
In sy branderbroek, plakkies en T-hemp lyk hy meer soos ’n vakansieganger as die nuutste lid van die Protea-span. Dit is ’n snikhete dag in Johannesburg en hy haal die meeste uit sy vrye tyd in die son langs die swembad van die deftige hotel in Sandton waar die span tuis gaan.
Hy lag toe sy donkerbril die derde keer uit sy sweterige hande glip. ‘‘Dit voorspel niks goeds vir my toekoms in die span nie,’’ sê die 29-jarige speler.
Maar in die onlangse Twintig20-reeks teen Bangladesj het Johann Louw bewys hy verdien sy plek in die nasionale krieketspan.
’n Sukkelbegin in sy eerste wedstryd het uitgeloop op ’n skitterende laaste boulbeurt wat die besoekers gestuit en Suid-Afrika in die einste boulbeurt na ’n sege gevoer het.
Hy bring ook sy kant met die kolf. In die laaste wedstryd het hy 23 lopies van net nege balle aangeteken toe Suid-Afrika ’n reeksoorwinning oor die Asia-tiese span behaal het.
Vir die mediumvinnige bouler sal dit die hoogtepunt van ’n duiselingwekkende twee weke wees as hy vir die komende toer na Australië sy plek in die span kan behou.
‘‘Al wat ek kan doen, is om in die volgende paar wedstryde goed genoeg te bly speel om seker te maak my naam is in die hoed,’’ sê hy.
‘‘Ek wou nog altyd vir my land speel en selfs op my ouderdom is dit ’n groot eer om eindelik die kans te hê.’’
Sy selfoon lui – die toon is Johnny Clegg se Great Heart. Hy lag. ‘‘Ek is ’n Afrikaan,’’ sê hy.
Hy gesels gou klaar, en vervolg toe: ‘‘Daar was tye dat ek gedink het ek sou nooit vir die Proteas speel nie, maar die hoop was altyd daar.’’
En toe die Proteas se afrigter hom nader roep, het Johann eindelik sy droom begin leef.





