Friday, 10 October 2008

AFRIKAANS ROCK!

SUID-AFRIKA se voorste Afrikaanse sterre het op vanjaar se musiek-extravaganza duisende mense vermaak met kuns uit die boonste rakke.

Chris Chameleon en Emo Adams het in die openingskeurspel ’n vers uit Chris se verwerking van Ingrid Jonker se gedig Die Onverkrygbare gesing. Lize Beekman se liedjie, ’n Sonneblom uit Bethlehem, het die skare net voor pouse trane in die oë laat kry. Negentien kunstenaars, onder wie Laurika Rauch, Shine 4 en Charlene Truter, het dit saam met haar gesing.

Robbie Wessels is glo eintlik ’n diep seun, maar hy’t wraggies ’n talent vir lawwe danspassies en eindelose grappe. Nicholis Louw het gewys hoe ’n mens in die Superbowl moet maak, met sterre soos Kurt Darren, Ray Dylan en Eden op die agtergrond, en Nianell en Kurt het vir ’n hartroerende oomblik gesorg met die duet van sy treffer Jy’s My Engel.

Ons het bladsye vol pragtige foto's van al jou gunsteling-kunstenaars in Huisgenoot van 16 Oktober.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

AGTER DIE SKERMS

DAAR was nie net grappies en geselsies agter die skerms by vanjaar se Skouspel nie, maar ook nostalgie en ’n paar trane. Die meisies van Shine 4 het besluit om aan die einde van die jaar elk hul eie koers in te slaan en dit was hul laaste Skouspel ná sewe jaar saam. ‘‘Ons is baie emosioneel. Maar ons het elk ons eie drome en die tyd het aangebreek dat ons tot siens sê,’’ het Liesl Kriel gesê.

Die sterre se geliefdes het kort-kort kom inloer en Nianell se man, Andrew Thompson, en Juanita se geliefde Doepie was heeltyd daar.

Die arme Charlene Truter het so na haar man, Thomas Morick, verlang dat sy sommer bo-oor die tafel gespring het om haar foon betyds te gryp toe hy uit Duitsland bel.

Omtrent al die Hillsiders was daar! Freedom Hadebe en Vuyelwa Booi het ’n draai gemaak by die makietie ná Saterdagaand se vertoning – en hulle hou vol hulle is net vriende!

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Friday, 03 October 2008

DOZI: GEBROKE EN WEER ALLEEN

DIE glimlaggende vrou wat so verlief na hom staar op die vele geraamde foto’s teen die muur, is weg. Nie vir ’n paar dae nie; vir altyd. En die man wat ná hul kortstondige huwelik alleen in die huis vol herinneringe op Hartbeespoort agtergebly het, is tot in sy siel stukkend.

Hy probeer vertel hoe dit alles so onverstaanbaar skeefgeloop het, maar die woorde wil nie kom nie. Of hulle kom in ’n stortvloed, en droog dan net so skielik weer op. Dan sit hy net daar, roerloos, woordeloos, sy hande voor sy mond en sy oë vol trane, minute aaneen.

‘‘Ek weet nie wat om te sê nie, ek voel so deurmekaar,’’ sê Dozi (42). Hy lyk weerloos en verward, amper asof hy self nie verstaan hoekom sy tweede huwelik op die rotse geloop het nie.

Die sanger het die vorige dag hier op die plaas vir die 23-jarige Muriël gesê hy wil van haar skei. Sedertdien het hy nog nie weer met sy jong vrou gepraat nie.

‘‘Sy het onophoudelik gehuil,’’ vertel hy nou. ‘‘Ek kon dit nie verduur om te sien hoe sy seerkry nie. En toe, lafaard wat ek is, spring ek in die kar en jaag weg. Sy het later van die lughawe af vir my ’n SMS gestuur waarin sy vra: ‘Hoekom het jy weggery?’ ’’
Hy skud sy kop en kyk verslae na sy selfoon.

‘‘Ek het haar ouers nog nie eens gebel nie. Ek weet nie wat om vir hulle te sê nie . . .’’

Muriël het teruggetrek na haar ouerhuis in Moorreesburg, waar sy en Dozi in Junie verlede jaar voor vierhonderd gaste ewige trou aan mekaar gesweer het.

‘‘Toe sy hier weg is, het sy gesê sy is nog lief vir my. Sy wil nie skei nie. Sy glo die Here het ons bymekaargebring. Ek glo dit ook . . .’’

Sy woorde raak weg – hy is so ontsteld dat hy kort-kort desperaat na jou kyk asof hy hoop jy sal dalk die antwoorde hê waarna hy self soek.

- In Huisgenoot van 9 Oktober vertel die sanger Dozi hoekom hy en Muriël skei.

- Muriël het verkies om nie nou met die media te praat nie.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

VERLOOF – EN RASEND VERLIEF

HULLE is soos twee giggelende tieners wat vir die eerste keer verlief is. Hul oë glinster en hulle maak opgewonde mekaar se sinne klaar. Hy druk haar hare versigtig eenkant toe om iets in haar oor te fluister, sy begin dadelik giggel en toe klou hulle aan mekaar vas en skud van die lag.

So het ons Danny K en Lee-Ann Liebenberg nog nooit tevore gesien nie. En ná vyf jaar van aan en af uitgaan is vandag inderdaad anders, want Lee-Ann spog nou met ’n blink verloofring met ’n diamant van 2,3 karaat aan haar vinger. En Danny . . . wel, Danny kan nie ophou glimlag nie.

‘‘Voorheen wou ons ons verhouding vir onsself hou. Noudat ons weet ons gaan vir altyd saam wees, kan ons dit van die dakke af skree,’’ sê Lee-Ann (25), wat onlangs vir die derde keer as ons sustertydskrif YOU se sexyste vrou in Suid-Afrika aangewys is.

‘‘Mense dink ons is veel meer onstuimig as wat ons eintlik is,’’ sê Danny (31) en leun oor om aan sy verloofde se hand te vat. ‘‘Maar ons is al lank rustig. Ek kon myself net nie saam met iemand anders sien nie.

‘‘Daar is ’n sterk sielsverbintenis tussen ons. Ons was by tye uitmekaar en dit was vir ons albei hel. Dis nou al twee jaar dat ons weer bymekaar is en dis die beste en sterkste wat ons nog was.’’
Terwyl hulle nie te diep wil delf in wat hulle uitmekaargedryf het nie, stem albei saam dat dit tot die verlede behoort.

‘‘Ons gaan nie weer so kinderagtig wees nie,’’ sê die bekende model. ‘‘Ons is nie seker presies wat in die verlede verkeerd geloop het nie, maar ons is albei in nuwe loopbane en het mekaar getoets – ons is reeds deur die moeilikste tyd waardeur ’n paar kan gaan.’’

Hulle het tussendeur ook met ander mense uitgegaan.
‘‘Ons het albei die kans gehad om pad te gee. Ons hoef nie saam te gewees het nie, maar ons wou,’’ sê sy.

- Lees in Huisgenoot van 9 Oktober hoe Danny K vir Lee-Ann Liebenberg gevra het om met hom te trou.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

PRINSES VIR ’N RUGBYPRINS

DAAR is nie ’n boom om ’n skadukolletjie te gooi buite die Apostoliese Geloofsending-kerk hier in Toekomsrus in Randfontein nie, maar die skare staan bankvas. Dis ’n groot dag vir die gemeenskap en almal soek ’n glimp van die plaaslike meisie wat nou-nou hier met een van Suid-Afrika se rugbyprinse trou.

In die klein kerkie verkreukel ’n senuagtige glimlag die Springbok-skrumskakel Ricky Januarie (25) se gesig. Hy maak sy das reguit, laat sy kneukels klap en deel dan maar ’n grappie met sy strooijonkers. Walmer Linnerd, Gerrat Papier en Lorenzo Marsh, lewenslange vriende van sy tuisdorp, Hopefield aan die Weskus, is in bypassende uitrustings uitgevat.

Om die hoek by haar ouers se huis bid die bruid, Laken Gordon (20), gou ’n laaste keer. Die strooimeisies bekyk mekaar se rokke. Laken se suster, Nicole, en haar niggie, Devica Daya, maak mekaar se goue lyfbande vas. Evangeline Januarie, Ricky se suster, vee ’n kreukel uit haar bypassende groen rok.

En toe breek die oomblik aan. Met haar opgekamde hare wat met ’n silwer tiara op hul plek gehou word, lyk Laken nes die prinses wat sy nog altyd wou wees. Haar pa, Malcolm, veg teen die trane.
Laken glimlag en fluister vir haar ma, Nadia: ‘‘Ek kan nie nou huil nie. My grimering kan dit nie hanteer nie.’’

Onder die madeliefie-boog voor in die kerk wag Ricky steeds geduldig. Toe gaan die deur oop en op maat van die gesang We Bless Your Name stap Laken hom aan haar pa se arm tegemoet. Malcolm gaan sit langs sy vrou en Ricky se ouers, Frikkie en Christina, in die voorste ry.

Die bruidegom straal. Apostel James Malgas maak keel skoon en begin: ‘‘Die huwelik is moeiliker as om met ’n rugbybal te hardloop.’’

Ná sy preek neem past. Earling van Wyk oor om die plegtigheid te voltrek. Tot vermaak van die gemeente stotter Ricky ‘‘in voor- en teenspoed’’, maar eindelik bulder hy ‘‘Ja.’’

Lees meer oor Ricky en Laken se groot dag in Huisgenoot van 9 Oktober.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

SA SE SEXY SUSTER-SPAN

Hulle is mooi genoeg om skaamteloos oor te kwyl. Albei suksesvolle modelle, albei met titels vir hul skoonheid, en nou neem Kerry en Tracy McGregor saam-saam hul eerste tree ’n nuwe wêreld in – op die kassie!

Dis ’n bewolkte dag in Kaapstad, die eerste waarop die nuwe werklikheidsreeks Model Millions in ’n ateljee hier verfilm word, en almal staan lusteloos rond – tot die susters in spierwit, vloeiende rokke die ateljee ingesweef kom. Alle oë flits onmiddellik na hulle, en hoe dan anders?

Kerry is deesdae ma van ’n sewe maande oue seuntjie, Luke, maar daardie wêreldberoemde kurwes bly net so sexy soos toe sy in 2002 as die tydskrif FHM se sexyste vrou ter wêreld aangewys is. En vanjaar was dit kleinsus Tracy (24) se beurt om dieselfde titel te verower.

Kerry het onlangs haar 27ste verjaardag gevier en was ’n ruk lank uit die kollig toe sy swanger was. En as jy gedink het sy kan nie mooier nie, moet jy haar sien straal wanneer sy oor haar kleinding praat. ‘‘Om ma te wees is wonderlik,’’ sê sy. ‘‘Luke is dierbaar.’’

Luke se pa is natuurlik die Protea-krieketspeler Neil McKenzie. Die paartjie het onlangs hul eerste huweliksherdenking gevier.

Kerry het op veertien al begin model speel. Nie lank nie, of sy het as model vir die tydskrif Sports Illustrated se swemdrag-uitgawe verskyn. Toe, in 2001 op twintig jaar, word sy die gesig van Wonderbra en feitlik oornag was Kerry McGregor ’n modelsensasie.

Nie dat Tracy agter in die tou gestaan het toe skoonheid uitgedeel is nie – geen wonder sy doen ook al agt jaar lank modelwerk nie.
Sy woon in ’n noordelike voorstad van Kaapstad en is dolverlief op haar kêrel van die afgelope drie jaar, die entrepreneur Marc Buhrer.

Tracy het onlangs ’n reeks skemerrokke bekendgestel. ‘‘Bianca en Clarissa Berry van Blue Bay Clothing het my gevra om die reeks te ontwerp.’’ Sy is steeds in die wolke dat sy in haar ousus se voetspore gevolg en ook FHM se sexyste vrou geword het. ‘‘Die kompetisie het baie deure vir my oopgemaak.’’

Ongetwyfeld gaan Model Millions nog deure laat oopswaai.

- Model Millions het op 1 Oktober om 20:31 op SABC3 begin.

- Lees in Huisgenoot van 9 Oktober meer oor die sexy McGregor-susters.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

MUSIKANTE LAAT WAAI OP AARDKLOP

Kyk in Huisgenoot van 9 Oktober watter musikante almal op Aardklop opgetree het – Bobby van Jaarsveld, Sarah Theron, Kurt Darren, Juanita du Plessis, Bok van Blerk en nog vele meer!