Thursday, 13 November 2008

Nuwe Shaun? Fantasties!


In sy branderbroek, plakkies en T-hemp lyk hy meer soos ’n vakansieganger as die nuutste lid van die Protea-span. Dit is ’n snikhete dag in Johannesburg en hy haal die meeste uit sy vrye tyd in die son langs die swembad van die deftige hotel in Sandton waar die span tuis gaan.

Hy lag toe sy donkerbril die derde keer uit sy sweterige hande glip. ‘‘Dit voorspel niks goeds vir my toekoms in die span nie,’’ sê die 29-jarige speler.

Maar in die onlangse Twintig20-reeks teen Bangladesj het Johann Louw bewys hy verdien sy plek in die nasionale krieketspan.

’n Sukkelbegin in sy eerste wedstryd het uitgeloop op ’n skitterende laaste boulbeurt wat die besoekers gestuit en Suid-Afrika in die einste boulbeurt na ’n sege gevoer het.

Hy bring ook sy kant met die kolf. In die laaste wedstryd het hy 23 lopies van net nege balle aangeteken toe Suid-Afrika ’n reeksoorwinning oor die Asia-tiese span behaal het.

Vir die mediumvinnige bouler sal dit die hoogtepunt van ’n duiselingwekkende twee weke wees as hy vir die komende toer na Australië sy plek in die span kan behou.

‘‘Al wat ek kan doen, is om in die volgende paar wedstryde goed genoeg te bly speel om seker te maak my naam is in die hoed,’’ sê hy.

‘‘Ek wou nog altyd vir my land speel en selfs op my ouderdom is dit ’n groot eer om eindelik die kans te hê.’’

Sy selfoon lui – die toon is Johnny Clegg se Great Heart. Hy lag. ‘‘Ek is ’n Afrikaan,’’ sê hy.

Hy gesels gou klaar, en vervolg toe: ‘‘Daar was tye dat ek gedink het ek sou nooit vir die Proteas speel nie, maar die hoop was altyd daar.’’

En toe die Proteas se afrigter hom nader roep, het Johann eindelik sy droom begin leef.

Ek kom, SA, ná meer as 30 jaar, sê Lionel Richie


‘‘Hallo, Haaiii-Deeeeee,’’ kom die vriendelike groet oor die telefoonlyn van doer ver uit Amerika.

Is dit hoe ’n ou klink van wie al meer as 100 miljoen CD’s verkoop is? Praat ons nou rêrig met die destydse hoofsanger van die soulgroep The Commodores? Dieselfde ou wat die liedjie We Are the World saam met Michael Jackson ge-skryf het? Baas van ’n hele spul Grammys en ander pryse?
Ja, dit is inderdaad daardie Lionel.

En Lionel Richie, die befaamde Amerikaanse liedjieskrywer en sanger, is eindelik op pad Suid-Afrika toe om vir die eerste keer in sy loopbaan van langer as dertig jaar vir ons te kom sing.

LIONEL (59) erken: Hy is dalk nog meer opgewonde as enigeen van sy aanhangers oor die komende toer van vier konserte.

‘‘Ek was veertien jaar saam met die Commodores en ons was nie EEN KEER in jul land nie,’’ sê hy. (Hy praat so in hoofletters.) ‘‘Maar nou kan ek nie wag nie. Ek sien dit as my tuiskoms – as ek dit vroeër gedoen het, was dit nie so opwindend nie. Dit is vir seker ’n hoogtepunt in my loopbaan.”

Sy liedjies is van die een generasie na die volgende oorgedra, sê hy trots. ‘‘Nou die dag in Jamaika het ’n sewejarige seuntjie vir my gesê sy geliefkoosde liedjie is Easy (Like Sunday Morning). “Daar gaan net een probleem by die konsert wees – die mense sal hom dalk nie hoor nie, spot hy. ‘‘Dit is omdat almal die liedjies so goed ken dat ek dink die gehoor sal harder as ek sing. Dis altyd die geval by die konserte en ek is DOL daaroor.’’

Sy loopbaan het in 1968 vlam gevat toe dié boorling van Tuskegee, Alabama, wat op sy dag ’n kranige tennisspeler was, hoofsanger en saxofoonspeler word van The Commodores. Liedjies soos Three Times a Lady het hierdie groep internasionaal gewild gemaak.

Lees meer oor Lionel Richie en sy komende toer na Suid-Afrika in Huisgenoot van 20 November.

Friday, 07 November 2008

Paulo van Eden trou


Oor die kansel trippel die bruidegom senuagtig saam met sy twee strooijonkers rond. Hy is nie ’n oomblik stil nie en skeer die gek met die sowat honderd gaste wat al ongeduldig op hul stoele begin rondskuif. ‘Ek gee haar nog vyf minute, dan kry ek my ry,’ spot hy en kyk op sy horlosie.

Die onweerswolke pak saam bo die spoggerige landgoed buite Pretoria. As die bruid nog ’n minuut langer talm, reën sy dalk nat.

Toe skielik hoor jy dit: die ritmiese geklop van perdehoewe op die plaveisel wat na die klein buitelugkapel lei. Paulo Azevedo (32) se voete raak stil en die grappies droog eensklaps op.

Marlene Britz (26) is meer as ’n halfuur laat, maar toe sy bruid uit die pragtige ou perdekoets klim, staar die singende bruidegom van die bekende musiekgroep Eden vasgenael na die beeld in wit wat na hom toe aangestap kom.

’n Uur voor die troue het die bruid nog heerlik saam met haar strooimeisies geklets en ’n glas vonkelwyn weggeslaan, maar toe sy die troubeloftes voorlees wat sy self geskryf het, word die oomblik vir haar te groot. Haar stem breek ’n paar keer en terwyl sy die woorde sag prewel, vee gaste trane af.

Maar Eden is nie die enigste familie aan wie die sanger deesdae dink nie. ‘Ek en Marlene is baie broeis,’ vertel hy. ‘Ons wil sommer vinnig met ’n gesin begin. Ek kan nie wag om ’n klein bambino vas te hou nie!’

In eg Portugese tradisie – Paulo se ouers is Portugees – loop Cindy Grobler, een van die strooimeisies, later met ’n versnipperde das van tafel tot tafel en ‘verkoop’ die stukkies materiaal aan die gaste. ‘Dis om vir die bruidspaar geld in te samel vir hul wittebrood,’ moedig Hugo, Paulo se broer en die seremoniemeester, die gaste aan.

Vir eers sal Marlene met ’n kort blaaskans in ’n vyfsterhotel in Mosambiek tevrede moet wees. ‘Ons kan net vir vyf dae gaan; Paulo moet terugkom vir optredes,’ vertel sy.
Maar volgende jaar neem hy sy bruid op ’n volwaardige wittebrood na ’n eilandbestemming. En wie weet, dalk keer hulle met ’n klein bambino terug . . .
- Lees nog oor die troue en die twee liefdesduifies se groot dag in Huisgenoot se uitgawe van 13 November.


Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Lianie May


Sy is vanjaar met Huisgenoot se Tempo vir die gewildste nuweling huis toe, maar Lianie May spog klaar met ’n rits prestasies wat menige gevestigde kunstenaar haar sou beny.

Soos verkope van honderdduisend albums in minder as ’n jaar. Soos ’n dagboek so propvol besprekings dat sy nie eens vanjaar haar debuut op die Skouspel-verhoog kon maak nie. En ’n tweede Tempo vir die gewildste popalbum van die jaar . . .

‘Ek kan eintlik steeds nie glo dis waar nie!’ sê die vrou wat met liedjies soos Jy Soen My Nie Meer Nie en Bel Bel Bel amper oornag een van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf geword het. ‘Dit voel soos nou die dag toe ek gesukkel het om iemand te kry wat my ’n kans sal gee. En nou kan ek nie voorbly nie!’

Tog bly sy dieselfde Vrystaatse meisie as voor haar blits-sukses. Haar naels is kort, haar blonde hare sommer in ’n poniestert vas en haar grimering net-net daar. Maar sy is ’n bondel energie en praat haar stem omtrent hees, al moet sy later die aand in Pretoria voor ’n gehoor sing.

Sy tree byna elke weekaand op en sommer twee keer oor naweke. ‘Ek vat nie grond nie. Die een dag is ek in Pretoria, die volgende dag in Mosselbaai. Die versoeke stroom net in,’’ babbel Lianie (31).

Sean Else en Johan Vorster het haar ontdek kort nadat hulle dié platemaatskappy gestig het. Die blonde aanhouer het die kans aangegryp toe Sean en Johan saam met die groep Eden op die Water-en-wielefees in haar tuisdorp, Oranjeville, kom optree het.

Sy het hulle trompop geloop en gevra of sy vir hulle kan sing. Die stilste hoekie by die fees by ’n laerskool was in die seuns se kleedkamer en daar het sy losgetrek met Bryan Adams se liedjie Heaven en een van haar eie komposisies, Ek Kom Huis Toe.

Dit was genoeg om die twee musiekmanne te oortuig hulle wil meer van haar hoor. Haar nuwe CD, Kersfees met Lianie, is op die rakke en Johan het die meeste liedjies daarop geskryf. Sy is veral dol oor die liedjie Geskenk uit Bethlehem wat hy en Sean saam geskryf het.

‘Ek dink mense gaan lekker kuier met die CD. Die liedjies het ’n lekker ritme, van hulle is nostalgies en een soos Geskenk uit Bethlehem dra die ware boodskap van Kersfees oor.’

- Lees in die jongste Huisgenoot van 13 November meer oor die man in Lianie se lewe en haar planne vir die nuwe jaar.


Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier
om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

SkouspelPlus


Hy is een van die grootste punk-rockers in die land. Dan het hy nog ’n rits sexy meisies aan sy sy wat hul lyfies so op die verhoog wikkel dat vroue groen van jaloesie raak en die manne na hul asem hyg.

En nou kan die Moederstad regmaak om Snotkop in al sy glorie te leer ken wanneer dié gewilde sanger in Maart sy Skouspel-debuut op die SkouspelPlus-verhoog maak.

‘Om vir enige Skouspel-konsert genooi te word, is amper soos om gevra te word om in die Royal Albert Hall in Londen op te tree,’ vertel Snotkop opgewonde.

SkouspelPlus – die nuwe naam vir Huisgenoot en ons sustertydskrif YOU se Kaapse Jol – gaan die GrandWest-casino op 14 Maart tot stilstand laat kom wanneer van die land se top-musiektalent hier op die splinternuwe Grand Arena toesak vir die grootste opskop van die jaar. Daar is ’n middag- en aandvertoning, om drieuur en agtuur.

Theuns Jordaan, Juanita du Plessis, Robbie Wessels, Laurika Rauch en Nicholis Louw is van die groot trekpleisters, om nie te praat nie van Brandon October, Jennifer Jones, Bobby van Jaarsveld, Karen Zoid, Eden, Broers, Jannie Moolman en Andriette Norman. Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes sal die sterre begelei.

Veral Kaapse Huisgenoot-lesers is opgewonde oor die kans om die skouspelagtige vertoning hier te beleef. Anneke Visser van Kuilsrivier was vanjaar vir die derde keer by Skouspel in Sun City, en sy en haar gesin kan nie wag om nou ook SkouspelPlus te ervaar nie. Dit is dan sommer hier in hul geweste.

‘Ons is weer daar,’ verseker sy ons. Haar kroos het vanjaar se Skouspel baie geniet en lekker saamgesing en -gedans, vertel hul ma. ‘Die kinders geniet dit altyd vreeslik baie, want daar is iets vir oud en jonk.’

Ja nee, trek sommer ’n groot rooi kring om 14 Maart op jou kalender. As jy dié jol misloop, sal jy lekker spyt wees, want die gelukkige ouens wat daar was, gaan nog lank daarna daaroor praat . . .

- Lees meer oor al die SkouspelPlus-kunstenaars en al die opwinding in die jonste uitgawe van 13 November.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Laatlammetjie vir Laan se Neville


Moeder Natuur het geweier om saam te speel toe hulle nog ’n baba wou hê. Hulle het lank gebid en alles probeer. Toe die swangerskaptoetse aanhou wys daar’s nie nog enetjie op pad nie, het hulle selfs vrugbaarheidsbehandeling ondergaan.

‘En toe dít nie werk nie, het ons maar aanvaar ons moet vergeet van nog ’n baba,’ sê die akteur Zane Meas (43), oftewel 7de Laan se gerespekteerde koerantbaas, Neville Meintjies.

Maar die lewe het gesorg vir ’n onverwagte wonderwerk, want vier jaar nadat hulle aanvaar het daar sal nie nog ’n baba wees nie, het sy vrou, Megan, vroeër vanjaar grootoog vir hom kom sê: ‘Ek dink ek is swanger . . .’

‘Ek was verstom; ek het net gesê: ‘Jy spot seker!’ En dis toe dat ek besef God het tog nog ’n kindjie vir ons,’ sê Zane en loer liefdevol na klein Micah op sy vrou se skoot.

‘Ek het gedink ons is amper klaar met skoolgeld, maar nou begin ons van voor af,’ sê hy in die groot gesinshuis met sy uitsig op die klipperige koppies van die Wes-Rand.

‘Dis lekker om weer ’n vaste salaris te verdien; ’n mens moet maar ’n bietjie beplan as daar ’n nuwe baba in die huis is,’ sê hy.


Maar sy gesin kom altyd eerste. ‘My familie is my basis, dis my alles. Ons sorg dat ons meestal Sondae saamkuier – ons gaan saam kerk toe, kook saam en gesels oor alles.’
Dis ooglopend hoe verlief hy en Megan steeds is.

‘Ons het ’n sterk band omdat ons saam swaar tye beleef het, en dit het ons nader aan mekaar gebring. Ons het respek vir mekaar. Ek sal nooit dink ek is die baas van die huis nie; ons is gelyk.’

- Lees meer in die jongste Huisgenoot van 13 November oor Zane se planne vir die toekoms, vir die mans in die land, sy debuut-CD en televisieprogram.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Lewis Hamilton laat waai


Toe Lewis Hamilton die oggend ná sy kroning as Grand Prix-kampioen wakker word, het hy ’n belofte aan homself gemaak: Dit sal altyd sy passie vir motorsport wees wat hom tot groter glorie aanspoor, en nooit ’n begeerte na roem en rykdom nie.

Kenners voorspel dié jong man, wat op ’n skrale 23 jaar die wêreld se jongste en ook die eerste swart F1-renjaer is wat die Grand Prix-kampioenskapskroon dra, gaan een van die wêreld se mees bemarkbare sportsterre word. En waarskynlik ook een van die rykstes.

Maar ná sy oorwinning op 2 November is die McLaren-jaer vasbeslote om sy voete vas op die grond te hou. Hy het beklemtoon dat geld net die ‘welkome neweproduks’ is van ’n talent wat hom tot supersterstatus verhef het.

Lewis het met sy oorwinning in die Brasiliaanse Grand Prix op dramatiese wyse net-net die titel voor die Brasiliaan Felipe Massa weggeraap en met ’n enkele punt gewen.

Wat sy sege nog merkwaardiger gemaak het, is dat hy maar sowat ’n jaar gelede aan sy eerste F1-wedren deelgeneem het. Nou het hy pas ’n bonus van meer as R46 miljoen van McLaren verdien – en dis maar ’n breukdeel van die skatte wat hy uiteindelik kan versamel.

Lewis het waarskynlik nog minstens ’n dekade oor as professionele renjaer, meer as genoeg tyd om Michael Schumacher se rekord van sewe wêreldkampioenskappe te oortref.

‘Dit het nou maar so uitgewerk dat ek betaal word vir my stokperdjie, vir dit waarvoor ek lief is, en dis lekker om my familie te kan versorg. Dis al wat eintlik saak maak, en daarom is ek gelukkig.’

Met sy historiese oorwinning was sy pa en grootste ondersteuner, Anthony, oudergewoonte langs die renbaan, en natuurlik ook sy mooi sangeres-meisie van die afgelope jaar, Nicole Scherzinger van die groep Pussycat Dolls.

‘Ek het nou ’n mooi blyplek, ’n lekker tromstel en kitare,’ sê die man met die skitterblink toekoms. My beloning is om die wêreldkampioenskap te wen. Wat kan ek meer vra?’
- Lees in Huisgenoot van 13 November meer oor Lewis se merkwaardige opgang in die vinnige wêreld van renmotors.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.