Friday, 09 October 2009

Agter die skerms by Skouspel


Hulle noem mekaar ‘‘liefie’’, hou heeltyd hande vas en koer soos tortelduiwe vir mekaar. Theuns Jordaan en Elizma Theron is so verlief hulle kan hul oë nie van mekaar afhou nie! Die sanger met die diep stem het onlangs verklap hy’s op soek na liefde (Kluisenaar in die kollig, 28 Mei) en dit blyk Kupido het nou sy wens bewaarheid. Maar die twee wil nie ’n woord rep oor hul verhouding nie en het selfs tydens Skouspel 10 by Sun City vir ons kameras probeer wegkruip. Dit was vergeefs, want ons kon nie die kans laat verbyglip om ’n kiekie van ons nuwe gunsteling-glanspaartjie te neem nie . . .

Dunay Nortjé moes Kurt Darren se persoonlike assistent vra om deur haar verloofde se dagboek te blaai en ’n naweek te soek wanneer hulle aanstaande jaar kan afhaak. Afgesien van drie Saterdae is Kurt elke naweekdag besig! ‘‘Gelukkig het hy twee Saterdae ná mekaar in Oktober oop; dis lank genoeg om te trou en op ons wittebrood te gaan,’’ sê sy.

Kry nog agter-die-skerms-nuus in Huisgenoot van 15 Oktober. Daar is ook hope pragfoto’s van die groot konsert.

Moe Shaik, baas van ons spioene


Daar het nou ’n ‘‘sonskyn-era’’ aangebreek vir die bondgenote van pres. Jacob Zuma wat saam met hom van korrupsie verdink is, het Moe Shaik ’n paar maande gelede vol selfvertroue verklaar.

En met die aankondiging dat hy die nuwe hoof van die Suid-Afrikaanse geheime diens is, baai Moe nou behoorlik in daardie sonskyn. Tog beskou baie mense sy aanstelling as ’n donker wolk wat oor die land hang en as ’n bewys dat die berugte Shaik-broers van Durban pres. Zuma steeds stewig in die sak het. Dit lyk trouens vir hulle of hulle nou ryklik vir hul jare lange hulp beloon word.

Jacob se onbetaamlike geldelike vennootskap met Moe se broer Schabir het hom in 2005 sy pos as adjunkpresident gekos. Baie mense beskou Moe, ’n voormalige spioen van die ANC, as die meesterbrein agter Jacob se politieke oorwinning verlede jaar oor Thabo Mbeki.

Dis juis omdat Jacob bang is dieselfde lot tref hom as vir Thabo dat hy sy ou vriend en getroue luitenant as hoof van die geheime diens aangestel het, meen baie.

Jacob moes ook uit ANC-geledere kritiek daaroor aanhoor, want mense soos die ANCJeugliga se Julius Malema meen daar is klaar genoeg Indiërs in senior poste in die regering.

Maar Jacob het voet by stuk gehou en volgehou Moe is die regte man vir die werk. Die Shaik-broers is immers die president se lojaalste bondgenote en raadgewers en kom al ’n baie lang pad saam met hom.

Die Shaik-broers het in ’n arm woonbuurt in Durban grootgeword waar hul pa ’n motorwerkwinkel gehad het.

Die vier seuns was almal uitskieters – Moe, die oudste, as geheime agent in beheer van die ANC se spioenasiebedrywighede in Natal; Schabir as sakeman en later geldwasser; Shamin (beter bekend as Chippy) as meganiese ingenieur en militêre kenner en Yunis as regsgeleerde.

Lees meer oor die Shaik-broers in Huisgenoot van 15 Oktober.

Friday, 02 October 2009

Gaan Emma vir Dawid pootjie?


Van die oomblik dat Dawid Greeff Hillside met sy ontwerperskoene binnegestap het, het die poppe begin dans. Niemand was bestand teen sy vleitaal en soet woordjies nie.

Die vroue in 7de Laan het die een ná die ander voor sy sjarme geswig. Maar nou lyk dit asof hy ’n bietjie van sy eie medisyne gaan terugkry – of gaan hy dalk tog nog ’n hart wen net om dit later te vertrap?

Kykers het onlangs gesien hoe Emma Lategan sy jongste slagoffer word. Dié rooikop loop mos altyd met drome in haar oë rond oor die regte een . . . Hoe kon sy hom weerstaan toe hy alles in die stryd werp om haar hart te wen?

Dis dié dat sy die arme Herman soos ’n warm patat gelos het om liefde in Dawid se arms te vind. ‘‘Sy glo regtig Dawid is die liefde van haar lewe,’’ sê Bertha le Roux, wat Emma in die gewilde sepie op SABC2 speel.

Min weet haar karakter dis alles deel van ’n wraakplan wat Gita McGregor, die feeks in die Laan, gesmee het. Sy blameer Emma omdat haar en Tim se affair op die lappe gekom het, want Emma het dié brokkie nuus met Linda gedeel. Toe koop Gita vir Dawid met haar tjekboek om om Emma se hart te verower.

Maar die liefde het ’n manier om soos ’n wilde perd sy eie koers in te slaan en dit wil-wil nou lyk asof Dawid regtig gevoelens vir haar begin koester – maar kan hy opreg vir enige vrou omgee? Gaan hy haar aanhou om die bos lei of met die hele sak patats vorendag kom? Of gaan dié twee dalk tog op die ou end saam geluk vind?

Al wat Bertha verklap, is dat Emma en Dawid se verhouding stormagtig gaan wees, want hy is vreeslik jaloers . . .

Lees verder oor onder meer Bertha se liefdesteleurstellings in Huisgenoot van 8 Oktober.

Sanger Gerhard maak sy hart oop


In die 10 jaar sedert sy pa oorlede is, het Gerhard Steyn en sy ma nog nooit daaroor gepraat nie. Om die waarheid te sê, die aantreklike sanger het sy ma nog nooit eens gevra hoe sy pa dood is nie.

Hy kan nie en hy wíl nie. Want die herinneringe aan sy pa – en die gedagte aan sy dood – maak séér.

Dis ’n man dié wat weet hoe kompleks en broos die lewe is. Sy derde CD, die een wat pas platinumstatus behaal het, noem hy nie om dowe neute Breekbaar nie. Hoewel die hartebreker breë skouers en ’n parmantige houding het, is hy nie skaam om sy eie weerloosheid te wys nie.

En hy maak musiek om net een rede: Hy wil mense wat soos hy seergekry het, help om gesond te word.

‘‘Mense wil nie hartseerverhale lees nie; hulle wil eerder wenverhale lees. Hulle wil weet hulle kan hul eie hartseer oorleef,’’ sê die sanger wat al boekrakke vol motiveringsboeke gelees het om hom te herinner jy bepaal jou eie sukses.

Hy’s self die toonbeeld van iemand wat besluit het: Ek sál my drome bereik, selfs al lyk dit heeltemal onmoontlik.

Kyk maar na die feite: Hy’t brandarm grootgeword, maar hy besit deesdae ’n duur Jeep, ’n spogmotorfiets, ’n resiesboot en ’n stylvolle huis buite Pretoria. Hy was skaam en inkennig op skool, maar hy sing sy treffers Baby Tjoklits en Pennies en Ponde deesdae voor gehore van duisende jillende vroue wat hom almal wil hê.

Hy glo vandag hy kan dalk eendag die voorste Afrikaanse sanger in die land wees, selfs al moes hy op ’n kol as uitsmyter en toe as ’n verkoopsman by ’n sonbrilwinkel werk om die pot aan die kook te hou.

Want Gerhard (32) is iemand wat oor en oor bewys: Enigiets ís moontlik.

Leer Gerhard verder ken in Huisgenoot van 8 Oktober.

Suid-Afrika ‘hét baie talent’


Sy sitvlak het al op die verhoog vlam gevat en ’n mede-akteur het in een toneel so meegevoer geraak dat hy hom per ongeluk met ’n mes gesteek het. Rob van Vuuren sit nou nog met die letsel.

Maar dis hoeka dinge soos dié wat hom so lief maak vir sy werk, skerts die komediant-akteur wat nou weer op TV te sien is as aanbieder van die splinternuwe talentprogram SA’s Got Talent saam met die borrelende 5fm-aanbieder Anele Mdoda.

Dié talentsoekreeks is Suid-Afrika se weergawe van die werklikheidsreeks Britain’s Got Talent wat die vaal Susan Boyle van

Skotland oornag in ’n internasionale ster verander het. En hier kan ons ook regskuif vir hope aksie, want niemand anders nie as Idols se bitterbek, Randall Abrahams, is ’n beoordelaar saam met Strictly Come Dancing se Ian von Memerty en die radiopersoonlikheid Shado Twala.

En Suid-Afrika hét hope talent, sê Rob (33), ’n man wat self met The Most Amazing Show naam gemaak het en verlede jaar in Strictly Come Dancing sy slag as bobaas-danser gewys het.

Eers het Rapid Blue Productions, die vervaardiger van SA’s Got Talent en ’n maatskappy met wie Rob al voorheen gewerk het, hom gevra om ’n oudisie af te lê en toe hy weer sien, was die joppie syne, vertel die man oor dié groot pluimpie. “Hulle is ’n fantastiese span mense en ons werk so lekker saam.’’

Hy is ewe dol oor sy mede-aanbieder Anele se borrelende persoonlikheid. “Ons het mekaar al tydens Strictly Come Dancing ontmoet en sy is die ene pret. Ons het dadelik gekliek; daar is net daai natuurlike woema tussen ons.’’

Die reeks is ’n bewys van al die verskillende kulture en talente in ons land, sê hy. “Ons het saam gelag en gehuil. Ons was geskok maar ook aangenaam verras toe mense stories oor hul lewensreise vertel het. Dié reeks maak my ongelooflik trots op ons land en sy mense.’’ En vir ’n slag is dié grapjas doodernstig.

Lees meer oor Rob in Huisgenoot van 8 Oktober.

Leiersvrou wat soggens die son eet


Sy kan die moonwalk doen, het vir Tom Cruise in ’n vorige lewe geken, eet in die oggend die son vir energie en is 20 jaar gelede deur ruimtewesens ontvoer . . .

Een ding is seker: Die nuwe premiersvrou van Japan, Mijoeki Hatojama, is beslis geen muurblommetjie nie.

En die 66-jarige voormalige aktrise het die indruk van Japannese vroue as stemmig en onderdanig heeltemal op sy kop gekeer.

Tydens die land se verkiesingsveldtog het sy heel gangbare moonwalk-passies uitgevoer terwyl omstanders haar manewales op hul selfone vasgelê het.

Die land se premiersvroue was nog altyd op die agtergrond en het kinders grootgemaak, maar dié een is anders. Terwyl haar man, Joekio Hatojama (62), die land regeer, gaan Mijoeki beslis nie die rol van die besadigde premiersvroutjie speel nie.

Trouens, haar kop staan Hollywood toe. En moenie waag om dit as ’n onmoontlike droom af te maak nie.

‘‘Drome wat onverwesenlik is? Ek dink nie ek het so iets nie,’’ het sy in ’n onderhoud gesê. ‘‘Drome sal waar word as jy vas genoeg daarin glo.’’

Toe voeg sy by: ‘‘Die droom wat ek nou wil bewaarheid en glo waar sal word, is om rolprente te maak.’’

In nog ’n onderhoud het sy verklap sy het Tom Cruise in ’n vorige lewe geken. Hy was toe glo ’n Japannees. En nou wil sy opsluit ’n Hollywood-fliek saam met hom maak.

‘‘Tom Cruise sal die manlike hoofrol vertolk, want ek weet hy was ’n Japannees in ’n vorige lewe. Ek onthou ek en hy was toe saam. Ek glo hy sal verstaan as ek vir hom sou sê: ‘Ek het jou lanklaas gesien’ wanneer ons mekaar ontmoet.’’

Mijoeki wou nie meer inligting oor die storie verklap nie, maar het gesê die fliek gaan ‘‘mense se sin vir waarde drasties verander . . . ek gaan beslis ’n Oscar daarvoor kry’’.

Wonder of Tom ’n sê in die saak het?

Lees meer oor Mijoeki se eienaardighede in Huisgenoot van 8 Oktober.

Het Jen oplaas ware liefde gevind?


Wanneer sy die dag nes ’n stout skoolmeisie lyk, kan jy maar weet dis weer sulke tyd . . . Jennifer Aniston is verlief. Want kyk net hoe stralend en hoeveel gesonder lyk sy. Sy loop oor van selfvertroue, daar is ’n duidelike wip in haar stap en wanneer sy glimlag, glinster haar oë parmantig.

Maar wie is die nuwe man in haar lewe? Die skindertonge op die stel van haar jongste rolprent, The Bounty, klap oor daardie vonk tussen haar en haar sexy Skotse medester, Gerard Butler. En dis nie net goeie toneelspel nie, sê dié wat weet. Binne ’n paar weke het die ligte flirtasie tussen hulle in iets baie ernstigers ontwikkel.

’n Agie het gesien hoe hy by haar woonwa insluip. En eenmaal het stelwerkers die twee, wat die Amerikaanse skinderkoerante al klaar JenGer gedoop het, sien hande vashou. Maar hulle het mekaar se hande vinnig gelos toe hulle agterkom mense hou hulle dop.

‘‘Die verhouding is oulik,’’ sê ’n bron op die stel. ‘‘Dit lyk of hulle in die beginfase van iets baie moois is.’’

Sedert die rolprent klaar geskiet is, kontak hulle mekaar byna daagliks en was hulle al op verskeie afsprake saam uit, die laaste keer saam met vriende. Maar dit het gelyk asof hulle niemand anders raaksien nie.

‘‘Hulle het mekaar gesoen, omhels en langer as twee uur vorentoe geleun om met mekaar te gesels. Hulle het beslis soos ’n paartjie gelyk,’’ vertel iemand wat daar was.

Maar moenie dink Jen gaan bevestig daar is ’n romanse tussen haar en die silwerdoek-prikkelprins aan die broei nie – hy is die bekendste vir sy rol as koning Leonidas in die geskiedkundige aksierolprent 300. Toe ’n dapper verslaggewer haar oor die verhouding uitvra, het sy dié toegesnou: ‘‘Of ek met iemand uitgaan of nie, het niks met iemand anders uit te waai nie.’’

Tog kon sy nie die versoeking weerstaan om iets te verklap nie: ‘‘Ek sal wel sê Gerry Butler is ’n wonderlike mens. Hy is fantasties, en ja, betowerend is ’n woord wat ek ook daarby sal voeg. Maar die res is my saak. Daar’s mos niks verkeerd daarmee om mense aan die raai te hou nie, of hoe?’’

Gerry? Sy noem hom Gerry. Ha! Dit sê baie.

Lees meer oor die nuwe man in Jen se lewe in Huisgenoot van 8 Oktober.