekaar af wegkom toe die fees tot ’n einde kom nie.

Lees meer oor Brangelina se wankelrige verhouding in Huisgenoot van 4 Junie.

Friday, 22 May 2009

Steve se Natasha skryf ’n boek


Sy was die vrou wat een van die begeerlikste mans in die land getem het, wat Steve Hofmeyr sommer twee keer ewige trou voor die kansel laat beloof het – eers in ’n klein kapelletjie op die Maagde-eiland St. Thomas voor ’n TV-span en toe saam met vriende en familie by die huis.

Maar reeds op haar troudag het Natasha Sutherland al soos ‘‘die eensaamste mens ter wêreld’’ gevoel en gewonder wat met haar en Steve se sprokie verkeerd geloop het, vertel sy in haar boek, Bittersoet, wat binnekort verskyn.

‘‘Ons was so effens onpaar, maar wonderlik saam op ons eie manier . . . Die kloof tussen ons het wyer en wyer geraak, tot Mnr. Y (Steve) ’n rooiwarm, woedende demoon geword het en ek ’n afsydige yskoningin,’’ skryf sy.

Mnr. Y is hoe sy hom deurgaans noem. Natasha het uit die staanspoor besluit om nie Steve se naam te gebruik nie en ook skuilname vir haar vriendinne en familielede te gebruik.

Bittersoet is geen outobiografie met opspraakwekkende onthullings nie, maar ’n inspirerende boek oor die voormalige Egoli-aktrise se ervarings, gedagtes en sielereis.

Natasha vertel boeiend van haar lewe as Steve se vrou, die verbrokkeling van hul huwelik en haar lewe daarna.

Van die onthullings is:
Hoe totaal mal verlief en afhanklik sy van sy liefde was, ‘‘die man wat ek verby siel en tyd liefgehad het’’.
Hoe gelukkig hulle eers was en hoe hulle saam hul eerste huis gebou en ’n briefie as seëning in die fondamente geplant het . . . en hoe sy regtig geglo het dit is vir ewig.
Hoe frustrerend dit was omdat haar man net nie ‘‘eerlik in die spieël na homself’’ kon kyk en die patroon van ‘‘sy eie selfvernietigende gedrag’’ kon herken nie.
Hoe hul laaste vakansie saam was as gesin, en die hartseerdag toe sy en Steve die nuus van hul egskeiding aan hul seuns, Ben en Seb, soos sy hulle noem, moes oordra.
Hoe sy nuwe lesse geleer het en van die nuwe liefde in haar lewe, ’n vlieënier.

Lees in hierdie uittreksel uit die boek hoe Natasha in haar huwelik met die vraag geworstel het of sy moet bly of loop. Maar sy was versteen van vrees – vir alleenwees.

Hier vertel sy roerend hoe sy dit te bowe gekom het en die innerlike krag gevind het om te wag tot sy gereed is om weer lief te hê.

Lees ’n uittreksel uit Natasha se boek in Huisgenoot van 28 Mei.

Theuns Jordaan wys sy huis


Jy sal hom nie maklik in ’n winkelsentrum raakloop nie. Sy klere koop hy sommer in die verbygaan op ’n lughawe. Sy assistente koop sy kruideniersware, en as sy suikertand die dag die oorhand kry, sal hy vriende vra om op pad na hom toe ’n pakkie koekies by ’n winkel te koop.

Want al leef hy in die kollig, verkies Theuns Jordaan (38) ’n kluisenaarsbestaan. Hy kruip nie weg vir die wêreld nie; hy keer net binnetoe.

“Dít maak my gelukkig – wanneer ek weer soos ’n boer kan voel en drie dae lank nie my erf hoef te verlaat nie,” sê die sanger met die diep stem en die priemende blou oë wat op ’n plaas buite Venterstad in die Oos-Kaap grootgeword het.

In sulke tye hou Tyson en Tjaila, sy reuse Deense honde met hul swart-en-wit lywe so groot soos klein ponies, hom geselskap.

“Ja, ou Yster, sit ’n bietjie by my,” sê hy en karnuffel die reun liefdevol op die stoep van sy huis in Pretoria.

Tyson is die groot liefde in sy baas se lewe, en toe sy been onlangs geopereer moes word, het Theuns ’n volle R13 000 daarvoor opgedok.

Dit was bitter duur, kreun hy, maar ’n mens skud maar die beursie leeg wanneer dit by een van jou hondekinders kom. Hulle het jou immers onvoorwaardelik lief . . .

“Ek en Bok (van Blerk) is boesemvrinne, en ons praat nou die aand oor die kontraste in ’n kunstenaarslewe. Jy’s die een oomblik die middelpunt van duisend mense se aandag, maar wanneer jy by die huis kom, is jy alleen,” sê hy ingedagte.

“Die grootste uitdaging is dat jy heeltyd gekonfronteer word met ander mense se vooropgestelde idees. Ek het nie die luukse om mense te ontmoet en by ’n neutrale nulpunt te begin nie. Mense wat my nie ken nie se dunk van my lê óf by plus 20 óf by minus 20. Een ou dink dalk ek’s ’n voorbarige idoot; die ander ek’s ’n superheld. En albei is ewe verkeerd. Dis moeilik om vir mense te wys jy’s net ’n gewone mens.”

Lees meer oor Theuns se alleen-bestaan en soeke na liefde in Huisgenoot van 28 Februarie.