Thursday, 29 January 2009

Nog ’n boer verloor ’n vrou


Sal ons ooit daardie oë vol trane vergeet, die lippe wat bewe terwyl hy ná ’n prettige dag saam met tien hoopvolle meisies aankondig nie een van hulle is sy droomvrou nie . . . Dat sy hart aan iemand anders behoort?

Dis gesteel deur ’n “meisietjie” wat ook ingeskryf het, maar te besig is om op die TV-program Boer Soek ’n Vrou te verskyn, het Tiaan Naudé (34) van Cradock vertel.

Maar sy prinses het toe nie soos in ander sprokies in sy arms geval om vir ewig en altyd gelukkig daar te lewe nie . . .

Hesmari de Ridder (30), ’n skakelbeampte by ’n regsfirma in Kaapstad, is trouens steeds verbysterd oor hoe een onskuldige briefie ses maande gelede aan haar lewe kom karring het.

Noudat sy mag, sê sy reguit: “Daar was nooit ’n verhouding nie en ons was nooit ’n paartjie nie.”

Dit was vir haar glad nie ’n lekker ervaring om so in die openbare oog te wees nie, sê die blonde marathon-hardloper. Sy wens nou sy het haar voet uit die staanspoor dwars gesit en volstaan met haar onttrekking.

“Toe hulle my die eerste keer bel, het ek my disnis geskrik en besef ek is te privaat en glad nie uitgeknip hiervoor nie. Ek en Tiaan het oor die foon gepraat en ons het mekaar vlugtig ontmoet, maar ek wou nie deelneem nie.

“Toe ek my oë uitvee, het hy – sonder om dit vooraf met my te bespreek – aan die organiseerders gesê hy het klaar gekies en stel nie belang in die ander nege finaliste wat
hy uit 167 briewe van aspirant-boerinne gekies het nie.

“Hulle het besluit hy kondig dit so aan op die dag wanneer hy saam met die ander finaliste kuier en dat ek dan in ’n volgende episode saam met hom in die program verskyn.

Hesmari het toe maar ingestem en ook om vir die laaste episode saam met Tiaan en die ander paartjies die naweek saam by Clanwilliam deur te bring.

“Ek het saamgewerk,” sê sy, “maar wil nou net van die hele besigheid vergeet.”

Lees in Huisgenoot van 5 Februarie meer oor Tiaan die TV-boer se hunkering na die een wat weggekom het.

Laan se Altus raak verloof


Hulle het keer op keer na die berg in die verte gekyk en gedreig om dit die volgende oggend te gaan uitklim. Die sonsopkoms oor die Oos-Kaapse vlaktes rondom Cradock sou van daar asemrowend wees, het die verliefdes vermoed.

Maar elke keer was óf die een óf die ander op die nippertjie nie lus om ligdag uit die vere te kruip nie.
Tot die dag ná Kersfees toe Heino Schmitt (26), oftewel 7de Laan se aantreklike sakeman Altus, uiteindelik besluit: Dis nou of nooit.

Die donkerkop met die lenige lyf wou eers ’n bietjie voorbereiding doen voor hy sy meisie van vyf jaar, BeauAnn Jordaan (23), uit die bed boender om haar op haar ouers se plaas bergop te vat.

Hy het op Kersdag alleen die hang van die berg uitgeklim en op die boonste piek op ’n klip met ’n koki-pen gaan skryf: ‘‘This is how you make me feel.’’

En toe het hy die leë boksie vir die verloofring wat hy maande tevore reeds laat ontwerp en gekoop het, langs die boodskap op die klip gesit voor hy weer bergaf is . . .

‘‘Die volgende oggend het ek BeauAnn vieruur wakker gemaak en gesê ons moet klim. Ek het ’n kombers, jogurt, aarbeie en bessies in my rugsak gepak en ons het begin. Sy wou kort-kort rus, maar ek het gesê ons moet eers bo kom,’’ sê Heino.

En net toe hulle bo kom en BeauAnn die boksie op die klip gewaar en die boodskap lees, het die son sy kop bo die horison uitgesteek.

Daar’s ’n rustigheid in sy oë toe die man wat ook vlot Frans en Duits praat, na sy verloofde draai. ‘‘Daar’s ’n spreekwoord in Duits: ‘Es gibt Berge über die man hinüber muss, sonst geht der Weg nicht weiter.’ (Daar is berge wat ’n mens moet oor, anders loop die paadjie nie verder nie.)

‘‘Toe ek en BeauAnn daar op die bergspits staan, het ek vir haar gesê: ‘Dít was my berg, die berg wat ek moes klim. En nou kan die paadjie aangaan.’

Lees in Huisgenoot van 5 Februarie meer oor Heino en sy verloofde BeauAnn.

Johan Botha, SA se krieketheld


Vir iemand wat al so ’n laagtepunt soos die Oos-Kaapse draaibalbouler Johan Botha te bowe gekom het, was dit ’n ongelooflike hoogtepunt om die span te kon aanvoer wat nou ook ’n eendagreeks in die agterplaas van die wêreldkrieketreuse gewen het. En hoe het hy nie gelei nie . . .

‘‘Baie dinge was ten gunste van ons, maar ’n mens moet altyd goed speel om die Aussies te klop,’’ sê Johan uit Perth kort voor die Proteas se vyfde eendagwedstryd daar. Hy is as Graeme Smith se adjudant vir die eendagreeks aangewys nadat die Protea-kaptein ná die laaste wedstryd in die toetsreeks nie verder kon speel nie.

‘‘Almal het goed saamgespan, maar veggees was die groot ding,’’ sê Johan.

En Johan ken van aanhouer wen. In sy toetsdebuut in Sydney in Januarie 2006 is hy oor sy boul-aksie uitgewys en toe verbied om internasionale krieket te speel tot hy dit regstel. Maar hy het heelpad teruggeveg, tot sy sleutelrol nou in die Proteas se sege.

Sy terugkeer na Sydney was skouspelagtig. Hy’t die openingskolwer, Shaun Marsh, se paaltjie geneem, kaptein Ricky Ponting s’n ook, Brad Haddin van sy eie boulwerk af uitgevang, toe vir James Hopes en Nathan Hauritz uitgevang en sommer ook die wenvier gemoker. Dit alles net in die derde eendagwedstryd.

Met sewe paaltjies altesaam was hy naas Makhaya Ntini en Dale Steyn (albei agt) die topbouler in die eerste vier eendagwedstryde. Met boul-ekonomie as maatstaf was hy stellig die beste. Boonop het hy die vangskote ingeryg.

‘‘My hoof-jop as speler is om die lopietempo te beperk en so druk toe te pas. Tog is dit altyd lekker om spelers soos Ponting en Hussey uit te kry,’’ sê Johan.

Maar die eer kom die span toe: ‘‘Almal het baie hard gewerk. Hiervandaan is dit terug na Suid-Afrika vir nog ’n groot reeks. Dan begin ons weer nul-nul teen die Aussies; ’n paar van hul beseerdes kan dan fiks wees en hulle sal sterk wil terugkom. Nou moet ons nederig bly en steeds hard werk.’’

Lees in Huisgenoot van 5 Februarie meer oor die Protea-held Johan Botha se terugkeer.

Kate en Leo laat die vonke spat op die groot skerm


Dit was die fliek-romanse van die dekade, ’n liefde wat oor alle grense heen geblom het, net om in die ysige waters van die Atlantiese Oseaan te eindig. Wie het nie ’n traan gestort oor die tragiese afloop van Titanic nie?

Ons wou almal hê Jack en Rose moes saam oud word.
Geen wonder ’n nuwe fliek waarin die sterre van daardie mega-treffer van 1997 in nog ’n liefdesverhaal herenig word, het die wêreld nou gaande nie.

Kate Winslet en Leonardo DiCaprio is ’n getroude paar in die ontstellende nuwe drama Revolutionary Road, wat al benoemings vir verskeie toekennings soos die Satellite-pryse en die Oscars ingeoes het sedert dit op 23 Januarie uitgereik is.

Hulle het Hollywood behoorlik aan die gons – Kate nou ’n slanker en blonder weergawe van haar ou self en Leo, wie se seunsagtige sjarme vir ’n smeulende aantrekkingskrag plek gemaak het.

“Ek en Leo het altyd geweet ons sou weer saam werk,” sê Kate. “Ons het ’n emosionele snelskrif, ’n fisieke gemaklikheid omdat ons mekaar al so lank ken.”

Leo beaam dit: “Oor die jare het ek vir myself gesê: ‘Ek weet nie of ons dit weer moet doen nie.’ En dan het ek gedink: ‘Wat is jy, ’n idioot? Hoekom sou jy nie saam met die beste aktrise van haar geslag wou werk nie?’ ”

En die feit dat Kate se man, Sam Mendes, die regisseur is van die fliek waarin Leo en Kate twee witwarm sekstonele het, maak dinge natuurlik net nog interessanter.

Revolutionary Road gaan oor Frank en April Wheeler, twee mense wat worstel met die verlies van hul drome.

Kate sê die sekstonele wat sy en Leo voor haar man moes skiet, het haar deeglik ontsenu.

“Ek het bly sê: ‘Dit is te vreemd.’ En dan laat hoor Leo: ‘Ag, toe nou.’ En ek sê: ‘Ja, maar onthou, jy is my beste vriend. Hy is my man.’ ”

“Ek het net vir haar gesê: ‘Dit voel nie vir my vreemd nie – dis net toneelspel,’ ” sê Leo. “Dit was vir my iets heel gewoons omdat ek Titanic saam met haar gedoen het.”

Lees in Huisgenoot van 5 Februarie meer oor hoe Kate en Leo ná Titanic geskitter het.

Gina Athans vind weer geluk


In haar eina rooi rokkie met ’n brakkie in ’n ontwerpershandsak sou jy dink dis een van Hollywood se vlinder-flerries wat met swaaiende heupe in Kaapstad by ’n modelagentskap inwarrel.

Maar nee, dis ons eie topmodel Gina Athans (24), wat met ’n glinsterende glimlag soentjies en drukkies uitdeel.

Die wip in haar stap is nie toevallig nie, sê die beeldskone brunet met die wilgerlatlyfie. Dit gaan beter as ooit tevore en sy is sielsalig gelukkig.

Die vonkies in haar bokkie-oë het ook iets te doen met ’n nuwe liefde, hoor jy later, maar sy’s baie geheimsinnig oor die uitlander wat in die afgelope Kersvakansie haar hart gesteel het.

Dit is met goeie rede dat Gina lugtig is om oor haar liefdeslewe te praat. Die warrelwind-romanse wat tot haar sprokiestroue met die Jordaniese miljoenêr Eyhab Jumean gelei het, het baie hartseer geëindig toe hulle twee jaar gelede geskei is.

Sy is intussen deur diep waters. Maar vandag, moet sy net nog ’n slag sê, is sy ‘‘baie, baie gelukkig’’.

‘‘Vir die eerste keer in my lewe is ek honderd persent gelukkig. My egskeiding het my geleer as iets jou nie doodmaak nie, maak dit jou sterker.’’

Gina se eie sakebelange is baie goed op dreef, soos die motorwassery wat sy onlangs in Johannesburg begin het. Sy het pas ’n tweede woonstel in Kaapstad gekoop.

‘‘Ek is ’n entrepreneur in murg en been. Ek het ook begin klere maak, want ek kan nie meer dieselfde duur klere bekostig as toe ek ’n miljoenêrsvrou was nie.

‘‘Houtwerk is my ander nuwe stokperdjie en as ek weer sien, staan ek in ’n ysterwarewinkel. Ek skuur af en maak reg en vernis.’’

Sy is ook nou meer onafhanklik. ‘‘Ek is in beheer van my eie finansies. Ek kry raad by ’n rekenmeester en ’n prokureur,’’ sê sy.

‘‘Ek is miskien nie getroud nie, maar my lewe is wonderlik stabiel. Ek wil nie meer ’n hartseer, gebroke poppie wees nie. Dit irriteer my as mense my met handskoene hanteer en maak asof ek so broos is. Ek is ’n baie sterk vrou.’’

Lees in Huisgenoot van 5 Februarie meer oor hoe Gina weer geluk gevind het.

Friday, 23 January 2009

Gebroke harte word geheel


Ferdinand Rabie het ná sy egskeiding verlede jaar weer liefde gevind. Die wenner van die eerste Big Brother-reeks is smoorverlief op Adi Gamadi, ’n sangeres. Die twee ken mekaar al langer as agt jaar, maar die romanse het eers vlam gevat toe hulle mekaar onlangs in ’n nagklub raakgedans het.

“Ek is so verlief,” het Ferdinand gesê toe ons die twee by die L’Ormarins Queen’s Plate-wedren by die Kenilworth-renbaan in Kaapstad raakloop. Adi, ’n Israeli met ’n Suid-Afrikaanse ma, het vyf jaar in Kaapstad gewoon voor sy New York toe getrek het.

So van die liefde gepraat – die rugbyster Bryan Habana en sy verloofde, Janine Viljoen, is steeds dolverlief. “Ons is nou al ’n maand verloof en dis louter plesier,” het Bryan ingenome vertel.

Die sanger Louise Carver het dié dag haar dertigste verjaardag gevier en ook daar opgetree. “Aan al die jong vroue wat ’n bietjie verlore voel, daar’s hoop: Alles werk in jou dertigs uit!’’ het sy laat hoor en stralend na haar kêrel, die akteur Emmanuel Castis, geloer.

En hoe het hy sy meisie op haar verjaardag bederf? “Ek het vir haar pannekoek gebak en dit in die bed voorgesit.”

Seerkry is vir sissies


Selfs al was Schalk Burger se enkel in verbande toegewikkel, het dit nie die Springbok gekeer om voet in die hoek te sit by die onlangse Chevrolet Corvette Track Day op die Kyalami-renbaan in Midrand nie.

‘‘Ek het ’n klein operasie aan my enkel gehad, maar dit sal binne tien dae weer gesond wees. Vandag gaan ek resies jaag!’’ het die blonde flank uitgeroep.

Die 5FM-aanbieder Elana Afrika het haar nie deur die manne laat intimideer nie – sy’t self laat wiel toe sy agter die stuur inskuif. Sy het heeldag van oor tot oor gestraal – en ja, sy’s verlief.

‘‘Ek het die afgelope drie jaar net met mans uitgegaan wat nie Suid-Afrikaners is nie. En toe ontdek ek die beste man van almal woon in Suid-Afrika,’’ het sy opgewonde vertel. ‘‘My kêrel, Gilan Gork, ’n entrepreneur, is ’n juweel. Dit gaan baie goed met ons.”