Friday, 17 July 2009

Helen wys haar spog-blyplek


Die premier van die Wes-Kaap het ’n effens afwesige trek in haar oë toe sy ons verwelkom by Leeuwenhof, die imposante herehuis in die hartjie van Kaapstad waar sy pas ingetrek het.

Helen Zille is besig om deur stapels ou familiefoto’s te delf om te besluit wat om waar te hang in die leefkamer van haar nuwe woonplek, en haar gedagtes kuier kennelik nog ver.

Sy koer skaamteloos oor kiekies van haar twee seuns toe hulle nog klein was. ‘‘Kyk net so ’n oulike mannetjie. Tom was die sagste, troetelbaarste ou babatjie met sy goue lokkies. Nou’s hy ’n uitgevrete blok van ’n man!’’

Die trek het haar kans gegee om behoorlik bestekopname te doen, en Helen het daarop aangedring om alles self te pak. Die luuksheid en ruimte van die historiese huis is nog heeltemal oorweldigend, sê sy terwyl sy tee maak in die reuse kombuis.

Sy lig elke koppie en piering op om seker te maak sy gebruik nie die kosbaarste breekgoed nie. ‘‘Kyk net al die grênd name: Royal Doulton, Royal Albert, Wedgwood. Sjoe . . .’’

Helen en haar man, Johann Maree, en hul seun Thomas (20) het Leeuwenhof die afgelope week soos opgewonde kinders verken. ‘‘Kom kyk net hier,’’ roep sy en gaan wys vir ons ’n yskas so groot dat jy daar kan inloop. ‘‘Dis koel, nè? Ek het nog nooit so iets gesien nie. Om nie eens te praat van die hysbak nie!’’

Die leier van die Demokratiese Alliansie en die voormalige burgemeester van Kaapstad het swaar afskeid geneem van haar huis in Rosebank waar die gesin 25 jaar gewoon het.

‘‘Een week bly jy nog langs die treinspoor en die volgende week bly jy in seker die mooiste huis in Kaapstad,’’ sê sy laggend.

Lees oor Leeuwenhof se skatte en luukses (en ’n spook!) in Huisgenoot van 23 Julie.

Britney is weer aan die brand


Aand ná aand verskyn Britney op die verhoog met glansende hare, in blink leer geklee. Dan klim sy in ’n vergulde hok en die skare onder haar beur vorentoe.

‘‘Britney, Britney,’’ dreunsing hulle wanneer die beginnote van haar outobiografiese treffer, Piece of Me, begin speel.

‘‘I’m Miss American Dream since I was 17,’’ begin sy sing in daardie uitasem, amper kinderlike stem wat sy haar handelsmerk gemaak het. Sy eindig met ‘‘Do you want a piece of me? Do you want a piece of ME?’’ En die bewonderaars raak mal.

Dit is moeilik om te glo dié selfversekerde glanspop is die einste wrak wat minder as 18 maande gelede kwalik die lipbewegings saam met haar eie vooraf opgeneemde woorde kon baasraak, laat staan nog self sing, en wie se eens flink danspassies in ’n lomp verleentheid ontaard het.

Sy was opgeblaas, ongesond en sielkundig wankelrig, en mense het begin voorspel sy kan dieselfde paadjie loop as die glansmodel Anna Nicole Smith en dalk ook aan ’n oordosis dwelms sterf.

Maar kyk net hoe lyk sy nou! Haar Circus-toer word bestempel as een van die skitterendste terugkom-toere van alle tye, indien nie dié skitterendste nie.

Al die vertonings was tot dusver uitverkoop en as die laaste van die 60 konserte oor die hele Noord-Amerika einde September verby is, sal die opbrengs $100 miljoen (sowat R820 miljoen) beloop.

En die man wat ál meer aan haar sy gesien word, sal heeltyd ’n ogie oor haar hou. Hy is Jason Trawick, haar agent, en volgens die mense wat weet, is Jason die een wat sy as mnr. Britney die derde wil hê.

Lees meer oor die nuwe Britney in Huisgenoot van 23 Julie.

Friday, 10 July 2009

Kurt raak verloof


Vroegoggend volg hulle die spore van die Groot Vyf deur die lang Bosveld-gras. Haar oë is op die olifante wat in die verte deur die ruigtes stap en sy sien nie eens hoe haar blondekop kort-kort met iets in sy broeksak vroetel nie. Nog minder sien sy hoe hy en die wildbewaarder telkens betekenisvol vir mekaar loer.

Want Dunay Nortjé, die beeldskone model met ’n honneursgraad in sielkunde wat die sanger Kurt Darren se hart vyf jaar gelede met haar groen oë en kuiltjies verower het, verwag net mooi niks. Nie ’n ring nie en beslis nie ’n huweliksaanbod nie.

Sy’t twee dae tevore verjaar, en Kurt het gesê hy wil haar net ’n bietjie ter viering van haar 26ste verjaardag met ’n wegbreekvakansie by die luukse Ulusaba-wildplaas bederf.

Toe hy die oggend ná ontbyt voorstel hulle gaan stap ’n entjie, het sy haar nog ewe teëgesit, want sy’t gedink dis te gevaarlik om so tussen die grootwild te wandel. Min het sy geweet haar Baby wil haar na die perfekte plek lei om daardie gróót vraag te vra . . .

Toe die verliefde paartjie endie wildbewaarder om ’n kronkel in die pad stap, bevind hulle hul skielik by ’n groot, plat klip langs ’n watergat.

Die uitsig is asemrowend; dis doodstil in die bos. Die wildbewaarder gaan stap ’n draai, en die twee is skielik alleen.

‘‘Liefiekind, is jy lief vir my?’’ vra die sanger met die hemelsblou oë.

“Natuurlik is ek!’’ antwoord Dunay ewe liefdevol.

Kurt kyk sy Babyheart diep in die oë. ‘‘Sal jy met my trou?’’

Lees meer oor Kurt en Dunay se groot oomblik in Huisgenoot van 16 Julie.

Huisgenoot by Jackson-afskeid


Die versamelde skare snak verras na hul asem toe hulle dit sien: Michael Jackson se doodskis, glinsterend goud, bedek met rooi rose, word by die Staples-sentrum in Los Angeles ingestoot.

Dis die laaste ding wat enigeen verwag het. Die Jackson-gesin het immers vroeër vanoggend reeds ’n privaat begrafnis vir dié seun, broer en pa by die Forest Lawn-begraafplaas gehad. En Michael, het almal gedink, is nou vir ewig weg. En niemand het geglo hulle sou weer die kis sien nie.

Maar hier kom die limousines met sy gesin by die gedenkdiens aan en daar is dit – agter in ’n lykswa.

En deur die loop van die huldeblykkonsert van twee uur en 15 minute bly staan dit voor in die saal, ’n konstante, tasbare herinnering dat die Koning van Pop werklik dood is.

Dis ’n ontnugterende beeld. Tot ek die kis van so naby gesien het, was dit moeilik om te glo hy’s werklik dood. Nie eens die naweek wat ek buite sy vervalle Neverland-landgoed saam met duisende huilende aanhangers deurgebring het, het dit so werklik laat voel nie.

Ek het saam met miljoene mense met sy musiek grootgeword en hier is ek nou, besig om sy dood te betreur. Dit voel asof ek vandag ook ’n deel van my onskuld en kinderjare begrawe.

In die ure voor die diens het mense nog laaste, desperate pogings aangewend om by die gedenkdiens te probeer inkom.

‘‘Kaartjies, asseblief, asseblief. Ek smeek iemand om na my te luister. ’n Kaartjie, asseblief,’’ het Roxanna Jacinto op die hoek van Figueroastraat en Olympic Boulevard gesmeek. Sy het immers die hele pad van El Salvador in Suid-Amerika hierheen gekom. ‘‘Ek moet daar binne wees, asseblief. Ek het van kleins af na Michael se musiek geluister . . .’’

Sy hou ’n tuisgemaakte plakkaat met foto’s van haar held vas. Sy’s nie alleen nie – rondom haar staan honderde ewe desperate aanhangers op die sypaadjies waar kaartjiehouers nou verbystap op pad na die gedenkdiens.

Lees meer oor die gedenkdiens in Huisgenoot van 16 Julie.

Deon moes veg teen sy duiwels


Hy het met ’n hengse kopseer in sy huis in Johannesburg wakker geword, en eers ná 20 minute kon hy mooi begin registreer wie en waar hy nou eintlik is.

Die huis was in ’n chaos, meubels omgekeer, blompotte stukkend gegooi en daar was ’n sny oor sy neus. Hy moes by sy meisie hoor hy’t haar die vorige aand in sy woede met sy skouer gestamp.

Hulle was by ’n partytjie, die akteur Deon Coetzee was oudergewoonte smoordronk en soos gewoonlik kan hy nou niks daarvan onthou nie.

Dit was toe dat die besef hom ruk: Hy is besig om homself dood te maak. En net daar het hy besluit, dis nou genoeg.

Sedert daardie dag is hy skoon, vertel ’n dankbare Deon by ’n ghofbaan in Roodepoort waar hy nou-nou saam met sy seun gaan afslaan.

In daardie donker tyd was twee tot drie bottels drank per dag niks snaaks nie. En dwelms – hy het ‘‘die hele spektrum’’ gedoen.

Maar dié oggend nou vier jaar gelede was “die begin van die res van my lewe’’, sê hy.

Tog, al is hy nou skoon, dra hy steeds swaar aan die etiket van vroueslaner wat steeds om sy nek gehang word. Nou weer nadat die joernalis en voormalige ontkleedanseres Karin Eloff in haar biografie, Stiletto, vertel het hoe hulle verlede jaar binne daeverlief geraak het en hoe gewelddadig hul verhouding uiteindelik was.

‘‘Ek is die vark in die verhaal wat nou die houe moet vat,’’ sê hy gelate.

Intussen is hy op ’n ontdekkingsreis in sy lewe, sê hy, en heeltyd op soek na antwoorde.

Lees meer oor Deon se nuwe lewe in Huisgenoot van 16 Julie.

Witkop Wynand is witwarm


Die sny onder sy regteroog lyk nog seer, maar Wynand Olivier glimlag breed toe hy die deur van sy huis in Lynnwood, Pretoria, oopmaak.

Die blonde groenoog-senter van die Bulls en die Springbokke strek hom op sy leerbank uit. Sy boarmspiere laat sy eenvoudige T-hempie span. Die DVD’s van gisteraand lê nog rondgestrooi. Hy is heel rustig te midde van die storm wat om sy en sy Springbok-spanmaats se koppe woed.

Die span vir die laaste toets teen die Britse en Ierse Leeus het op die veld gedraf met armbande aan waarop staan ‘‘Justice 4’’ om hul ontevredenheid uit te druk oor Bakkies Botha se twee weke lange skorsing vir ’n gevaarlike duikslag. Nou is hulle by die Internasionale Rugbyraad in die sop en wag hulle om te hoor wat hul straf is.

Daar is ’n tikkie staal in sy stem toe hy sê: ‘‘Bakkies se skorsing was belaglik. Ons het as span so gedink en ons het besluit iets moet daaroor gesê word. Dit was ’n spanbesluit en ons sal as span die pak vat.’’

Maar in weerwil van dié hardekoejawel-uitsprake herinner ons hom daaraan dat die Springbokke die toets op Coca-Cola-park verloor het. ‘‘Die Leeus het vir hul eer gespeel en ek dink ons was te ontspanne,’’ sê Wynand oor die toets waarin hy ná ’n afwesigheid van 20 maande sy terugkeer tot die Springbok-span gevier het. “Op die ou end was hulle hongerder as ons om te wen.’’

Sy groen oë vonkel toe hy erken: ‘‘Daar is eerlikwaar nie baie wat ek oor die wedstryd wil onthou nie.’’ Dan voeg hy op sy ondeunde manier by: ‘‘Maar ons het die reeks gewen!’’

Wynand beantwoord nog vrae in Huisgenoot van 16 Julie.

Mej. SA opgetof vir Mej. Heelal


Oor enkele weke word die nuwe Mej. Heelal gekies, en vir dié wat al begin wonder het wat ons eie Tatum Keshwar gaan dra wanneer sy kragte meet teen die wêreld se mooistes – vandag is jul gelukkige dag!

Ons gee julle vandag ’n eksklusiewe kykie na twee van haar belangrikste uitrustings: die nasionale kostuum en die rok wat sy vir die laaste ronde van die beoordeling sal aantrek.

Dit was Reginald Molamu en Paledi Segapo van RjKay Creations se taak om die langbeen-skoonheid se nasionale kostuum te skep. Hulle het ’n hedendaagse Zoeloe-bruidsuitrusting as tema gekies.

‘‘Dis ’n gesofistikeerde, elegante en moderne weergawe van die tradisionele bruidsrok,’’ sê Reginald van die pragtige rok van R25 000. “Tatum kom van KwaZulu-Natal, dus pas die Zoeloe-tema haar perfek.’’

Die romp bestaan uit meer as 90 stroke kunsleer wat met die hand aan lae middernagblou tulle vasgewerk is en aan die onderkant met kralewerk afgerond is. Die fokuspunt is die diervelmotief-korset met ’n mantel van sy-chiffon. Vir bykomstighede het die span van RjKay landelike Zoeloe-vroue gevra om vir haar juwele, ’n isicholo (trouhoed) en ’n bruidstok van krale te maak.

Die Zoeloe-bruid-konsep was deels haar idee, sê Tatum. ‘‘Ons wou iets kreatiefs en oorspronkliks hê, maar omdat dit ’n kostuum is, moes dit ook spoggerig en teatraal wees. Boonop is die Zoeloe-kultuur internasionaal herkenbaar as Suid-Afrikaans.
As ek dit in een woord moes beskryf, sou ek sê dis koninklik.’’

Lees meer oor Tatum se uitrustings en haar wen-kanse in Huisgenoot van 16 Julie.